Ester se verhaal staan soos ’n vlam van hoop in ‘n donker, ongehoorsame wêreld. Sy tree nie op in ‘n tyd van wonderwerke of profetiese visioene nie. Inteendeel, die boek wat haar naam dra, noem nie eers die Naam van God nie. Maar juis hierin lê die krag van die getuienis van die boek Ester. Ester wys vir ons dat die Heilige Gees nie net werk in dramatiese openbarings nie, maar ook in die stil vasberadenheid van ’n vrou wat gehoorsaam is in tye van krisis.
Ester
Verskille tussen die Hebreeuse en Griekse tekste van die boek Ester
Dwarsdeur die kerkgeskiedenis was daar twee bekende weergawes van die boek Ester in gebruik. Die een is die weergawe waarmee óns baie bekend is, naamlik die Hebreeuse weergawe (Masoretiese teks), wat in Bybelvertalings in Protestantse kringe voorkom en wat die oorspronklike weergawe van Ester verteenwoordig. Die ander een is die Griekse weergawe (Septuagint-teks) wat vroeg reeds as teks onder die Jode ná die ballingskap voorgekom het en wat ook deur baie gelowiges deur die eeue heen gelees is.