Van Adam tot Advent

Hierdie video volg die Bybelse lyn van Adam tot Advent. Dit wys hoe Genesis nie net ’n skeppingsverhaal is nie, maar Israel se herdefinisie van menswaardigheid en identiteit. Deur die Hebreeuse teks en die wêreld van antieke Egipte te verstaan, sien ons die betekenis van die die mens wat in God se beeld geskape is, hoe daardie beeld geskend is, en hoe God se antwoord nie wraak nie, maar genade is. Advent word hier verstaan as die voortsetting van daardie verhaal: God wat self kom soek, herstel en herskep in Christus, die laaste Adam.

Geseënde Christusfees!

Die herkoms en betekenis van Advent

Advent word aan die einde van die jaar, gewoonlik die laaste 4 weke voor Kersfees gevier. Maar in die kerklike ritme, is dit die begin van die kerkjaar. Van Kersfees af, volg ons die aardse bediening van Christus tot Paasfees waar ons die Lydensweg, dood, opstanding en hemelvaart van Christus herdenk.

Hierdie artikel handel oor die herkoms en betekenis van Advent.

Lees meer…

Wat sê die Bybel oor die wegraping?

Die leer van die wegraping soos dit in baie populêre charismatiese- en dispensasionele kringe verstaan word, naamlik dat Christus geheimsinnig kom om die gelowiges van die aarde weg te neem (weg te raap) voor of tydens ’n toekomstige groot verdrukking, is nie ’n suiwer Bybelse of gereformeerde beskouing nie. Dit berus eerder op ’n spesifieke eskatologiese raamwerk wat eers in die 19de eeu na vore gekom het deur John Nelson Darby en later populêr geword het deur die Scofield Reference Bible.

Lees meer…

Hemelvaartdag

Hemelvaartdag is die Christelike feesdag wat herdenk dat Christus na sy dood, begrafnis en opstanding sigbaar en liggaamlik na die hemel opgevaar het. Hemelvaartdag word deur baie kerke gevier en dit vind plaas op die Donderdag 40 dae na Paasfees. Hemelvaartdag word ook die fees van hemelvaart genoem.
Die vertelling van Jesus se hemelvaart word in Lukas 24:49, Markus 16:19 en Handelinge 1:3 en 9 gevind.

Lees ons hierdie gebeure bymekaar, vind ons dat Jesus na sy opstanding verskeie kere aan sy dissipels en ander verskyn het. Gedurende hierdie tyd het Hy verder met hulle gepraat oor die koninkryk van God en die koms van die Heilige Gees, waarvoor hulle moes wag (Handelinge 1:2-9). Na 40 dae is Hy in die hemel opgeneem (Handelinge 1:9-11). Terwyl die dissipels Hom gesien het (wat beteken dat Hy sigbaar opgeneem is), het twee engele verskyn en aan hulle verklaar dat Jesus net soos Hy opgevaar het, in heerlikheid sou terugkeer (vandaar die kerk se verwagting van die wederkoms). Die woord “wederkoms” kom nie in die Griekse Nuwe Testament voor nie. Die woord wat gebruik word in die Nuwe Testament word vertaal met “sigbaarwording”. Dit staan op die kerk se belydenis dat Christus nie “weg” is en “weer” moet kom, soos ‘n koning wat sy land aan adjudante oorlaat nie, maar dat Hy self deur sy Gees by die kerk en in die wêreld teenwoordig is, al kan ons Hom nie sien nie, en dat daar ‘n tyd sal kom wanneer Hy sigbaar aan die wêreld sal verskyn.

Volgens een van die vroeë kerkvaders, Augustinus van Hippo, het die viering van hemelvaart reeds in die tyd van die apostels (eerste eeu na Christus) ontstaan. Dit mag dalk een van die oudste feeste wees wat die kerk het? Presies wanneer die kerk die fees begin vier het, is nie seker nie, maar daar is aanduidings dat dit reeds in 68 n.C. herdenk was deur die vroeë kerk. Die eerste skriftelike rekord wat ons het van die viering van hemelvaart, vind ons in die tyd van keiser Konstantyn in die vierde eeu.

Hemelvaart is ‘n herinnering aan die Koninkryk van God wat by ons is en dat ons nie alleen agtergelaat is nie – God is by ons deur sy Gees. Dit herinner aan die mag van Christus. Om aan die regterhand van God te sit, soos ons belydenis verklaar, beteken dat Hy ‘n ereposisie by God ingeneem het, soos belangrike mense in die ou tyd aan die regterkant van ‘n koning of gasheer plek ingeneem het. Ons bely deur die hemelvaart dat dié wat in Christus glo, ook eendag in die hemel saam met Hom sal wees.