Hemelvaart – Die verheerliking van Christus en die roeping van die Kerk

AscensionWanneer Christene die Hemelvaart van Jesus Christus vier, dink ons aan die triomfantelike oorwinning van die Seun van God wat na die hemel gegaan het om vir ons plek te berei. Hierdie gebeure, soos opgeteken in Handelinge 1, is ’n sleutelgebeurtenis wat die hele Christelike lewe, ons hoop op die toekoms en ons verstaan van sending vorm.

Die Hemelvaart openbaar die verheerliking van Christus. Die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 49 vat dit mooi saam:

Vraag 49: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is (a). Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as ‘n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem (b). Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur (c) deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie (d).

(a)1 Joh 2:1; Rom 8:34. (b) Joh 14:2; 17:24; 20:17 2:6. (c) Joh 14:16; 16:7; Hand 2:33; 2 Kor 1:22; 5:5 (d) Kol 3:1.

Hy wat voorheen verwerp is, verneder is, gekruisig is, het opgestaan as oorwinnaar en neem sy plek in aan die regterhand van die Vader. Hierdie simboliek, om te sit aan die regterhand van die Vader, is ‘n uitdrukking om Christus se koninklikheid te beklemtoon. Hy is nie beperk tot tyd en plek nie; Hy heers oor alle dinge (Efesiërs 1:20–23).

Continue reading

Hemelvaartdag

Hemelvaartdag is die Christelike feesdag wat herdenk dat Christus na sy dood, begrafnis en opstanding sigbaar en liggaamlik na die hemel opgevaar het. Hemelvaartdag word deur baie kerke gevier en dit vind plaas op die Donderdag 40 dae na Paasfees. Hemelvaartdag word ook die fees van hemelvaart genoem.
Die vertelling van Jesus se hemelvaart word in Lukas 24:49, Markus 16:19 en Handelinge 1:3 en 9 gevind.

Lees ons hierdie gebeure bymekaar, vind ons dat Jesus na sy opstanding verskeie kere aan sy dissipels en ander verskyn het. Gedurende hierdie tyd het Hy verder met hulle gepraat oor die koninkryk van God en die koms van die Heilige Gees, waarvoor hulle moes wag (Handelinge 1:2-9). Na 40 dae is Hy in die hemel opgeneem (Handelinge 1:9-11). Terwyl die dissipels Hom gesien het (wat beteken dat Hy sigbaar opgeneem is), het twee engele verskyn en aan hulle verklaar dat Jesus net soos Hy opgevaar het, in heerlikheid sou terugkeer (vandaar die kerk se verwagting van die wederkoms). Die woord “wederkoms” kom nie in die Griekse Nuwe Testament voor nie. Die woord wat gebruik word in die Nuwe Testament word vertaal met “sigbaarwording”. Dit staan op die kerk se belydenis dat Christus nie “weg” is en “weer” moet kom, soos ‘n koning wat sy land aan adjudante oorlaat nie, maar dat Hy self deur sy Gees by die kerk en in die wêreld teenwoordig is, al kan ons Hom nie sien nie, en dat daar ‘n tyd sal kom wanneer Hy sigbaar aan die wêreld sal verskyn.

Volgens een van die vroeë kerkvaders, Augustinus van Hippo, het die viering van hemelvaart reeds in die tyd van die apostels (eerste eeu na Christus) ontstaan. Dit mag dalk een van die oudste feeste wees wat die kerk het? Presies wanneer die kerk die fees begin vier het, is nie seker nie, maar daar is aanduidings dat dit reeds in 68 n.C. herdenk was deur die vroeë kerk. Die eerste skriftelike rekord wat ons het van die viering van hemelvaart, vind ons in die tyd van keiser Konstantyn in die vierde eeu.

Hemelvaart is ‘n herinnering aan die Koninkryk van God wat by ons is en dat ons nie alleen agtergelaat is nie – God is by ons deur sy Gees. Dit herinner aan die mag van Christus. Om aan die regterhand van God te sit, soos ons belydenis verklaar, beteken dat Hy ‘n ereposisie by God ingeneem het, soos belangrike mense in die ou tyd aan die regterkant van ‘n koning of gasheer plek ingeneem het. Ons bely deur die hemelvaart dat dié wat in Christus glo, ook eendag in die hemel saam met Hom sal wees.