Het ons ‘n Roomse Bybel?

Ek kry gereeld die vraag of die Bybel soos ons dit vandag ken, dieselfde een is as wat die vroeg-Christelike kerk gebruik het en of die vroeë kerkvaders dieselfde Kanon geken het as ons?

Daar word veral agterdog veroorsaak omdat die naam van keiser Konstantyn verbind word met die Bybel se aanvaarding. Dan Brown se Da Vinci Code en Baigent & Leigh se Holy Blood, Holy Grail skets Konstantyn as iemand wat die kerk misbruik het om politieke doelwitte te bereik. Hulle beweer dat hy die Sinode van Nicéa in 325 na Christus byeen geroep het onder valse voorwendsels, sodat ons vandag ‘n weergawe van Konstantyn se Bybel het, en nie die een wat in die vroeg-Christelike kerk voor die vierde eeu in gebruik was nie.

In hierdie artikel bespreek ek die vraag of ons ‘n Roomse Bybel het? Lees meer…

Hemelvaartdag

Hemelvaartdag is die Christelike feesdag wat herdenk dat Christus na sy dood, begrafnis en opstanding sigbaar en liggaamlik na die hemel opgevaar het. Hemelvaartdag word deur baie kerke gevier en dit vind plaas op die Donderdag 40 dae na Paasfees. Hemelvaartdag word ook die fees van hemelvaart genoem.
Die vertelling van Jesus se hemelvaart word in Lukas 24:49, Markus 16:19 en Handelinge 1:3 en 9 gevind.

Lees ons hierdie gebeure bymekaar, vind ons dat Jesus na sy opstanding verskeie kere aan sy dissipels en ander verskyn het. Gedurende hierdie tyd het Hy verder met hulle gepraat oor die koninkryk van God en die koms van die Heilige Gees, waarvoor hulle moes wag (Handelinge 1:2-9). Na 40 dae is Hy in die hemel opgeneem (Handelinge 1:9-11). Terwyl die dissipels Hom gesien het (wat beteken dat Hy sigbaar opgeneem is), het twee engele verskyn en aan hulle verklaar dat Jesus net soos Hy opgevaar het, in heerlikheid sou terugkeer (vandaar die kerk se verwagting van die wederkoms). Die woord “wederkoms” kom nie in die Griekse Nuwe Testament voor nie. Die woord wat gebruik word in die Nuwe Testament word vertaal met “sigbaarwording”. Dit staan op die kerk se belydenis dat Christus nie “weg” is en “weer” moet kom, soos ‘n koning wat sy land aan adjudante oorlaat nie, maar dat Hy self deur sy Gees by die kerk en in die wêreld teenwoordig is, al kan ons Hom nie sien nie, en dat daar ‘n tyd sal kom wanneer Hy sigbaar aan die wêreld sal verskyn.

Volgens een van die vroeë kerkvaders, Augustinus van Hippo, het die viering van hemelvaart reeds in die tyd van die apostels (eerste eeu na Christus) ontstaan. Dit mag dalk een van die oudste feeste wees wat die kerk het? Presies wanneer die kerk die fees begin vier het, is nie seker nie, maar daar is aanduidings dat dit reeds in 68 n.C. herdenk was deur die vroeë kerk. Die eerste skriftelike rekord wat ons het van die viering van hemelvaart, vind ons in die tyd van keiser Konstantyn in die vierde eeu.

Hemelvaart is ‘n herinnering aan die Koninkryk van God wat by ons is en dat ons nie alleen agtergelaat is nie – God is by ons deur sy Gees. Dit herinner aan die mag van Christus. Om aan die regterhand van God te sit, soos ons belydenis verklaar, beteken dat Hy ‘n ereposisie by God ingeneem het, soos belangrike mense in die ou tyd aan die regterkant van ‘n koning of gasheer plek ingeneem het. Ons bely deur die hemelvaart dat dié wat in Christus glo, ook eendag in die hemel saam met Hom sal wees.