Lyding deur die bril van die vroeë kerk

Vir baie jare al is die martelaarskap, vervolging en lyding in die vroeg-Christelike kerk ‘n tema waaroor ek baie opgelees het, geskryf, gepreek en in kursusse aangebied het.

Ek het besluit om ‘n reeks te plaas oor dié tema om met ander te deel hoe relevant hierdie tema vandag nog is, en op watter wyses hierdie gevaar steeds ‘n bedreiging vir die sigbare kerk inhou.

Ekonomies, polities, sosiaal en maatskaplik het die vervolging van die kerk in die eerste eeue na Christus ‘n invloed gehad op die wêreldgeskiedenis. Om dié rede is dit belangrik dat Christene op hoogte is hoe hierdie geskiedenis ‘n rol gespeel het in ons manier van dink, maar ook in die wyse hoe die res van die wêreld dink. Niemand leef in ‘n vakuum nie. Dit is nodig dat ons besef: soos die vervolging van die kerk in die eerste eeue ‘n aanloop en ‘n gevolg gehad het, so word die kerk vandag nog met uitdagings gekonfronteer. Hoe sou die vroeg-Christelike kerk bv. die huidige ISIS bedreiging hanteer het? Of die huidige vlugtelinge-vraagstuk wat wêreldwyd voorkom? Of bv. die bedreiging van Noord-Korea se kernkrag planne? Nader aan die huis: hoe sou die vroeg-Christelike kerk die politieke vraagstukke in Suid-Afrika geantwoord het? Wat sou hulle sê oor die kwessie van grondonteiening? Hierdie, en nog vele meer, bied ons ‘n perspektief op die verstaan van die Bybel wat ons verleer (verloor?) het omdat ons generasie se mense na die wêreld kyk deur die bril van die post-modernisme.

In die volgende reeks artikels, wat ek begin met die titel: Die vervolging van die vroeg-Christelike kerk (33 n.C. tot 392 n.C.), beplan ek om ‘n blik te gee oor die era van die vervolging van die kerk waaroor daar nie vandag veel geskryf, gepraat en gedink word nie. Hierdie era het ‘n prominente invloed gehad op die manier hoe die wêreld lyk. In die bespreking van die eerste fase (33-392 n.C.) sal ek onder andere verwys na die ekonomiese-, sosiale- en godsdienstige invloede wat aanleiding gegee het tot, en ook ‘n rol gespeel het tydens die era van die groot vervolging in die eerste vier eeue.

Meer hieroor later…