Een van die groot strydvrae van ons tyd handel oor identiteit. Die vraag van ons tyd het geword: “Wie is ek?” en “Wat dink ander van my, of my kultuur, of my taal, of my voorkeure” ens.? Hierdie soeke na identiteit raak elke aspek van die menslike bestaan, maar veral die vraag na manlikheid en vroulikheid. Wat beteken dit om ’n vrou te wees? Is vroulikheid iets wat deur God gegee word, of iets wat deur die individu gekies en self gevorm word?
Vir eeue was die Christelike antwoord relatief eenvoudig. Die mens is deur God geskape as man en vrou (Gen. 1:27), en hierdie onderskeid vorm deel van die skeppingsorde. In die afgelope eeu het hierdie eenvoudige Bybelse antwoord egter toenemend onder druk gekom deur die invloed van verskillende vorme van feminisme. Die gevolg is dat baie vroue vandag onseker is oor hul identiteit, hul roeping en hul plek in die wêreld.
Postmodernisme is ’n manier van dink wat die moderne Westerse kultuur diep beïnvloed het. Die kern daarvan is die verwerping van vaste waarheid sodat alles met die kombers van “wat is waarheid?” toegemaak word. In die plek van waarheid word vloeibaarheid voorgestel. Volgens postmoderne denke bestaan daar nie ’n universele waarheid wat vir almal geld nie. Waarheid word eerder beskou as iets wat deur gemeenskappe, kulture of individue geskep word. Daar is dan volgens hierdie houding “jou waarheid”, “my waarheid” en “die waarheid”.
Hierdie uitgangspunt het onvermydelik die gesprek oor geslagtelikheid beïnvloed. Indien daar geen objektiewe waarheid bestaan nie, kan daar ook geen objektiewe definisie van vroulikheid wees nie. Vroulikheid word dan iets wat elke individu self mag definieer. Die Franse filosoof, Simone de Beauvoir, het in die twintigste eeu geskryf: “One is not born, but rather becomes, a woman.” Hierdie beskouing is die grondslag vir baie moderne geslagsteorieë. Die implikasie is dat biologie nie identiteit bepaal nie. Geslag word gesien as ’n sosiale konstruksie eerder as ’n skeppingswerklikheid. Hierdie denke het uiteindelik gelei tot die hedendaagse onderskeid tussen “biologiese geslag” en “gender-identiteit”. Volgens hierdie beskouing kan ’n persoon se innerlike selfbeskouing belangriker wees as sy of haar biologiese werklikheid. Die Bybel gaan egter vanuit ’n totaal ander vertrekpunt uit. Die Skrif begin nie by menslike selfdefinisie nie, maar by Goddelike openbaring. Die mens ontdek nie sy identiteit deur na binne te kyk nie, maar deur na sy Skepper te luister.
Dit is belangrik om te erken dat nie alle vorme van feminisme dieselfde is nie. Die eerste golf van feminisme het opgestaan vir vroue se beskerming teen misbruik, vir toegang tot opleiding en vir billike behandeling in die samelewing. Baie Christene sou kon saamstem dat hierdie doelwitte ooreenstem met die Bybelse waarheid dat mans en vroue beide na die beeld van God geskape is. Latere feministiese bewegings het egter verder gegaan. Die fokus het verskuif van gelyke waardigheid na die verwerping van rolonderskeiding. Wat vroeër as komplementêre verskille beskou is, word nou dikwels as vorme van onderdrukking geïnterpreteer. Die gevolg is dat vroulikheid self verdag geword het. Moederskap word soms as ’n beperking op persoonlike ontwikkeling gesien. Versorging word soms as ’n teken van afhanklikheid of slawerny uitgebeeld. Onderdanigheid word dikwels verstaan as onderdrukking. Verskille tussen mans en vroue word beskou as kulturele stereotipes wat afgebreek moet word. Ironies genoeg het hierdie benadering nie noodwendig groter vryheid gebring nie. Baie vroue beleef vandag ’n nuwe vorm van druk. Hulle moet gelyktydig suksesvol wees in hul loopbane, finansieel onafhanklik wees, perfekte moeders wees, emosioneel sterk wees en voortdurend hulself bewys. Die resultaat is dikwels uitputting eerder as bevryding.
