Indien iemand belangstel, hier is my nuutste akademiese stuk oor die Martelaarskap van Perpetua en Felicitas op Academia.edu (Neem kennis: dit is in Engels). Ek plaas dit hier indien daar leraars of studente is wat dit wil lees.
![]()
Opsomming:
Die Passio Perpetuae et Felicitatis (die Martelaarskap van Perpetua en Felicitas) is ’n belangrike teks binne die vroeg-Christelike martelaarsliteratuur. Akademici het dit reeds uitgelig as ’n werk wat historiese konteks, literêre vorm, geslagsdinamiek, teologiese simboliek en ekklesiologiese betekenis het. Dit speel af binne die sosio-politieke milieu van Kartago in die tweede-derde eeu na Christus.
Hierdie studie ondersoek hoe die martelaarskap van Perpetua en Felicitas die Romeinse gesag uitgedaag het en terselfdertyd die Christelike identiteit bevestig het. Perpetua se visioene, tesame met die teks se simboliek, metafore en sakramentele motiewe, toon dat die Passio beide ’n getuienis van geloof te midde van vervolging was en ’n vroeg-Christelike teologiese werk met eskatologiese en ekklesiologiese diepte.
Moderne patristiese navorsing beklemtoon dikwels kwessies oor geslag, status en die rol van vroulike stemme in die kerk. Perpetua se outobiografiese bydrae tot die teks self en haar visioene word daarom dikwels geïnterpreteer deur die bril van feministiese, Montanistiese en martelaarsteologiese raamwerke, hoewel nie altyd vanuit ’n Protestantse hoek nie.
Hierdie studie oorweeg hierdie benaderings vanuit ’n Protestantse perspektief, wat die betekenis van die teks bevestig maar terselfdertyd waarsku teen interpretasies wat dit losmaak van sy leerstellige en buite-Bybelse grondslag.

Wanneer die geskiedenis van die kerk onder die vergrootglas geplaas word, word dit gou duidelik dat die lydenspad dikwels oor die weg van gelowiges kom. Die apostels en die leiers van die vroeë kerk moes daagliks die kruis opneem, letterlik en figuurlik. Een so ’n merkwaardige figuur is Polukarpus van Smirna – ’n apostoliese vader, leerling van die apostel Johannes, en ’n martelaar wie se getuienis tot vandag toe in die kerk weerklink. In hierdie artikel bespreek ek die martelaarskap van Polukarpus, soos opgeteken in die brief van die gemeente van Smirna, om dit weer aan die kerk van die 21ste eeu voor te hou as voorbeeld van getrouheid te midde van verdrukking.

Vir baie jare al is die martelaarskap, vervolging en lyding in die vroeg-Christelike kerk ‘n tema waaroor ek baie opgelees het, geskryf, gepreek en in kursusse aangebied het.