Die vervolging van die vroeg-Christelike kerk (Deel 2)
In deel 2 van die reeks oor die vervolging van die vroeg-Christelike kerk, wil ek graag enkele opmerkings maak oor die redes waarom die Christene sedert die ontstaan van die kerk so wreedaardig vervolg is. Daar kan talle redes gegee word. In hierdie deel word een van die redes bekyk, naamlik die Christene se sosiale stryd met die Grieks-Romeinse samelewing.
In die eerste paar jaar na die kruisiging van Christus, het die Christene veral ‘n invloed gehad op die laer klas van die Grieks-Romeinse samelewing. Die armes, siekes, uitgeworpenes en slawe was veral geneig om die bevrydende boodskap van Christus en die koninkryk van God te verwelkom.
Ons moet egter kennis neem dat die bevolkingsamestelling in die Grieks-Romeinse samelewing heelwat anders gelyk het as bv. vandag in ‘n Westerse of eerstewêreld konteks. Ons sou die omstandighede van die gemiddelde inwoner in die Grieks-Romeinse samelewing dalk eerder kon vergelyk met die gemiddelde omstandighede van ‘n inwoner in Afrika of Indië vandag.
Wedersydse goedgunstigheid (of bevoordeling van die vriende of binnekring) was die middel tot die verkryging van goedere, beskerming en werksgeleenthede. Dit was in die antieke tyd nie net essensieel nie, maar dit is van die elite verwag dat hy sy familie en vriende sou begunstig ten koste van die armes.
Lewensmiddele was in beperkte hoeveelhede beskikbaar en om dié rede het dit sin gemaak om jou te vereenselwig met die een wat aan jou noodsaaklike lewensmiddele kon voorsien. In die antieke Mediterreense kultuur was die mark ‘n alledaagse plek waar mense gunste en gawes geruil het, vriendekringe versterk het en in die openbaar hulle groepsverbande bevestig het en dié wat buite die groep was, is daar bespreek, sleggesê en buite die groep beskou. Wat die mens nie by die mark kon vind nie, moes hy of sy op ‘n ander manier vind. Gewoonlik was daar in die omgewing een of ander persoon (weldoener) wat die middele in die hande kon kry, maar teen ‘n prys. Alle mense het dus weldoeners nodig gehad wat kon voorsien in die natuurlike behoeftes van die gesin.
Dit is nodig om die sosiale samestelling van die antieke Mediterreense kultuur te verstaan om sodoende die sosiale posisie van die armes in hierdie samelewing te verstaan. In die figuur hieronder word die sosiale samestelling van die antieke Mediterreense kultuur grafies uitgedruk:
Aan die bokant van hierdie piramiede is die adellikes (dit is die die monarg, aristokratiese families, leiers). Hulle is die rykes, wat sowat 2% van die samelewing uitgemaak het. Hulle het ‘n sogenaamde “instandhoudingsklas” in diens gehad (dit is die belastinggaarders, polisie, weermag, priesters, en skrywers). Hierdie groep was verantwoordelik vir die instandhouding van die samelewingsverbande. Hulle het sowat 7% van die samelewing uitgemaak. Die res was werkendes waarvan die meerderheid armlastig was.
Die werkersklas is hulle wat die samelewing van voedsel en lewensmiddele voorsien het, en was daarom nodig. Hulle het eer gehad omdat hulle ‘n diens verrig het. Die elite het egter neergesien op die “werkende armes”, maar albei het neergesien op die “bedelende armes”.
As eer simbolies gesetel is in die rykdom van ‘n familie, word armoede gesetel in die verlies aan rykdom, hetsy die verlies van grond, familie of besittings of selfs aanvaarding en lei tot verwerping uit die groep. Die laer klas (armes, slawe, nie-burgers) kon gewoonlik nie deelneem aan die Romeinse feeste en openbare byeenkomste van die stad nie. Om dié rede het veral arm mense en slawe die weeklikse byeenkomste van die Christene en die liefdesmaaltye gesien as ‘n geleentheid om aanvaar te word sonder dat daar gediskrimineer word op grond van hulle sosiale status. Ons weet uit voorbeelde uit die Nuwe Testament dat die beskouing oor die sosiale status van die klasse in die gemeentes soms aanleiding gegee het tot verskille in die gemeente en dat geleerdheid ook soms aanleiding gegee het tot hoogmoed in die gemeente maar dit blyk eerder die uitsondering as die reël te wees.
Wanneer iemand na die Christendom bekeer het, was dit ‘n noodwendige gevolg dat hierdie mense alles verloor het wat vir die Mediterreense mens saak gemaak het: familie, besittings en vriende. In die oë van die samelewing was hierdie mense gevolglik in armoede gehul en verdien hulle nie eer nie. Die verlies aan besittings en ondersteuningsgroepe, soos die familie en vriendekring, het beteken dat die Christene afhanklik geword het van die hulp wat die groep kan bied. Dit was nie eervol om afhanklik te wees nie.