Die Bybel herstel die gesprek deur terug te keer na die skepping. In Genesis 1:27 lees ons: “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” Die eerste waarheid wat ons hier leer, is dat vroulikheid nie ’n menslike uitvinding is nie. Dit is ’n Goddelike skeppingsgawe. Die tweede waarheid is dat vroulikheid nie minderwaardigheid impliseer nie. Beide man en vrou is na die beeld van God geskape. Beide ontvang die skeppingsmandaat. Beide word deur Christus verlos. Beide erf die ewige lewe. Die Bybel leer dus gelykwaardigheid sonder gelykvormigheid.
Dit is juis die moderne wêreld se probleem. Hulle sukkel om die verskil tussen onderskeid en gelykwaardigheid te verstaan. Die Bybel doen dit egter voortdurend. Die Vader is nie die Seun nie. Die Seun is nie die Heilige Gees nie. Tog is hulle volkome gelyk in een Wese. So is mans en vroue nie identies nie, maar hulle is volkome gelykwaardig voor God.
Een van die opvallendste kenmerke van Bybelse vroulikheid is die vermoë om verhoudings te bou en te onderhou. Genesis 2 beskryf die vrou as die helper wat by die man pas. Die fokus val onmiddellik op die mens wat as ‘n verhoudingswese geskep is. Ons is nie gemaak om alleen te wees nie. Waar sonde hierdie gawe verdraai, ontstaan manipulasie, bitterheid, jaloesie en konflik. Waar genade hierdie gawe herstel, ontstaan warmte, gasvryheid, bemoediging en gemeenskap. Daarom beskryf Spreuke 31 ’n vrou wie se hele huishouding floreer onder haar invloed. Die Skrif verbind vroulikheid dikwels met versorging. Nie elke vrou trou of kry kinders nie. Tog bly die versorgende ingesteldheid deel van haar skeppingsgawe.
Die moderne wêreld aanbid die mens se uiterlike voorkoms. Terselfdertyd probeer hulle alle onderskeid tussen manlikheid en vroulikheid uitwis. Die Bybel leer dat ware skoonheid by die hart begin. Dit beteken nie dat die uiterlike totaal onbelangrik is nie. Dit beteken wel dat die uiterlike nooit die kern van ‘n mens se identiteit mag word nie. Die mooiste vrou in God se oë is die vrou wat Hom vrees.
Party vroue probeer hul waarde bewys deur prestasie.
Ander deur voorkoms.
Ander deur mag.
Ander deur onafhanklikheid.
Die evangelie bevry vroue van hierdie slawerny. In Christus hoef ’n vrou nie haar identiteit te verdien nie. Sy ontvang dit. Sy is reeds ’n dogter van God. Sy hoef nie met mans te kompeteer om waarde te hê nie. Sy hoef nie haar vroulikheid te ontken om betekenis te hê nie. Sy hoef nie die wêreld se definisies van sukses na te jaag om belangrik te wees nie. Haar identiteit rus in Christus.
Daarom bied die Bybel ’n bevrydende visie op vroulikheid. Dit roep vroue nie om minderwaardig te wees nie, maar om te wees wat God hulle geskep het om te wees. Wanneer die evangelie vroulikheid herstel, word vroue nie minder nie, maar voller. Hulle leef dan nie volgens die veranderlike ideologieë van elke nuwe geslag nie, maar volgens die vaste en goeie ontwerp van die Skepper wat hulle gemaak het en wat Hy deur Christus verlos het.
Discover more from Tuis by gdssmit.com
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
