In Hand. 9:11 kry Ananías ‘n ondenkbare opdrag: “Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na ‘n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid.”
‘n Doodgewone Christen kry ‘n adres in sy sak: nie sommer enige adres nie – die adres van die groot vyand, die vervolger van die kerk wat verantwoordelik is vir soveel van Ananías se mede-gelowiges wat geboeid gesleep is na Jerusalem om tereg te staan op aanklag dat hulle volgelinge van Jesus is.
Maar het jy al ooit daaraan gedink dat dit juis God se manier van werk is? ‘n Moses wat sukkel om te praat, ‘n Gideon wat in die parskuip gaan wegkruip as die Here hom roep, en Ananías – ‘n gewone dissipel in Damaskus van wie ons nie weer hoor in die Bybel nie? Die Kerk hoef nie te bestaan uit baie magtiges, edeles en vernames om ‘n verskil te maak nie. Die Kerk bestaan vir die grootste gedeelte uit Ananiasse.
Toe hy die naam “Paulus” hoor, het hy dadelik geweet wie en wat hierdie man is — hoedat hy die gemeente vervolg het.
Is Ananías se gewilligheid nie ‘n aanklag teen so baie Christene vandag nie? Hulle leef totaal uit voeling met hul kerk as geheel. Hulle lees nie hulle kerklike tydskrifte nie en woon nie die erdienste by nie. Hulle is vreemdelinge wat praat van “julle” as hulle van die Kerk praat in plaas van “ons”. Hulle het toeskouers geword wat nie meer gestuur kan word nie omdat hulle doof geword het en sodoende onbruikbaar geword het.
Maar Ananías het ‘n adres in sy sak – een waaroor ek en jy sou bewe as dit ons was.
Watter adres is vandag in jou sak? Dink bietjie na waarheen stuur die Here jou hierdie week? Dalk daardie besoek wat jy lankal moes doen? Of die een wat jy weet in nood is maar jy het net opgesien om te gaan? Dalk ‘n Saulus wat onverskillig is en moet hoor: die Here het my na jou gestuur?