Ons vier vandag die 150ste herdenking sedert die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Dis is ‘n besondere geleentheid aangesien dit ook saamval met die eeufeesviering van Afrikaans as amptelike taal.
Gisteraand het die AP Akademie, in samewerking met die FAK, ‘n Eeufeesglansaand by die Voortrekkermonument aangebied met musiek, poësie, bekende Afrikaanse liedere en samesang ter herdenking van Afrikaans 100 en die GRA se 150 ste bestaansjaar. Baie dankie aan almal wat dit bygewoon het! Die glansaand sal binnekort op Boermedia se kanaal beskikbaar wees!
Die GRA is op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig onder leiding van Gideon Malherbe, Arnoldus Pannevis en ds. S.J. du Toit. Dié beweging het ontstaan uit die oortuiging dat Afrikaans nie ‘n verbasterde vorm van Nederlands is nie, maar ‘n volwaardige taal met eie grammatika, styl en uitdrukkings. Die stigters van die GRA het ’n strewe gehad om Afrikaans as ’n kultuurtaal op te hef en die Afrikaner se selfbeeld te bevestig in ’n tyd van Engelse oorheersing in die politiek en Nederlands as kerktaal.
Teen die middel van die 19de eeu was die meeste formele opvoeding in Nederlands of Engels. Die omgangstaal van die gewone mense, veral in die Kaap, was ’n variëteit van Afrikaans en Nederlands wat deur baie as minderwaardig beskou is. Arnoldus Pannevis het egter opgemerk dat Afrikaans in die huis, op die plaas, en in die kerk gebruik is en hy het gepleit vir ’n beweging wat dié taal sou bewaar en ontwikkel. Hy het besef dat as Afrikaans nie erken word nie, dit in die vergetelheid sou verdwyn.
Die GRA het hom daartoe verbind om Afrikaans te bevorder as taal van onderrig, godsdiens en letterkunde; en as simbool van Afrikaner-identiteit, anders as Nederlands en Engels wat Europese tale is.
Hulle het begin deur Die Patriot, die eerste Afrikaanse koerant, te publiseer in 1876 en kerklike geskrifte en Bybelgedeeltes te vertaal. Ds. S.J. du Toit was veral invloedryk in die samestelling van die Afrikaanse skryfvorme en grammatika. Die GRA het gevolglik die grondslag gelê vir die taalbeweging wat uiteindelik in die amptelike erkenning van Afrikaans in 1925 sou uitloop. Daarmee is ’n unieke Afrika-taal en ’n identiteit gevorm, wat ingebed is in die Suid-Afrikaanse landskap as meningvormer en gespreksgenoot.
Die GRA se werk het gelei tot die totstandkoming van Afrikaanse literatuur met skrywers soos Totius, C.J. Langenhoven en later N.P. van Wyk Louw; die vestiging van Afrikaans as onderrigtaal in skole en universiteite en die gebruik van Afrikaans in die kerk, veral met die eerste volledige Afrikaanse Bybelvertaling in 1933.
Die stigting van die GRA het gekom in ’n tyd van koloniale druk. As teen-koloniale beweging het die GRA die Afrikaner geleer om sy taal as ’n gawe en roeping te sien. Afrikaans kan dus tereg beskou word as ‘n inheemse taal in eie reg. Die GRA het ’n nalatenskap gelaat wat tot vandag toe nog eggo in die kerke, skole, privaat universiteite en huise van Afrikaanssprekendes.
Praat Afrikaans en moenie skaam wees vir jou taal nie, dit is ‘n gawe van God.
Discover more from Tuis by gdssmit.com
Subscribe to get the latest posts sent to your email.