In ’n tyd waar sekularisasie nie net ’n wêreldbeskouing is nie, maar baie mense se manier van dink geword het, word die opstanding van Christus dikwels herinterpreteer as ’n simboliese waarheid of ’n geestelike metafoor. Soos Alan Noble opmerk, is dit nie dat mense aktief teen die idee van ’n opstanding as ‘n wonderwerk gekant is nie, maar dat hulle dit eenvoudig nie as ’n moontlikheid oorweeg nie omdat dit nie met die menslike verstand of die moderne wetenskap wat wil bewys, rym nie. Hierdie sekulêre verbeelding stel ons voor die vraag: Is dit redelik om in die 21ste eeu in die letterlike, liggaamlike opstanding van Jesus Christus te glo?