Die teologie van blokketting-tegnologie

Die AP Akademie bied die volgende Kortkursus aan:
Die teologie en praktyk van blokketting-tegnologie, met fokus op Bitcoin
Aanbieder: prof. Gerrit Smit
Departement Nuwe Testament | Publieke Teologie

Die ekonomie verander. Tegnologie verander. Die vraag is: hoe moet die kerk daaroor dink?

Blokketting-tegnologie en digitale geldstelsels, soos Bitcoin, beïnvloed reeds die wêreldekonomie op terreine wat vroeër ondenkbaar was. Inflasie, fiskale onsekerheid en toenemende sentralisering roep nuwe vrae op oor Christene se beskouing oor rentmeesterskap, mag, vertroue en verantwoordbaarheid. Hierdie kortkursus help jou om Skrifgetrou te dink oor die kerk se roeping en die Bybel se antwoorde op ekonomiese kwessies van die dag.

Wat word behandel?

  • Die Bybelse getuienis oor geld, besittings en rentmeesterskap
    • Die geskiedenis van geld, van die antieke ruilhandel tot moderne FIAT
    • Inflasie, rente en monetêre beleid in teologiese perspektief
    • Gedesentraliseerde vs. gesentraliseerde stelsels
    • Etiese en teologiese vrae rondom digitalisering van die ekonomie
    • Wat is blokketting-tegnologie en hoe werk dit?
    • Praktiese demonstrasie:
    Hoe werk ’n Bitcoin-transaksie?
    Hoe lees ‘n mens ‘n blokketting grootboek (ledger)?
    Wat is publieke adresse en private sleutels?
    Hoe word ‘n blok gevorm en waarom is dit onomkeerbaar?

Hierdie kursus is nie bedoel as spesialisopleiding nie, maar as teologiese oriëntering en Skriftuurlike beoordeling van ’n aktuele vraagstuk, met praktiese voorbeelde wat jou sal inlei in die verstaan van blokketting-tegnologie. 

Datum: Vrydag 29 Mei 2026 (sal later weer herhaal word indien daar genoeg belangstelling is)
Tyd: 08:00–15:00 (teorie) | 16:00–18:00 (praktiese sessie)
Plek: APA Senaatsaal (Farendenstraat 430, Clydesdale, Pretoria)
Koste: R750 per persoon, verversings en middagete ingesluit
Beperkte plekke beskikbaar, minimum 10 kursusgangers
‘n Selfassessering van 2 ure sal na afloop van die kursus vereis word om ‘n sertifikaat van bywoning te ontvang. 

Vir enige gelowige wat ernstig wil dink oor die ekonomie in diens van die koninkryk van God.

Die tegnologie is hier om te bly.
Die vraag is of jy gereed is daarvoor?

Navrae: info@apa.ac.za

Registreer hier: https://forms.gle/78mPaNmQUwjq8g9Q

Die bronne van armoede: ’n teologiese perspektief

Armoede is so oud soos die mensdom self, maar dit bly ’n brandpunt in elke tyd en samelewing. Jesus het gesê ons sal die armes altyd by ons hê (Matt. 26:11). Ten spyte hiervan, het elke tyd en elke geslag ‘n verantwoordelikheid om dié wat minderbevoorreg is, te help. Dit is in besonder die roeping van die kerk, wat die barmhartigheid wat Christus aan ons bewys het, ook aan ander moet wys.

Armoede is ‘n groot ekonomiese probleem, en ongelukkig is dit waar baie ekonome en politici vashaak wanneer hulle oor armoede dink en praat. Luister ons na die Bybel, sien ons armoede is ook ’n morele en geestelike krisis wat die hele gemeenskap raak. Elke geslag probeer om armoede te verstaan en te verlig, maar sonder ’n teologiese raamwerk bly die begrip daarvan oppervlakkig en die oplossings tydelik. Die Bybel kyk nie na armoede as bloot ’n sosiale verskynsel nie, maar as iets wat die verhouding tussen God, die mens en sy naaste weerspieël.

Daar is verskillende oorsake van armoede: sommige lê in politieke- en strukturele onreg, ander in persoonlike gebrokenheid en swak keuses. Suid-Afrika het die hoogste werkloosheidsyfer in die wêreld van 42%, waarvan ‘n skokkende 62.2% van die jeug sonder werk is volgens “World of Statistics”. Die land se werkloosheidsyfer word dikwels deur opportuniste as ‘n politieke speelbal gebruik.

Tog moet ons nie vaskyk in die statistieke, sonder om die oorsake te ondersoek en aan te spreek nie. Soos in die tyd van die Bybel en deur al die eeue heen, moet ons ook kategorieë van armoede daarstel om te bepaal wat die omvang van die probleem is. Sommige mense kan nie werk nie, ander wil werk nie, en nog ander het die wil en die vermoë, maar kry nie die geleentheid nie, soms ook weens regstellende aksie. Daar is dié wat werk, maar steeds nie genoeg het nie, en daar is ook dié wat oorvloed het en daarom ’n besondere verantwoordelikheid dra.

Lees meer…