Wanneer Christene sê dat “Jesus die Christus” is, maak hulle ’n openbare, politieke verklaring. Hulle maak ‘n verklaring wat die magstrukture van die wêreld direk uitdaag. Die evangelie is nié ’n a-politiese boodskap nie. As ons sê dat alle gesag aan Christus onderwerp is, sê ons indirek dat alle aardse magte aan Hom onderwerp is. Dit beteken dat géén aardse mag vir altyd sal hou nie en dat alle regerings sal verbygaan. Dit is dus ’n politieke aankondiging wat alle aardse gesag onder Christus se heerskappy plaas.
Die Griekse woord euangelion (evangelie) beteken “goeie nuus”. In die Bybelse tyd was dit die amptelike woord wat gebruik was om aan te kondig dat ’n nuwe koning aan bewind gekom het of ’n militêre oorwinning behaal is. Wanneer die Nuwe Testament dus sê dat Jesus die Christus is, word ’n koninklike aankondiging gemaak dat Hy die enigste, ware Heerser is.
Die Romeinse ryk het sy burgers gedwing om te sê “Caesar is Here” (die keiser is Here). Die kerk het deur hulle bloed geantwoord: “Net Jesus is Here.” Hierdie belydenis veroorsaak ‘n botsing van koninkryke. As Christus Koning is, beteken dit dat niemand anders dit is nie: nie Caesar nie, nie die staat nie, nie ideologieë of ander idees nie.
Christus se evangelie begin met die woorde: “Bekeer julle, want die koninkryk van God het naby gekom.” Die oproep tot bekering is ’n oproep tot dissipelskap. Dit vra dat alle ander onbybelse liefdesverhoudings verbreek word. Om te sê “Jesus is Koning” beteken dus dat ek nie meer my eie wetgewer is nie. Ek kan nie leef soos ek wil nie. My geld, my tyd, my liggaam, my stem en my gawes behoort aan Hom. Bekering verander dus jou politiek: dit begin by die vraag wie regtig oor jou regeer?
Elke aardse mag het ’n vervaldatum. Koninkryke kom en gaan, ideologieë gaan verby, modes raak oud, maar Christus sit op ’n ewige troon. Psalm 2 verklaar: “Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.” Hierdie salwing is God se bevestiging dat die wêreld aan Hom behoort. Sy opstanding was die hemelse kroning, en sy troon is nie in Rome of Washington of Pretoria nie, maar in die hemel self. Dit is hierdie realiteit wat die Christelike sin gee.
Dit beteken dat die Christen nie kan buig voor die ideologieë van die dag nie, of dit nou nasionalisme, sosialisme, individualisme of sekularisme is. Christus alleen het die reg om te sê wat goed en reg is.
Om Jesus as Koning te bely, is om alle ander konings af te wys. Dit is om te leef as burgers van ’n ander ryk, met ander waardes, en met ’n ander gesag. Dit maak die evangelie die mees revolusionêre boodskap ooit, omdat dit alle politieke mag aan Hom onderwerp, wat opgestaan het uit die dood.
“Jesus is Koning” is die kortste en kragtigste politieke manifes wat ooit opgestel is.
Discover more from Tuis by gdssmit.com
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
