TikTok Teologie

Die afgelope jare, en veral sedert Covid, het ’n nuwe vorm van “Bybellees” posgevat – op selfone. Kort video’s, vinnige aanhalings en treffende Bybelverse word daagliks gedeel op sosiale media. Sommige is baie goed en aanvaarbaar, maar ‘n mens is dikwels verstom oor die vlakheid van die teologie in ander, wat soms met groot oortuiging en min konteks aangebied word. Hierdie verskynsel, wat ek “TikTok-teologie” wil noem, is ’n moderne hermeneutiese uitdaging. Aan die een kant kan mens dankbaar wees dat die Bybel wel aangehaal word, maar hóé dit aangehaal word, los van die konteks en watter verstaan daaraan gegee word, plaas ‘n groot vraagteken oor Skrifgesag. Om ’n teks buite konteks te lees, was nog altyd ’n vorm van inlees en nie uitleg nie, ongeag die vernuf om mense se aandag te trek.

Dit is belangrik om reg te begin. Die probleem met TikTok-teologie is nie dat gewone gelowiges Bybelverse aanstuur nie. Die Reformasie het juis die Skrif teruggegee aan die gewone mense sodat die Bybel nie beskou moet word as ‘n boek wat net deur die kerk en dominees gebruik mag word nie. Die probleem lê eerder by fragmentasie van die Bybelse teks. Wanneer tekste losgemaak word van hulle literêre-, historiese- en teologiese raamwerk, begin hulle iets sê wat hulle nooit bedoel het nie. TikTok-teologie praat dikwels meer die taal van die sekulêre mens as die taal van gelowiges. Die teks word dan nie meer gelees as deel van ’n groter konteks nie, maar as ’n losstaande slagspreuk. Betekenis word onmiddellik en intuïtief bepaal, dikwels volgens emosionele trefkrag of morele appèl.

Die klassieke Christelike hermeneutiek lees die Skrif in sy geheel, van Genesis tot Openbaring. ’n Teks word verstaan binne die boek waarin dit staan, die heilsgeskiedenis waarvan dit deel is, en uiteindelik binne die groter getuienis van die hele Bybel. Hierdie manier van lees verg tyd, herhaling, gebed en dissipline.

Digitale platforms werk egter volgens ’n ander algoritme. Dit beloon die een wat aandag trek. Dit bevoordeel die video wat skok, kontroversieel is of snaaks is. Die gevolg is dat Bybeltekste dikwels gebruik word vir voorafbepaalde standpunte, waarvoor die teks ingespan word op gehoor of sigwaarde, sonder konteks, met vlak teologie en sonder behoorlike verklaring. Dit raak Skrifgesag direk. Die Bybel se gesag word op hierdie wyse nie gekoppel aan die teks se eie bedoeling nie, maar aan die vermoë om ’n reaksie uit te lok.

Wat opvallend is, is dat die konteks van die Bybel vandag dikwels deur mense wat gewoond geraak het aan TikTok-teologie as hinderlik ervaar word. Dit neem tyd om te verwerk en te verstaan. Dit vra moeite om deeglik te doen. Dit lok lastige vrae uit. In ’n kultuur wat spoed verafgod, word konteks maklik gesien as onnodige kompleksiteit en “outydse geskiedenis”.

Bybellees was egter nog altyd ’n geestelike dissipline. Om stil te word, met geduld te lees en na God se stem te luister, vra dat die leser iets meer as 3 minute moet gee. Dit is ’n vorm van selfverloëning. Wanneer die Bybel gelees word as Woord van God en nie as ‘n towerboek met kort slagspreuke nie, kry die teks die eerste woord, nie die leser nie.

TikTok-teologie, daarenteen, funksioneer dikwels met ’n onmiddellike “dit beteken vir my die volgende vir vandag”-benadering. Die subjektiewe ervaring word die maatstaf. Die vraag skuif van “wat sê die Skrif?” na “hoe laat dit my voel?” of “hoe kan dit my vandag versterk?”. Die Reformatoriese Skrifbeskouing leer dat die betekenis van die teks nie geskep word deur die leser nie, maar ontvang word deur noukeurige luister na die teks.

Nog ’n kenmerk van TikTok-teologie is morele afstomping. Komplekse etiese of teologiese sake word afgeplat na kort, eenvoudige antwoorde waaroor nie diep gedink hoef te word nie. Dit vra eerder: pas dit volgens die meerderheid se mening? Is dit goed of sleg; reg of verkeerd; is ek daarvoor of daarteen?  Die Bybelse etiek werk egter selde so eenvoudig. Die Bybel vra onderskeiding en nadenke. Die Bybel vra nie hoe jy oor ‘n saak voel nie, maar wat God vra? Dit vorm die gewete, eerder as om net vinnige antwoorde te probeer gee.

Die antwoord op TikTok-teologie is nie om tegnologie te demoniseer of die jonger geslag te berispe daaroor nie. Die kerk het nog altyd nuwe middele gebruik om die evangelie uit te dra en tegnologie is ‘n wonderlike hulpmiddel om die evangelie by mense te kry wat nie in die kerk met die Woord te doen kry nie. Die vraag is eerder hoe Skrifgesag binne hierdie nuwe konteks bedink word? Dit beteken in praktyk dat elke Bybelvers nie outomaties en direk op elke situasie toegepas kan word nie. Dit beteken dat die Skrif as Woord van God met respek, geduld en gehoorsaamheid gelees moet word. Dit vra dat lidmate opgelei moet word om te onderskei tussen suiwer teologie en TikTok-teologie.  Hier lê ’n besondere roeping vir predikers en teologiese opleiding. Dit help niks om TikTok-teologie te kritiseer en te dink dat jy dit aangespreek het nie – dit is hier om te bly. Ons moet gelowiges eerder toerus met beter vaardighede om die kaf en koring van mekaar te kan skei.


Discover more from Tuis by gdssmit.com

Subscribe to get the latest posts sent to your email.