Ontmoet die lewende Christus

Paasfees is voor die deur en duisende mense is besig om reg te maak om die “lang naweek” te gaan uitspan. Baie van hulle vra nie eens meer die vraag wat vier ons dié naweek nie?

Op die Donderdagaand voor sy kruisiging het ons Here Jesus die Nagmaal ingestel toe Hy die Joodse Pasga vir altyd verander het: van die viering van die uittog uit Egipte na die viering van die kerk se intog in die nuwe Jerusalem.

In die Nagmaal ontmoet ons die lewende Christus. Ja, wel nie in lewende lywe soos die Rooms-Katolieke kerk glo nie, maar nogtans is ons Here Jesus werklik in die Nagmaal by ons teenwoordig.

In die nag waarin Hy verraai is, het Hy brood geneem, en nadat Hy gedank het, het Hy die brood gebreek en vir sy dissipels gesê: “Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis” (1 Kor. 11:24).

Hieroor het die kerkvader, Cyrillus van Jerusalem (313-386 n.C.), geskryf dat ons die liggaam en bloed van Christus eet en drink as ons die nagmaal vier. Sy liggaam word vir ons gegee in die teken van brood en sy bloed in die teken van wyn. Deur sy liggaam en bloed op ‘n simboliese wyse binne ons te hê, word ons volwaardig lede van sy liggaam, sodat ons draers van Christus se boodskap word (Cyr. Jer. Mystagogica 4, 3-6).

Die brood bly brood en die wyn bly wyn by die nagmaal, anders as wat die Rooms Katolieke kerk glo. Hulle glo dat die brood en wyn die letterlike liggaam en bloed van Christus word deur die krag van die Heilige Gees in ‘n proses wat hulle “transsubstansiasie” noem (trans = oor; substansie = inhoud, nl. dat die brood en wyn van substansie verander in vleis en bloed). Daarteenoor kan ons verwys na ‘n soortgelyke beeld toe Christus oor Homself gepraat het in Johannes 6:35 toe Hy gesê het as ons van hierdie brood geëet het (verwysende na Hom), sal ons nooit weer honger kry nie. Jesus het tog nie daar letterlik bedoel dat die mense Hom moes eet nie – dit was ‘n figuurlike verwysing na iemand wat deel het aan Christus.

Onder die ou verbond was daar toonbrode by die altaar in die tempel. In die nuwe bedeling van Christus is Hy die brood uit die hemel en die tempel van God – waar Hy is, is God en wie by Hom is, is by God.

Ons twyfel nie tydens die viering van die Nagmaal in die letterlike teenwoordigheid van Christus in die gees nie. Deur die teken van die brood en wyn word Hy aan ons gegee om te “eet en te drink”. So word ons op sigbare wyse herinner dat ons letterlik deel het aan Hom en draers van sy Koninkryk is.

Geseënde Paasfees vir u elkeen.