Nicea 1700: waar staan ons tans?

Die herdenking van die 1700ste jaar sedert die Konsilie van Nicéa (325 n.C.), het vanjaar verskeie geleenthede gebied om die kern van die Christelike geloof weer te oordink en te bely.

Hierdie referaat, wat ek aangebied het tydens die Gereformeerde Konvent van die Koinonia-Sinode op 25–26 September 2025, ondersoek die historiese- en teologiese betekenis van Nicéa en vra watter implikasies dit vir die kerk van vandag inhou? Dit ondersoek ook die faktore wat aanleiding gegee het tot die Skrifkritiek, wat die Skrif en die waarheid van die belydenisse van die kerk bevraagteken.

Belydenisse ontstaan deur stryd. So was Nicéa ’n belydenis waarin die kerk die fundamentele vraag moes beantwoord: Wie is Jesus Christus? Die konsilie het bevestig dat Hy ware God uit ware God is, van dieselfde wese met die Vader, en dat slegs Christus kan red. Deur die eeue heen het hierdie belydenis die toetssteen van ortodokse geloof gebly, maar vanaf die Verligting het rasionalisme, deïsme en die romantiek van Schleiermacher die gesag van die Skrif en die aard van geloof diep beïnvloed. Moderne teologiese strominge, van historiese kritiek tot die sogenaamde “Jesus-seminaar”, het die historiese- en bonatuurlike karakter van die evangelie bevraagteken.

Hierdie ontwikkelinge noop die kerk om te herbesin oor haar verhouding met die vroeë belydenisse en om die kontinuïteit met die apostoliese- en reformatoriese tradisie te herstel. Die herdenking van Nicéa 1700 is daarom ’n oproep tot hernude vasgryp aan Christus as ware God en ware mens, en ’n uitnodiging aan die kerk om haar profetiese roeping in ’n tyd van relativisme en geestelike krisisse met moed te herontdek. In ’n veranderende wêreld bly die belydenis van Nicéa die anker van die geloof en die fondament van die kerk se lewe en sending.

U kan die referaat hier lees.


Discover more from Tuis by gdssmit.com

Subscribe to get the latest posts sent to your email.