Soos reeds in ‘n vorige deel gemeld, kyk ons in ‘n reeks artikels na lyding in die vroeg-Christelike kerk. In hierdie deel fokus ek kortliks op die gebeure wat die vervolging van die vroeë kerk ingelei het. Hiervan lees ons reeds in die Nuwe Testament. Die kruisiging van Christus sou die begin van ‘n lang en bloeddorstige stryd teen die kerk wees.Vroeg reeds na dáárdie Paasfees, word dit duidelik dat die waarskuwing van die Here Jesus, naamlik dat hulle sy volgelinge sal haat soos hulle Hom gehaat het, nie iewers in die verre toekoms wag nie, maar sommer nog in daardie selfde jaar aan die kerk se deur sou kom hamer. Kort na die gebeure van die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag, het die sukses van die prediking van die apostels en die gevolglike bekering van hoorders onder die leiding van die Heilige Gees, die lede van die Sanhedrin (die Joodse Raad) in so ‘n slegte lig gestel dat hulle Petrus en Johannes in die tronk gestop het (Hand. 4). Kort hierna het hulle van die ander volgelinge van Jesus ook in die tronk opgesluit (Hand. 5). Soos in die geval van die kruisiging van Jesus, het die woede van die leiers teenoor die kerk, die teenoorgestelde uitwerking gehad. Hoe meer die leiers probeer het om die Evangelie van Christus stil te maak, hoe meer mense het tot bekering gekom!
Weerstand teen die prediking van die apostels, asook die Joodse leiers se haat vir die Christene, het opgebou tot die uitbarsting van gebeure in Handelinge 7, toe hulle Stefanus, die eerste Christen martelaar, gestenig het. ‘n Paar jaar later (moontlik 44 n.C.), het Herodus Agrippa I, vir Jakobus, die broer van Johannes, doodgemaak (Hand. 12:2) en Petrus in die tronk opgesluit. Die vervolging van die Christene het amptelik begin. Die eerste bewyse daarvan vind ons in Jerusalem.