In antwoord op ‘n onlangse artikel wat my artikel oor die wêreldbeeld van die Ou-Testament aanhaal, enkele opmerkings:
Die skrywer het nie onderskeid getref tussen die ”wêreldbeeld” en die ”wêreldbeskouing” van die Ou-Testamentiese gelowige nie. Ek het nie kommentaar gelewer op die ”wêreldbeskouing” van die Ou Testamentiese gelowige nie, en daarom is die debat hieroor, na my mening, buite konteks en stuur dit die argument in ‘n rigting wat nie deur my geïmpliseer is of geopen is nie.
Die gemelde artikel skep die indruk dat ek sou impliseer dat die Ou-Testamentiese wêreldbeeld ”primitief” is teenoor ons sogenaamde ”wetenskaplike gevorderde wêreldbeeld”, asof ons die antieke mens moet bejammer. Dit is geensins die geval nie.
Ek het sensitiwiteit gevra vir die feit dat die wêreldbeeld (let wel nie wêreldbeskouing nie) van die mense in die tyd van die Bybel verskil van ons (moderne, Westerse, en…) s’n, of hulle Babiloniërs was, of Israeliete, maak nie saak nie – hulle het van ons verskil en om dit dogmaties te probeer wegredeneer, gee nie ‘n antwoord op tekste soos Job 9:6; Ps. 75:3 en ander plekke nie.
Hierteenoor sny die aanhaling tereg na twee kante: ”Weeks concludes that if scholars are going to read the text of Scripture as if it was locked into its own time and culture, then they need to realize that they themselves as scholars are also locked into their own time and culture (235). Yet scholars constantly act as if they have transcended this problem. This is illogical”, naamlik dat ons ook die Bybelse teks kan lees asof dit in ons tyd vasgesluit is, en nie die konteks verreken nie – dit is net so onlogies.
Die feite is dat die mense in die tyd van die Ou Testament nie ons moderne wêreldbeeld gedeel het nie – vir hulle was die aarde op pilare gevestig, was gravitasiewette nie bekend nie, was interplanetêre reise nie moontlik nie, ens. – ons verskil van die mense van die tyd van die Bybel in terme van taal, kultuur en wêreldbeeld.
Reis maar gerus na die Midde-Ooste in 2020 en ontdek tussen die Westerse en die Oosterse wêreldbeeld is daar verskille al leef ons in dieselfde tyd.
Indien ons verstaan hoe die wêreldbeeld van die mense van daardie tyd van ons verskil, gee dit vir ons geen rede om hierdie genoemde verse ”simbolies” te verklaar nie. Dit sou voorkom dat ons in ‘n dogmatiese verleentheid kom oor ‘n voorveronderstelling in die verklaring van ‘n teks ons uitleg bepaal. As ons suiwer dogmaties met ‘n teks omgaan vanuit ons konteks, lê ons in die Skrif in, en lê ons nie die Skrif uit nie.
Die Bybel (nie die ”Babilon nabye ooste” soos beweer word nie) leer ons dat die skepping soos ‘n drieverdieping huis is*: die hemel het fondamente (2 Sam. 22:8) en so ook die aarde (1 Sam. 2:8). Daar is waters bo die gewelf of uitspansel (Gen. 1:6). Die uitspansel is ‘n sterrekoepel bo ons koppe (Amos 9:6). Bo hierdie skepping, sit ‘n Koning in die hemel, wie se heerskappy deur die hemele skyn. Die aarde is gegrond op pilare (Job 9:6; Ps. 75:3). Onder die aarde is die doderyk (Gen. 37:35; 1 Sam. 2:6; Job 11:8; Eseg. 32:27).
Die Bybel is dus baie duidelik dat die wêreldbeeld van die gelowige, lyk soos die figuur waarna ek verwys het.
Om die betekenis van God se skepping te verstaan, moet die skepping beskou word as ‘n tempel – tot eer van God of ‘n ander god. Die Skrif leer ons tot Wie se eer ons kosmologie gerig moet wees – in ‘n wêreldbeeld wat vir ons verlore geraak het, en wat ons deur genade kan herwin.
* Erkenning aan Peter Leithart vir die beeld van die drieverdieping huis en die tempel.