Inleiding tot die boek Eksodus
Stel jou voor: dit is laat nag in Egipte. Dit is pikdonker en die straatjies is stil. In elke Israelitiese huis brand ‘n klein olielampie. Die reuk van gebraaide lamsvleis en ongesuurde roosterkoeke hang in die lug. Teen elke deurkosyn is bloed gesmeer met ‘n hisoptak. Almal eet haastig, met hulle skoene aan die voete, en ‘n staf in die hand. Hulle weet nie presies wat aan die kom is nie, maar dit was God se opdrag aan hulle deur Moses en daarom eet hulle vir die eerste maal die Pasga. Hulle weet iets groot is aan die gebeur. Hierdie aand sal hulle lewens vir altyd verdeel in die tyd voor die uittog en die tyd na die uittog uit Egipte.
Waar Genesis die wêreld van die aartsvaders skets: die sondeval, die eerste moord, die nomadiese lewe, die sluit van verbonde, die belofte van ‘n nageslag en die betekenis van ‘n naam, neem Eksodus ons na iets fundamenteel anders. God werk nie meer slegs met individue of enkele families nie, maar is besig met die geboorte van ‘n volk.
In Eksodus is dit die HERE (JHWH) self wat met sy volk praat, nie alleen oor hoe hulle moet glo nie, maar in hoe hulle moet leef: hoe hulle eet, wanneer hulle moet rus, hoe hulle moet aanbid, en hoe hulle reg moet laat geskied aan mekaar en aan die armes en vreemdelinge.
Die lewenswyse van die aartsvaders word nou vervang deur ‘n gemeenskapslewe wat deur God self voorgeskryf word. En die belangrikste boodskap van Eksodus is oor die aard van God se verlossing: God red nie sodat mense as individue kan leef nie. Hy red sodat hulle binne sy verbond saam met ander voor sy aangesig kan lewe.
God se Naam: EK IS
Voordat enige gebruik in Eksodus ter sprake kom, gebeur iets van wesenlike belang: God openbaar sy Naam aan Moses en aan sy volk. By die brandende bos in Eksodus 3 ontmoet Moses die God van sy vaders. Wanneer Moses vra wie hom gestuur het, antwoord God met ‘n Naam wat dwarsdeur die Ou Testament gebruik sou word: “EK IS WAT EK IS”, in Hebreeus, Ehyeh asher Ehyeh. En dan sê Hy: “Dit is my Naam vir ewig, en dit is My gedenknaam van geslag tot geslag” (Eksodus 3:14–15).
In die antieke Nabye Ooste was iemand se naam ‘n teken van sy karakter. ’n Naam het aan almal vertel wie jy is en wat hulle van jou kan verwag. Gode in die omringende kulture het name gehad wat hulle domein beskryf het: die songod, die stormgod, die vrugbaarheidsgodinne. Maar Israel se God maak Homself bekend met ‘n werkwoord: “Ek Is” (Ehyeh). Dit verwys na sy absolute, onafhanklike bestaan. Hy is die Een wat nie afhanklik is van ruimte of tyd of seisoene nie. Hy is die ewige, soewereine God.
Die naam JHWH (Hy is) is die derde persoon enkelvoud van Ehyeh (Ek is). Wanneer Moses die groot “Ek is” aan die volk bekendstel, doen hy dit deur na Hom te verwys as “Hy is” (Jahwe).
Vir die volk Israel het die gebruik van die Naam van God groot betekenis gekry. Die Naam was heilig; so heilig dat dit later nie eens hardop uitgespreek sou word nie. Die derde gebod verbied die gebruik van God se Naam op ‘n sinnelose of lighartige manier (Eksodus 20:7). Die Naam dra soveel gewig omdat die Naam die Persoon verteenwoordig. Om die Naam te misbruik, is om God self te minag. Uit eerbied vir sy Naam en om te voorkom dat hulle die Naam ydellik gebruik, het die Israeliete na die terugkeer uit die ballingskap God se verbondsnaam weergegee met Adonai (my Here).
Later sou Jahwe in die Griekse vertaling van die Ou Testament weergegee word met die Griekse vorm van HEER (Adonai), naamlik KURIOS, wat tans ook in Afrikaanse Bybelvertalings vertaal word met 4 eerbiedwaardige hoofletters: HERE. Die gebruik van die verbondsnaam HERE in Bybelvertalings wil erkenning gee aan die 4 hoofletters van die Naam JHWH, saam met die vertaalde vorm van die Griekse KURIOS (HERE). Dit word die verbondsnaam waarmee God Homself aan Israel bind. God sê deur sy Naam in effek: “Ek wil deur julle geken word. Ek gee julle my Naam”.
| En God sê vir Moses: Ek is wat Ek is. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: Ek is het my na julle gestuur. Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die Here, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag. Eksodus 3:14–15 |
God het Homself laat ken. En dít is die fondament van ons geloof. Ons aanbid nie ‘n onbekende mag of krag nie, maar ‘n God wat Homself deur sy Naam bekend gemaak het, en wat deur sy volk geken kan word.
| Die openbaring van God se Naam is die mees wesenlike daad in Eksodus. Alle ander gebruike en gewoontes, soos die Pasga, die instelling van die Sabbat, die bou van die Tabernakel, ens., is antwoorde op hierdie een openbaring: die God met die Naam “EK IS”, is hier teenwoordig. |
