Vryheid is ’n woord wat maklik gebruik word, maar selde konsekwent deurdink word. In politieke en ekonomiese gesprekke word vryheid dikwels gereduseer tot stemreg of gelykheid voor die grondwet. Tog wys die geskiedenis, en die Bybel nog meer, dat ware vryheid onlosmaaklik verbind is aan verantwoordelikheid, selfstandigheid en orde. Waar hierdie dinge verdwyn, volg afhanklikheid, en waar afhanklikheid wortelskiet, verdwyn ‘n mens se vryheid.
Kom ons praat oor welsyn.

Wanneer Christene sê dat “Jesus die Christus” is, maak hulle ’n openbare, politieke verklaring. Hulle maak ‘n verklaring wat die magstrukture van die wêreld direk uitdaag. Die evangelie is nié ’n a-politiese boodskap nie. As ons sê dat alle gesag aan Christus onderwerp is, sê ons indirek dat alle aardse magte aan Hom onderwerp is. Dit beteken dat géén aardse mag vir altyd sal hou nie en dat alle regerings sal verbygaan. Dit is dus ’n politieke aankondiging wat alle aardse gesag onder Christus se heerskappy plaas.