Pilgrim’s Progress gratis beskikbaar

Ek het reeds vantevore hier berig oor die bekendstelling van John Bunyan se Pilgrim’s Progress. Verlede jaar is die animasiefilm bekend gestel en as deel van die wêreldwye COVID-19 inperkings wat tans 2 biljoen mense in afsondering het, stel hulle die film gratis beskikbaar aan Christene wêreldwyd.

John Bunyan was ‘n predikant wat ongeveer 300 jaar gelede geleef het en in die tronk gegooi is omdat hy geweier het om op te hou om oor Christus te preek. Terwyl hy in die tronk was het hy die boek: The Pilgrim’s Progress geskryf. Sedert die publisering van die boek was die boek nog nooit uit druk nie en naas die Bybel, is Pilgrim’s Progress die boek wat die meeste gelees is ooit.

Dit is werklik ‘n besondere film wat u met vrymoedigheid as gesin kan kyk. Die film vertel die verhaal van ‘n Christen (Christian) wat ontslae probeer raak van sy sorge en oral probeer tot hy uiteindelik die nou pad ontdek na vryheid en verlossing.

Maak gerus gebruik van Revelation Media se gratis aanbod om die film te kyk saam met u gesin.

Die film kan hier afgelaai word en vereis ‘n geldige e-posadres.

Hoe om koelkop te bly tydens COVID-19 inperking

Teen hierdie tyd is almal in rep-en-roer nadat die regering ‘n algehele grendelstatus (“lockdown”) afgekondig wat afskop om middernag op 26 Maart 2020 en eindig om middernag 16 April 2020 (vir nou in elk geval).  Behalwe vir die risiko van die virus, is daar ook die risiko van moontlike sosiale onrus wat kan ontwikkel in die volgende 21 dae en daarom is dit nodig dat ons kalm bly en nugter dink.

Ons is in die laaste ure voor die inperking begin en baie mense wonder hoe om weke van afsondering te hanteer en waarmee om besig te bly? Volgens kenners is roetine die beste manier om isolasie te hanteer. Hou by ‘n daaglikse roetine: staan dieselfde tyd op, maak jou bed op, hou jou huis skoon, was die skottelgoed, sit nog steeds jou grimering aan al gaan jy nie uit vir kos of mediese redes nie. Moenie in jou nagklere rondloop die hele dag nie. Stel vir jouself doelwitte en hou sover moontlik daarby. Lees ‘n boek, verf jou kamer, speel speletjies.

Baie van ons werk vir die eerste keer van die huis af en dit help baie as jy by kantoorure bly en jou werk in daardie tyd afhandel.

Isolasie kan mense geestelik beïnvloed en baie mense kan dit nie hanteer nie. Daarom verloor baie mense tydens isolasie hulle sin vir werklikheid en tree selfs irrasioneel op. Hou kop, bly kalm, hou by ‘n roetine. Gebruik die tyd om jou te verdiep in die Bybel en bid dat die Here vir ons uitkoms gee. Jy sal dit oorleef deur die krag van die Gees. Daar is talle voorbeelde in die kerkgeskiedenis van Christene wat kristye omskep het in geleenthede tot eer van God.