Godsdienstige redes vir die bloedige vervolging van die kerk

In die vorige deel is gefokus op sosiale redes waarom die kerk deur die Romeine in die eerste eeue vervolg is. In hierdie afdeling word van die belangrikste redes genoem, naamlik die godsdienstige redes waarom die kerk deur die Romeine vervolg is.

Die Romeine se sukses in die bykans ses eeue wat hulle die wêreld regeer het , was hoofsaaklik te wyte aan hulle toleransie ten opsigte van ander godsdienste en kulture. Anders as die Assiriërs, Babiloniërs, Persiërs, en Grieke en ander wat die wêreld regeer het voor die koms van die Romeine, het die Romeine nie van hulle onderdane verwag om hulle taal, kultuur en godsdiens op te gee wanneer hulle onder Romeinse heerskappy gestel word nie.

Die Romeine het dikwels die gode van die volke wat hulle verower het, in die Romeinse panteon opgeneem, die taal erken, die kultuur vryheid gegee en die volk selfbeskikking gegee om oor huishoudelike sake te kan regeer solank dit nie die vrede van die Romeinse Ryk bedreig het nie. So bv. was die meeste van die gode van die Romeine dié wat hulle by die Grieke oorgeneem het, soms met ander name. Hierdie strategie het gelei tot baie minder konflik met die verowerde volke as wat bv. gebeur het met die verowering van die Griekse Ryk en Aleksander die Grote se helleniseringsproses. Ironies genoeg, was hierdie pluralisme (verdraagsaamheid) van die Romeinse Ryk een van die hooffaktore wat later sou aanleiding gee tot die Ryk se val.

Don Carson verwys op ‘n plek na ‘n boek van Amy Chua om aan te toon dat pluralisme wat die Romeinse Ryk as wêreldmoondheid laat opkom het, ironies genoeg, ontwikkel het in ‘n onverdraagsaamheid, wat die Ryk se ondergang beteken het. Chua kyk na ooreenkomste tussen China se Tang Dinastie, die Achaemenediese Ryk van Wes-Asië onder die eerste Persiese bewind (550-330 vC), die Romeinse Ryk, die Britse Imperialistiese Ryk en die VSA as moderne supermoondheid, om aan te toon dat die bogenoemde hipermagte se grootste rede tot sukses juis hulle pluralisme, verdraagsaamheid en diversiteit was. Hulle was almal op ‘n stadium ‘n soort “sambreelstaat” wat alles en almal kon akkommodeer. Die afname in die mag van ‘n Ryk word gekenmerk deur die staat se begeerte om meer-en-meer te beheer en gevolglik word hulle meer onverdraagsaam teenoor dié wat in hulle pad staan om dié doel te bereik. Soos die staat meer magsbehep word, word individuele stemme téén die magsbeheptheid so stilgemaak om die saak van die Ryk (staat) te bevorder, dat dit uiteindelik ontwikkel in ‘n haat teen die staat wat die saadjies plant vir die uiteindelike val van die Ryk.

Hoewel die Romeine onder hulle “sambreel-godsdiens” sekerlik ruimte kon maak vir nóg ‘n god en nóg ‘n godsdiens, was die Christene egter nie bereid om die Romeinse owerheid insae te gee in hulle godsdienstige sake nie. Die Christene was dus in die oë van die heidense Romeinse Ryk en sy onderdane, nie kosmopolities nie, maar eksklusief. Die Christene het geglo dat nie almal deel moet wees van die Christelike kerk nie, omdat dit die deur sou oopmaak vir dwaalleer en heidense gebruike om die suiwer leer van die apostels en profete te besoedel. Hierdie beskouing word deur die Ryk beskou as ‘n onverdraagsaamheid, wat nie in die Ryk geduld word nie, en veroorsaak mettertyd dat die “verdraagsame” Romeinse Ryk onverdraagsaam is teen die beskouing van die Christene.

‘n Verdere rede tot konflik was dat die Christene ingestel was op die verkondiging van die Evangelie van Christus in die openbaar wat hulle dikwels in konflik gebring het met die filosofie- en godsdienstige standpunte van die heidene .

Die Christene was sterk gekant teen die heidense geloof dat alle paaie uiteindelik na verlossing lei, ongeag deur watter god jy aanbid, en het in die openbaar gepreek dat daar slegs één Weg, Waarheid en Lewe is, naamlik Jesus Christus, die Verlosser. Om dié rede kon die Christene nie byeenkomste in die openbaar hou nie, en het hulle gewoonlik in ‘n weldoener of mede-gelowige se huis bymekaargekom en selfs in grafkelders en spelonke tydens van die swaarste vervolgings teen die einde van die eerste eeu tot vierde eeu na Christus.

Omrede die Christene nie in die openbaar vergader het, soos die Jode en die heidene nie, en die Christelike eredienste dus nie bekend was by die heidene nie, was die Christene se Godsdiens as ‘n soort mistieke Godsdiens met agterdog bejeën. Om dié rede ontwikkel daar allerhande valse gerugte oor die Christene in die samelewing, veral oor die aard van hulle byeenkomste. Die Christene se klem op broederliefde is deur die heidene vertolk as ‘n bewys dat hulle hul skuldig maak aan bloedskande, veral omdat hulle mekaar met ‘n soen gegroet het by sulke geleenthede. Die viering van Christus se kruisdood tydens die nagmaal is deur die heidene vertolk as ‘n bewys dat die Christene hulle skuldig maak aan kannibalisme want hulle eet die vlees en drink die bloed van ‘n afgestorwene!

Hierdie en vele ander redes het aanleiding gegee daartoe dat die Christene uit die samelewing gestoot is, óf vermy is, in die openbaar tot skande gemaak is en selfs doodgemaak is ter wille van die getuienis van Jesus Christus.

Die vervolging van die vroeg-Christelike kerk het veral in die eerste vier eeue na Christus voorgekom, maar dwarsdeur die eeue tot vandag toe, word Christene op verskeie maniere gespot, stilgemaak, geïgnoreer, tot skande gemaak, afgemaak as onverdraagsaam , en selfs doodgemaak ter wille van die Evangelie van die Waarheid en die belydenis: Jesus Christus, die Seun van God, is die Verlosser .

Ons moet bewus wees hoe die vroeë kerk die werklikheid van lyding en vervolging verstaan het, bely het en geleef het om sodoende die moderne kerk toe te rus vir die aanslag op die Waarheid van die Skrif wat meer-en-meer in die openbaar aanleiding gee tot lyding, vervolging en verdrukking van die Christelike geloof. Deur dit te doen, verstaan ons net net die vroeë kerk beter nie, maar verstaan ons ook die hedendaagse aanslag wat op die kerk van Christus geloods word. ‘n Eenvoudige “Google-soektog” sal honderde voorbeelde, ook in Suid-Afrika oplewer .

As ‘n hedendaagse Christen sou meen dat “martelaarskap”, of meer diplomaties gestel, “lyding en vervolging” ter wille van Christus en die Waarheid van die Bybel, ‘n historiese werklikheid was maar dat dit nie eintlik relevant is tot die vraagstukke van die dag nie, maak so iemand ‘n reuse fout of is baie naïef.

Die studie van lyding en vervolging in die geskiedenis van die kerk, help ons om hedendaagse tendense van vervolging en haat teen die kerk te identifiseer, en natuurlik bied dit ook vir ons sleutels tot die hantering van sulke vraagstukke in die hedendaagse tyd.