Vryheid is ’n woord wat maklik gebruik word, maar selde konsekwent deurdink word. In politieke en ekonomiese gesprekke word vryheid dikwels gereduseer tot stemreg of gelykheid voor die grondwet. Tog wys die geskiedenis, en die Bybel nog meer, dat ware vryheid onlosmaaklik verbind is aan verantwoordelikheid, selfstandigheid en orde. Waar hierdie dinge verdwyn, volg afhanklikheid, en waar afhanklikheid wortelskiet, verdwyn ‘n mens se vryheid.
Kom ons praat oor welsyn.
In ’n ware vrye samelewing is welsyn nie gesentraliseer nie. Versorging gebeur primêr binne gesinne, geloofsgemeenskappe en deur gewone mense se vrywillige liefdadigheid. Hierdie “gedesentraliseerde model” beskerm persoonlike vryheid. Die Bybelse model van welsyn, soos dit in die tiendes en diakonale sorg na vore kom, is ‘n gedesentraliseerde model. Dit versterk nie die staat nie, maar die gemeenskap. Dit skep ruimte vir persoonlike vryheid, dit bou gesinne op, dit beskerm eiendom en leer verantwoordelikheid teenoor toekomstige geslagte. Welsyn is hiervolgens ’n morele plig, en geen reg waarop die mens kan aanspraak maak nie.
Vandag lyk dit anders. Wêreldwyd betoog massas oor toelaes en dring aan op welsynsdienste van die staat. Sodra jy afhanklik raak van die staat, is jy nie vry nie.
Die verlies van hierdie vryheid het nie oornag plaasgevind nie. Sedert die negentiende eeu het sosialistiese ideologiese strominge en die opkoms van sogenaamde “kundiges wat welsyn moet hanteer” en “instellings wat geakkrediteer is”, die grondslag gelê vir staatsgesentreerde welsyn. Met die eerste sosialistiese welsynstelsel in Europa het ’n nuwe patroon ontstaan, naamlik dat die staat as voorsiener van welsyn begin optree het. Hierdie model is later nagevolg en uitgebrei oor kontinente heen, telkens met die belofte van sekuriteit en versorging. Elke nuwe voordeel het egter ’n ratte-effek veroorsaak, soos Joel McDurmon in sy boek “Restoring America. One County at a time” dit beskryf. Hy wys daarop: dit is maklik vir die staat om welsynsvoordele by te voeg, maar byna onmoontlik om dit weer terug te draai. Die gevolg word ’n lokval, waar mense hulle vryheid verruil vir sekuriteit.
Suid-Afrika se eie geskiedenis bevestig hierdie patroon. In die pionierstyd was daar geen staatswelsyn nie. Die sorg vir armes, weduwees en siekes was hoofsaaklik die taak van families en die kerk. Die diakonie het ‘n beperkte funksie gehad, maar het goed gefunksioneer. Armhuise en weeshuise wat deur kerke bestuur is, het later deur vrywillige bydraes ontstaan. Ook tydens die 18de en 19de eeue het kerke primêr die verantwoordelikheid vir welsyn geneem, met slegs beperkte staatsbetrokkenheid. Eers ná die Unie van Suid-Afrika in 1910 tot stand gekom het, het welsyn toenemend ’n politieke instrument geword, veral onder druk van ekonomiese krisisse, soos die armblanke vraagstuk van die 1900’s. Mettertyd het staatsubsidies die norm geword, en die kerke se rol is stadig maar seker ondergeskik gestel aan die staat se betrokkenheid by welsyn.
Na 1994 het hierdie proses versnel. Die staat het die hoofverskaffer van welsyn geword, met ’n gevolglike massiewe uitbreiding van maatskaplike toelaes. Vandag is miljoene mense direk afhanklik van staatshulp. Hierdie stelsel verbruik ’n enorme deel van die staatsbegroting en word maklik ’n politieke speelbal. Die kerk se rol in welsyn het intussen aansienlik afgeneem, en wat oorbly is dikwels plaaslik en beperk.
Die kernprobleem is nie die sorg vir die armes nie, want die Skrif is duidelik oor ons roeping tot barmhartigheid. Die probleem is dat afhanklikheid vrywillig aanvaar word. Gevolglik skuif mense se morele verantwoordelikheid na burokratiese afhanklikheid. Wanneer welsyn ’n reg word wat deur die staat gewaarborg word, loop persoonlike dissipline, eie verantwoordelikheid om te werk, en dankbaarheid vir wat jy het, by die agterdeur uit.
Die pad terug na vryheid begin by individue en gesinne wat doelbewus selfstandigheid nastreef, spaarplanne in plek kry en verantwoordelik met tyd en geld omgaan. Dit vra van kerke om hul roeping tot liefdadigheid weer ernstig op te neem. Dit vereis ook ’n eerlike besef dat maatskaplike toelaes nie ’n beleggingsprogram is nie, maar dikwels ‘n bodemlose put word – ’n tydelike noodmaatreël wat maklik permanent word.
As jy afhanklik is van die staat, is jy nie vry nie – dit is ‘n historiese en Bybelse werklikheid. Ware vryheid word beleef waar mense weer leer om vir mekaar te sorg sonder om terug te verwag, binne die raamwerk van die gesin, kerk en gemeenskap.
Daar, en nie in sentrale strukture nie, lê die bron van ’n samelewing wat regtig ekonomies vry kan wees.
Discover more from Tuis by gdssmit.com
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
