
‘n Kunstenaarsvoorstelling van die antieke stad Korinthe.
Korinthe neem ’n unieke plek in die Nuwe Testament in. Dit is een van die stede waarin die apostel Paulus meerderheid van sy tyd gewoon en gewerk het, en ook in besonder ‘n stad wat vir die verspreiding van die evangelie baie sentraal was. Ons weet ook vanuit die briewe van Paulus dat dit ‘n uitdagende omgewing was met heelwat vrae en probleme in die gemeente.
Om Korinthe reg te verstaan, help om die spanninge en uitdagings van die vroeë Christene in praktyk te sien. Die stad funksioneer as ’n soort steekproef waarin die implikasies van die evangelie vir ’n kosmopolitiese-, moreel verwarde- en sosiaal uiteenlopende samelewing sigbaar word.
Korinthe as strategiese stad in die Romeinse wêreld
Korinthe se geografiese ligging alleen verklaar reeds ’n groot deel van waarom dit vir die verstaan van die Nuwe Testament belangrik is. Die stad was geleë op die smal skiereiland wat die kusgebied bekend as die Peloponnesos met die Griekse vasteland verbind het. Twee hawens, aan die een kant die van Kenchreë in die ooste en die gebied van Lechaion in die weste, het Korinthe direkte toegang gegee tot beide die oostelike en westelike dele van die Romeinse Ryk. Lechaion, sowat 2,4 km noord van die middestad van Korinthe, het onder die indrukwekkendste hawens in die Middellandse See getel, en is slegs deur Rome se Ostia en Herodes se Caesarea Maritima oortref. Hierdie westelike hawe aan die Golf van Korinthe het direkte toegang tot Italië en Spanje gebied. Handel tussen Asië en Italië het dus noodwendig deur Korinthe gevloei. Hierdie strategiese ligging het die stad uiters welvarend gemaak en terselfdertyd ’n ontmoetingsplek vir mense, idees, tale en godsdienste geskep.
Vir Paulus was dit ’n ideale plek vir sending. Vanuit Korinthe kon die evangelie nie net plaaslik wortel skiet nie, maar ook langs handelsroetes versprei word na ander dele van die Middellandse See-gebied. Die stad se infrastruktuur het dit moontlik gemaak dat briewe, boodskappers en gelowiges relatief maklik tussen gemeentes beweeg het.
’n Kosmopolitiese en moreel komplekse samelewing
Korinthe was bekend vir sy morele losbandigheid. Die stad se naam het selfs aanleiding gegee tot die uitdrukking “om te Korintiseer”, wat verwys het na mense wat alle reëls oorboord gooi in terme van sedelikheid. Tempels vir verskeie gode en godinne het die stad oorheers, met die tempel van Afrodite op die Akrokorinthe as die bekendste voorbeeld. Godsdiens en onsedelikheid het hier op ’n wyse ineengevloei wat ’n diep invloed op die openbare en private lewe gehad het.
Hierdie konteks is noodsaaklik vir die verstaan van Paulus se Korinthiërbriewe. Die probleme wat hy aanspreek, soos losbandigheid, verdeeldheid, statusbeheptheid en misbruik van vryheid, is dus nie net teologiese kwessies wat in die kerk aangespreek moes word nie maar wat algemeen in die samelewing voorgekom het. Dit is konkrete antwoorde aan ’n gemeente wat probeer het om Christene te wees in ’n kultuur waar ander waardes as die van die Bybel gegeld het. Korinthe dwing die kerk dus om te vra hoe heiligheid lyk in ’n wêreld waar sonde genormaliseer is.
Korinthe en Paulus se sendingstrategie
Paulus se verblyf in Korinthe was langer as in die meeste ander stede waar hy gewerk het. Volgens Handelinge 18 het hy ongeveer agttien maande daar gebly. Dit dui daarop dat Korinthe vir Paulus van besondere strategiese belang was.
In Korinthe ontmoet Paulus vir Aquila en Priscilla, mede-tentmakers, en hy werk saam met hulle om homself te onderhou. Paulus se keuse om selfonderhoudend te wees, het hom in staat gestel om die evangelie te verkondig terwyl hy in sy winkel gewerk het. Deur te werk, het hy toegang gekry tot mense uit verskillende sosiale lae en homself vry gehou van finansiële afhanklikheid wat sy boodskap kon kompromitteer.
