In ‘n krip, maar nie in ‘n stal nie

Ek het groot geword met die idee dat huise in die tyd van die Nuwe Testament ‘n onderste vlak in die huis of ‘n kamer gehad het waar die diere aangehou was. Ek het later in my studies besef dat dit nie so was nie. Dit sou binne die konsep van reinheid in die antieke wêreld totaal onaanvaarbaar wees en dit sou ook baie onhigiënies gewees het. Nou hoe moet ons dan die geboorte van Jesus in die stal in Bethlehem verstaan?

Hierdie vraag laat ons teruggaan na Lukas 2 en wat ons vanuit die argeologie weet.

Ons ken die Kersfees-voorstelling goed, met Josef en Maria wat by ‘n hotel aankom, die onvriendelike herbergier sê vir hulle dat daar nie plek is nie, en oorvertellings gee die indruk dat hulle soort van weggejaag is, en dan kom hulle in ‘n stal vol diere wat die enigste plek vir die nag was.

Lukas gee vir ons hierdie ekstra inligting. Hy sê in Lukas 2:6-7 dat terwyl hulle in Bethlehem was, Maria haar Eersteling gebaar het en Hom in ‘n krip (Grieks –  phatnē =  voerbak) neergelê het, omdat daar vir hulle geen plek (Grieks – topos) in die herberg was nie. Die woord “stal” kom nie in een van die weergawes van die Evangelies of in die Afrikaanse vertalings voor nie.

Vir baie jare was die mees gewilde verklaring, onder andere deur Kenneth Bailey (in: The Manger and the Inn: The Cultural Background of Luke 2:7), dat die krip binne-in ‘n huis was. Die idee was dat die diere snags binne-in die huis gehou is vir warmte en veiligheid in ‘n vertrek wat as onderste vloer gebruik was. Met verdere nalees word dit duidelik dat hierdie prentjie nie by Bethlehem in die eerste eeu n.C. pas nie. .

In Judea, veral in die tyd van Jesus, was rituele reinheid alles. Die Fariseërs en gewone vroom Jode het baie streng oor reinheid (Heb: tahor & tame) gewaak. ‘n Huis met mis, urine en dierehare in die leefvertrek sou as onrein en hoogs onhigiënies beskou word. Joodse huise in daardie tyd, wat ons in Jerusalem en ander dele vanuit die opgrawings kry, het juis mikva’ot of rituele baddens gehad en ‘n duidelike skeiding tussen mense en diere. Dit sou ondenkbaar wees vir ‘n Joodse familie om te kook, eet en slaap waar ‘n donkie en skaap slaap.

Foto geneem deur GDS Smit in Israel, 2019

In die heuwelagtige gebied van Bethlehem is huise nie op ‘n plat vlakte gebou nie. Hulle is teen of selfs binne die kalksteenhange gebou, met natuurlike grotte wat deel van die huis was. Daardie grotte is as stoorplek, werkswinkel en as skuiling vir diere gebruik. Die mense het nie die diere in hulle kombuis ingebring nie, hulle het dit in die grot langs die huis of naby die huis aangehou. Gewoonlik was hierdie huis een ommuurde kompleks, maar nie heeltemal deel van die leefarea nie. Argeoloë soos Yizhar Hirschfeld (In: The Palestinian Dwelling in the Roman-Byzantine Period) wys dat baie huise uit die Romeins-Bisantynse tyd sulke uitgekapte krippe in grotte en in binnehowe gehad het. Die voerbak of krip was dan ook in hierdie buite-vertrek.

Dit pas ook by die oudste Christelike tradisie. Reeds rondom 150 n.C. skryf Justinus die Martelaar dat Jesus in ‘n grot naby Betlehem gebore is. Origenes bevestig dieselfde. In Betlehem is sulke grotte volop, soos die foto wat ek tydens ‘n Israeltoer geneem het, wys.

Justinus die Martelaar – ca. 155-161 n.C.

In Dialoog met Trypho, Hoofstuk 78, staan:

“In Betlehem, aangesien Josef geen blyplek in daardie dorpie kon kry nie, het hy sy intrek geneem in ‘n sekere grot naby die dorpie; en terwyl hulle daar was, het Maria die Christus gebaar en Hom in ‘n voerbak neergelê, en hier het die Wyses uit Arabië Hom gevind.”

Origenes – ca. 247-248 n.C.

In Contra Celsum, Boek I, Hoofstuk 51, staan:

“In ooreenstemming met die verhaal in die Evangelie oor Sy geboorte, word daar in Betlehem die grot uitgewys waar Hy gebore is, en die krip in die grot waar Hy in doeke toegedraai is. En hierdie skouspel word wyd vertel in die omliggende plekke, selfs onder die vyande van die geloof, dat in hierdie grot daardie Jesus gebore is wat deur die Christene aanbid en vereer word.”

Foto geneem deur GDS Smit in Bethlehem in Israel, 2019

In die boek Lukas kry ons twee verskillende woorde vir “herberg”. In Lukas 10:34, in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, word pandocheion gebruik. Dit was ‘n kommersiële herberg met ‘n eienaar. In Lukas 2:7 en in Lukas 22:11 vind ons die woord kataluma. Dit beteken gastekamer, die bovertrek van ‘n gewone huis.

Josef was uit die nageslag van Dawid en hy het na sy familie-dorp gekom. Op hierdie stadium was Bethlehem nog steeds “die stad van Dawid” genoem. Dit is uiters onwaarskynlik dat die Jode van daardie tyd, wat baie gasvry was, nie vir hulle plek sou maak nie. Wat ons dus moet aflei is dat daar nie meer plek (topos) was in die bo-vertrek van die familie se huis nie, aangesien die gastekamer bo reeds beset was, miskien deur ander familie wat ook vir die sensus gekom het. Gevolglik moes hulle die buite deel van die huis in die aangrensende grot of binnehof wat aan dieselfde huis behoort het, oornag.

Hy is dus op ‘n nederige, afgesonderde plek gebore, maar nie in die veld nie. Dit was waarskynlik ook aangebied omdat Maria hoog swanger was en dit stiller en meer privaat was as ‘n stampvol gastekamer.

Maak dit enigsins saak? Dit verander tog die verstaan van die gebeure by Kersfees. Ons kry dikwels die idee dat Christus se geboorte skandelik was. Dit blyk wel die teenoorgestelde: God het gesorg dat sy Seun binne ‘n familie gebore word, en deel van die verbondsgesin van Josef en Maria en hulle familie opgeneem word. Dit was wel eenvoudig, maar waarskynlik nie so onrein of onhigiënies soos soms voorgestel word nie. En dit bring ons by die kern van wat ek hierdeur wil wys: familie is vir God belangrik. God wil nie hê ons moet alleen wees nie. Daarom word Jesus in die familie se teenwoordigheid gebore, al sou dit nie direk binne-in die huis wees nie. Dit is die verbondslyn wat ons dwarsdeur die Bybel kry, en dit sou nie anders gewees het met Jesus se geboorte nie.


Discover more from Tuis by gdssmit.com

Subscribe to get the latest posts sent to your email.