Jesus het self met sy volgelinge gepraat oor die sosiale gevolge verbonde daaraan om Hom te volg. Hy het daarop gewys dat families verdeel gaan word as gevolg van mense se lojaliteit aan Hom.
Twee gedeeltes staan duidelik uit oor die sosiale implikasie van dissipelskap, naamlik Lukas 12:22-32 (Matteus 5:24-34) en Lukas 12:33-34 (Matteus 6:19-21). Matteus 6:25-34 handel pertinent oor die verlies aan rykdom en die verband met eer. Jesus leer dat die gelowige nie bekommerd moet wees oor wat hy eet en wat hy aantrek nie. Hierdie opmerking van Jesus handel tipies oor die skeiding van geslagte in die Mediterreense samelewing: ‘n manlike wêreld (publieke wêreld) en ‘n vroulike wêreld (huislike wêreld). Die verwysing na die persoon wat bekommerd is oor wat hy gaan eet, is gemik op die manne: terwyl hy in die veld werk, sien hy die voëls plant nie, en hulle oes nie, maar daar word vir hulle gesorg. Die voorsiening van kos was tipies die man se bekommernis. Die alternatief wat Jesus stel is die bekommernis van die vrou: oor wat haar huismense sal aantrek. Klerevoorsiening was die taak van die huisvrou. Wanneer sy na die velde kyk, sien sy nie die oeste van die voëltjies nie, maar dit wat sy nodig het om materiaal te weef: die lelies spin nie, maar hulle is geklee met die prag wat selfs Salomo se rykdom oortref. Jesus handel met ‘n voorbeeld uit die man se wêreld en ‘n voorbeeld uit die vrou se wêreld oor bekommernisse wat hulle te wagte kan wees as hulle Hom volg: rykdom en eer.
In Lukas 12 word die verband tussen die verlies aan eiendom en dissipelskap geskets. Dit gaan in vers 13 primêr oor ‘n persoon wat onterf word as gevolg van hul botsende waardes ten opsigte van die groep en die gevolglike konflik (vers 15). Dit skets ‘n scenario waar die gelowige ‘n behoefte aan kos en klere sal hê.
Jesus verwys hiperbolies na rykdom, omdat die wêreld waarin die mense van sy tyd was, nie regtig rykdom geken het nie, veral as gevolg van die swaar belastings. Maar daar kan in dié verband opgemerk word dat iemand se besittings, hoe skraal dit ook kon voorkom sy “rykdom” was. Jesus wys die Mediterreense mens egter daarop dat hulle fokus nie moet wees op die dinge wat al die ander mense as waardevol ag nie (die skatte op die aarde), maar op die dinge wat ewigheidswaarde het (die skatte in die hemel).
Om ‘n Christen te wees in ‘n heidense wêreld waar die aanbidding van die gode beskou word as die lewensaar tussen oorlewing en dood, het wrange gevolge gehad. Op sy makste het die vervolging sigbaar geword in verlies aan status, eer, werk, besittings, grond, en familie. Vir die meeste burgers in die Grieks-Romeinse samelewing was dit nie so maklik om alles prys te gee ter wille van die navolging van Christus nie, omdat daar van hulle verwag is om deel te neem aan die feeste van die afgode en veral die verering van die keiser. Teen die middel van die eerste eeu was selfs deelname aan sport- en teatergeleenthede as offergeleenthede aan die gode en/of die keisers beskou waarby gewone burgers betrokke moes wees.
Die Christene kon hulle glad nie met hierdie heidense feeste vereenselwig nie en was bereid om eerder self in die sirkus te sterf as om deel te neem aan dié God-onterende praktyk. Daar is egter nie aanduidings dat die Christene openbare weerstand gebied het teen die feeste nie, maar daar is genoeg bewyse in die vroeg-Christelike geskrifte dat die Christene nie daaraan deelgeneem het nie. Oraloor het die Christene hul afkeur in die Romeinse feeste bekend gemaak en geweier om dit by te woon. Veral die Romeinse sirkusse, wat ten doel gehad het om die werklose massas besig te hou dat hulle nie tyd sou hê om planne te maak om teen die keiser in opstand te kom nie is deur die Christene verafsku. Hier het gladiatore teen wilde diere geveg en is slawe in hul honderde om die lewe gebring tot vermaak van die gillende skare. ‘n Karnaval-atmosfeer het by hierdie sirkusgeleenthede geheers.
Die gevolg van die weiering van die Christene om ten volle deel te neem aan die heidense praktyke van die Romeinse samelewing, het hulle mettertyd sosiaal so drasties geïsoleer van die res van die gemeenskap, dat dit dikwels die woede van die heidense samelewing oor hulle gebring het. Veral die keiser, as beskermheer van die waardes en norme van die samelewing, was verantwoordelik om seker te maak die Christene voldoen aan die vereistes van die Ryk om die pax Romana (vrede van die Romeinse ryk) te verseker. Al kos dit openbare bloedvergieting om ‘n voorbeeld te maak van hulle wat nie wou buig nie…