Hier word ’n belangrike beginsel sigbaar. Die evangelie word nie net verkondig vanaf kansels nie, maar ook in werkswinkels en op markpleine. Korinthe word so ’n voorbeeld van hoe die alledaagse lewe self ’n ruimte vir sending word.
Die spanning tussen vryheid en verantwoordelikheid
Een van die sentrale temas in 1 Korintiërs is die spanning tussen Christelike vryheid en verantwoordelike liefde. Die Korintiërs het hulle vryheid in Christus soms té vry verstaan. Paulus moet herhaaldelik verduidelik dat vryheid nie beteken dat alles geoorloof is nie. Vryheid moet deur liefde begrens word.
Hierdie spanning is tipies van ’n stad soos Korinthe, waar individuele selfvervulling en eer hoog aangeslaan is. Paulus se bekende woorde dat kennis opgeblaas maak maar liefde maak nederig, is direk gerig teen ’n kultuur van selfhandhawing. Die gemeente in Korinthe word geroep om ’n alternatiewe gemeenskap te wees, een waarin die kruis en nie sosiale aansien nie, die maatstaf is.
Sosiale plek van die kruis
Korinthe help ons om die uniekheid van die Bybel se kruis-teologie te verstaan. Die stad was verdeel langs sosiale en ekonomiese lyne. Hierdie verdelings het selfs die nagmaal beïnvloed, waar rykes geëet het terwyl armes honger gebly het.
Paulus herinner die gemeente daaraan dat God juis die dwase en swak dinge van die wêreld uitkies om die sterkes te beskaam. In Korinthe word die evangelie ’n direkte uitdaging aan ’n eer-en-skaamte-kultuur. Die kruis van Christus ondermyn alle aansprake op selfverheffing. Sonder die briewe aan Korinthe sou ons ’n baie swakker begrip van die sosiale implikasies van die evangelie gehad het. Die stad dwing die kerk om ernstig na te dink oor mag, status en diensbaarheid.
Geestelike gawes en orde in die gemeente
Nog ’n rede waarom Korinthe so belangrik is, lê in Paulus se uitgebreide onderrig oor geestelike gawes. 1 Korintiërs 12–14 bied die mees omvattende Nuwe-Testamentiese nadenke oor die aard en doel van die gawes van die Gees.
Die probleem in Korinthe was dat die gawes wel voorgekom het, maar daar was ’n gebrek aan onderskeiding. Gawes is gebruik om hulleself te laat geld eerder as om die gemeente op te bou. Paulus reageer hierop deur liefde as die weg by uitnemendheid te beskryf (1 Kor. 13) en orde as ’n uitdrukking van God se karakter te beklemtoon (1 Kor. 14).
Korinthe leer die kerk dat toegewydheid sonder liefde die kerk kan vernietig. Dit is ’n les wat deur alle eeue aktueel bly.
Korinthe as spieël vir die kerk van alle tye
Wat Korinthe besonder maak, is dat dit so herkenbaar is in ons eie tyd. Min ander gemeentes in die Nuwe Testament weerspieël soveel van die probleme waarmee die kerk vandag nog worstel. Verdeeldheid, morele uitdagings, status en kompetisie, verwarring oor die betekenis van vryheid en swak onderskeiding tussen Bybelse waarheid en menslike idees, is nie net probleme waarmee die kerk destyds geworstel het nie, maar kom tot vandag toe in die kerke voor.
Korinthe word vir die kerk ’n spieël. Wanneer die kerk Korinthe lees, sien ons dikwels iets van onsself raak. Korinthe wys dat God nie wag vir ideale omstandighede of volmaakte kerke voordat Hy werk nie. Hy plant sy kerk juis in moeilike, gebroke en komplekse kontekste. Dit is goeie nuus vir elke tyd en elke plek. Daarom kan die kerk dit nie bekostig om Korinthe te ignoreer nie. Om Korinthe te verstaan, is om die hartklop van die Nuwe-Testamentiese boodskap van verlossing in Christus uit genade alleen beter te verstaan.
Discover more from Tuis by gdssmit.com
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
