Die dood van liberale multikulturalisme

Steve Turley in studio.pngDr. Steve Turley, Amerikaanse konserwatiewe kommentator en professor aan Eastern University, Pennsylvania het gister in sy nuutste video kommentaar gelewer oor die grondonteiening sonder vergoeding fiasko in Suid-Afrika wat elkeen gerus kan kyk.

Die ironie van die hele debakel volgens Turley is dat president Donald Trump deur die liberales afgemaak word as ‘n leuenaar omdat hy gevra het dat daar ondersoek gedoen moet word oor die situasie in Suid-Afrika rondom onteiening van grond en die moord op blanke boere, maar dat die liberales self erken dat onteiening sonder vergoeding toegepas moet word. Hieroor word Trump geroskam dat hy “wit meerderwaardigheid” verkondig.

Volgens Turley sou die redenasie van die liberale media daarop neerkom dat Trump ‘n rassis is omdat hy teen rassisme is?! Dit teken vir Turley die dood van liberale multikulturalisme omdat hulle opgehou het om liberaal (vry) te wees en omdat hulle liberale wêreldbeskouing reeds gesterf het. Hulle het dit self doodgemaak! Tans kom liberales se retoriek presies neer op dit waarvan hulle die konserwatiewes beskuldig: dat hulle vryheid van spraak vernietig en aanvoer dit is noodsaaklik om demokrasie te beskerm.

Turley se kommentaar lewer ‘n perspektief op die Suid-Afrikaanse Orwellianisme wat vernietig met die verskoning dat dit bou.

Lees gerus weer George Orwell se “Animal Farm” as jy dit op skool laas gelees het, en as jy nog nie het nie, waar was jy al die tyd? Jy kan die boek hier kry by Amazon of die DVD by Takealot. Laat jou kinders dit lees of skenk dit as sinvolle verjaarsdaggeskenke. Het ons al vergeet van die bekende waarskuwing van Orwell van wat gebeur as sosialisme oorneem: All animals are equal, but some are more equal than others?

Kyk gerus Turley se kommentaar hier: https://youtu.be/zrJByfuPcZQ

Afrikaanse Bybel vandag 85 jaar gelede in gebruik geneem

Ons lees vandag die Bybel in Afrikaans. So ‘n vertaling het nie sommer oornag ontstaan nie. Die “dringende behoefte aan ‘n Bybel in Afrikaans” is reeds in 1872 in ‘n artikel deur Arnolus Pannevis bepleit. Op 27 Augustus 1933 is die eerste amptelike vertaling van die Bybel in Afrikaans in gebruik geneem tydens ‘n feestelike geleentheid in Bloemfontein.  Vandag 85 jaar gelede!

En vandag is daar steeds werk aan Bybelvertalings in Afrikaans nodig. Die vertaling van die Bybel is ’n deurlopende taak van die kerk. Dit sal altyd tot by die wederkoms so wees dat die Bybel vertaal word. Alle tale verander met verloop van tyd. Daarom is dit nodig dat die Bybel voortdurend vertaal word. Ons kennis van die Bybelse tale verbeter en dit gee ons nuwe insigte in die verstaan van die Bybel. Bybelvertalings is nie volmaak nie, omdat dit mense is wat die vertaalwerk doen, en daarom is daar altyd moontlikhede om iets wat vertaal is beter te vertaal.

Ons is dankbaar dat die Vader dit so beskik het dat ons vandag 85 jaar van Bybelvertaling in Afrikaans kan vier en hoop dat die Bybel in Afrikaans nog deur die geslagte wat kom gelees en waardeer sal kan word.

Watter adres is in jou sak vandag?

In Hand. 9:11 kry Ananías ‘n ondenkbare opdrag: “Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na ‘n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid.”

‘n Doodgewone Christen kry ‘n adres in sy sak: nie sommer enige adres nie – die adres van die groot vyand, die vervolger van die kerk wat verantwoordelik is vir soveel van Ananías se mede-gelowiges wat geboeid gesleep is na Jerusalem om tereg te staan op aanklag dat hulle volgelinge van Jesus is.

Maar het jy al ooit daaraan gedink dat dit juis God se manier van werk is? ‘n Moses wat sukkel om te praat, ‘n Gideon wat in die parskuip gaan wegkruip as die Here hom roep, en Ananías – ‘n gewone dissipel in Damaskus van wie ons nie weer hoor in die Bybel nie? Die Kerk hoef nie te bestaan uit baie magtiges, edeles en vernames om ‘n verskil te maak nie. Die Kerk bestaan vir die grootste gedeelte uit Ananiasse.

Toe hy die naam “Paulus” hoor, het hy dadelik geweet wie en wat hierdie man is — hoedat hy die gemeente vervolg het.

Is Ananías se gewilligheid nie ‘n aanklag teen so baie Christene vandag nie? Hulle leef totaal uit voeling met hul kerk as geheel. Hulle lees nie hulle kerklike tydskrifte nie en woon nie die erdienste by nie. Hulle is vreemdelinge wat praat van “julle” as hulle van die Kerk praat in plaas van “ons”. Hulle het toeskouers geword wat nie meer gestuur kan word nie omdat hulle doof geword het en sodoende onbruikbaar geword het.

Maar Ananías het ‘n adres in sy sak – een waaroor ek en jy sou bewe as dit ons was.

Watter adres is vandag in jou sak? Dink bietjie na waarheen stuur die Here jou hierdie week? Dalk daardie besoek wat jy lankal moes doen? Of die een wat jy weet in nood is maar jy het net opgesien om te gaan? Dalk ‘n Saulus wat onverskillig is en moet hoor: die Here het my na jou gestuur?

Die vervolging van Christene onder Nero (64nC)

Skildery van Nero deur Filippo Brunelleschi.

In die vorige deel in die reeks oor die vervolging van die vroeg-Christelike kerk is gefokus op godsdienstige redes waarom die Romeine die kerk vervolg het.

In die volgende paar dele gaan ek kortliks fokus op die hoogtepunte (laagtepunte?) van die vervolging in die eerste eeue onder verskillende keisers. Dit laat ons weer besef hoe belangrik dit is dat die kerk na die geskiedenis kyk om te leer met die oog op die toekoms.

Die geskiedenis loop altyd siklies: wat was sal wees, en daar is niks nuuts onder die son nie.

In dié opsig gee die  kennis oor die vroeg-Christelike kerk se hantering van vervolging vir ons ‘n belangrike sleutel vir die hantering van konfliksituasies en moeilike vraagstukke in die hedendaagse samelewing en kerk.

Continue reading

Jan van Riebeeck toe nie ‘n skurk nie!

Op 6 April herdenk ons die koms van Jan van Riebeeck in Suid-Afrika, toe hy op dié dag in 1652 voet aan wal gesit het aan die Kaap van Goeie Hoop met die skepe Drommedaris, Reyger en De Goede Hoop.

Continue reading