Die herdenking van die 1700ste jaar sedert die Konsilie van Nicéa (325 n.C.), het vanjaar verskeie geleenthede gebied om die kern van die Christelike geloof weer te oordink en te bely.
Hierdie referaat, wat ek aangebied het tydens die Gereformeerde Konvent van die Koinonia-Sinode op 25–26 September 2025, ondersoek die historiese- en teologiese betekenis van Nicéa en vra watter implikasies dit vir die kerk van vandag inhou? Dit ondersoek ook die faktore wat aanleiding gegee het tot die Skrifkritiek, wat die Skrif en die waarheid van die belydenisse van die kerk bevraagteken.

In ’n wêreld waar geloofsoortuigings al hoe meer benader word asof dit afhang van die mening van die meerderheid, is dit noodsaaklik om as Christene duidelik te formuleer waarom geloof in die letterlike bestaan van die hemel ’n fundamentele waarheid in die Bybelse leer is. Die Bybel bied ’n perspektief op die hemel as ’n werklike plek, wat voorberei word deur Christus self, waar gelowiges in ewige gemeenskap met God sal verkeer. Hierdie waarheid is nie opsioneel vir die geloof nie, want dit anker die eskatologiese verwagting, morele lewe, en troos van die kerk deur die eeue heen in die belydenis van wat die Bybel daaroor leer.