Gee meer as wat jy neem

Die mens staan in verhouding tot God, die skepping en die medemens.

Ons leef egter in ’n tyd waar mense eerder vra: Wat kry ek hieruit? en: Hoe help dit my?

Die Christelike godsdiens stel ’n ander vraag: Wat kan ek gee, omdat Christus sy lewe aan my gegee het? Die Bybel stel ‘n belangrike beginsel aan elke Christen in Handelinge 20:35 –Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang”. 

Hierdie week herdenk ons Paasfees. Dit vra van ons selfondersoek en ‘n persoonlike ontleding van die vraag: Gee ek meer as wat ek neem? Dit geld op al die terreine van ‘n mens se verhoudingsdriehoek.

Hou op tel in jou verhoudings

Baie volwassenes maak soos ons kinders gedoen het toe hulle klein was: ons kinders het altyd die lekkertjies wat die ander een gekry het, getel. Ja, selfs die kleure moes dieselfde wees! Baie grootmense leef asof hulle permanent te na gekom word en almal hulle iets skuld. Dis so opvallend in ons land, veral in die politiek. Baie verhoudings word stadig afgebreek deur stilweg boek te hou van die kwaad.  Begin anders leef. Bel eerste. Sê jammer. Luister sonder om te vinnig afleidings te maak. Doen goed sonder om dit later te gebruik as bewys teen iemand. Toets jouself aan die einde van elke dag: Het ek vandag meer gegee as wat ek gevra het?

Doen meer as wat op jou kontrak staan

In die besigheidswêreld het almal ‘n kontrak en ‘n pligstaat en die beginsel is, gee net wat jy moet. Die Skrif sê, doen alles, ook jou werk, asof jy dit vir die Here doen (Kol. 3:23). Kom betyds. Werk noukeurig. Neem verantwoordelikheid, selfs waar dit nie direk van jou verwag word nie. Aan die einde van die maand, wanneer jou salaris inbetaal word, vra eerlik: Het ek hierdie maand meer waarde toegevoeg as wat ek in geld terug gekry het?

Moenie gelykop terug verwag nie

Huwelike versleg wanneer albei wag vir die ander een om eerste toe te gee of jammer te sê. Baie mense met wie ek al oor hulle huweliksprobleme gesels het, se probleem is dat beide te trots is om te erken dat hulle self foute gemaak het. In jou huwelik: wees geduldig. Gee aandag, selfs wanneer jy moeg is. Christus het vir ons die voorbeeld kom stel deur Homself te gee vir sy bruid, die kerk. Daarom word elke vrou geroep om haarself te gee aan haar man en elke man om sy vrou te eer in die voorbeeld van Christus en sy gemeente. Vra daagliks: Wat kan ek vandag gee, sonder om terug te verwag?

Leef met oop hande

Ons samelewing is gebou op selfbelang en nie omgee vir ander nie. Die Christen leef anders. Gee jou tyd. Gee hulp waar jy kan. Vra jouself: Het iemand hierdie week iets van God se goedheid beleef deur my goedheid aan ander mense?

Dra by tot die kerk

Die kerk is nie ’n restourant waar jy kan kom sit en kyk wat op die spyskaart is en na ‘n volgende een skuif as jy nie hou van die dinge wat jy sien en hoor nie. Dan is jou kerkbegrip baie oppervlakkig. Dit is die plek waar jy nie net kom kry nie, maar kom gee. Gebruik jou gawes. Ondersteun ander. Gee jou alles, ook jou geld, met oortuiging. Vra na elke erediens: Het ek iets van myself prysgegee, of het ek net ontvang?

Bewaar die natuur

Ons verhouding met die skepping wys ook of ons meer neem as wat ons gee. Die mens is van die begin af aangestel as rentmeester oor God se skepping. Genesis 2:15 sê dat die mens die tuin moet bewerk en bewaak. Dit beteken ons mag gebruik, maar ons moet ook beskerm. Ons samelewing leef dikwels met die teenoorgestelde benadering. Ons neem, verbruik, en los vir die dood agter. Moenie mors nie. Gebruik verantwoordelik. Sorg vir wat aan jou toevertrou is, jou grond, jou omgewing, jou hulpbronne. Getroue rentmeesterskap is ’n skeppingsopdrag. Vra prakties: Laat ek die skepping beter agter as wat ek dit gekry het?

Christus het eerste gegee: sy lewe vir ons s’n. Daarom gee ons ook. Nie om iets te verdien nie, maar omdat ons reeds ontvang het. Gee meer as wat jy neem – dit is die kenmerk van ’n lewe wat God eer, jou naaste dien en die skepping respekteer.


Discover more from Tuis by gdssmit.com

Subscribe to get the latest posts sent to your email.