Die vere maak die voël – waarom dra ons klere?

Jy trek soggens aan sonder om daaroor te dink. Tog sê jou klere reeds iets oor jou voor jy ’n woord kan praat.

Klere is nie maar net materiaal nie, daar is ‘n teologie in wat jy aantrek.

Naas kos, behoort klere tot die mees basiese menslike behoeftes. Dit beskerm die liggaam, dit bied privaatheid, en dit vorm deel van elke kultuur se sosiale uitdrukking.

In die Bybel word klere egter ook gekoppel aan identiteit, aan roeping, aan eer en soms selfs aan die geestelike toestand van ’n individu of ’n groep. Ons is nie maar net biologiese wesens wat uit koolstof, suurstof en waterstof bestaan nie. Wanneer die mens voor God verskyn, doen ons dit as iemand wat sy rol en plek in God se skeppingsorde op ‘n sigbare manier uitdruk, ook in wat jy aantrek.

In hierdie artikel, bespreek ek die belangrikste Bybelse voorbeelde van klere en toon aan hoe klere ’n teologiese boodskap dra. Dit herinner ons dat selfs eenvoudige uiterlike dinge ’n etiese en geestelike betekenis het wanneer dit onder God se heerskappy staan.

 

Klere en skeppingsorde

Mans- en vroueklere in Deuteronomium 22:5

Ons leef in ‘n samelewing waarin “unisex” ‘n algemene woord geword het. Ook wat klere betref, sien min mense waarom dit nodig is om onderskeid te maak tussen “mansklere” en “vroueklere”. Ons hoor dikwels: “solank jy gemaklik is, is dit goed”. Ek is nie een van die dominees wat meen vroue mag nie broeke dra nie, so lees gerus maar verder. Daar is wel ‘n belangrike teologiese onderskeid tussen mansklere en vroueklere wat ek wil uitwys.

In Deuteronomium 22:5 gee die Here ’n opdrag dat mans en vroue nie mekaar se klere moet dra nie. Moderne lesers kan hierdie vers maklik afmaak as ‘n gedeelte wat in daardie kultuur gegeld het. Die mans het mos daardie tyd ook rokke gedra, so beteken dit ons moet dit vandag doen? Maar in die konteks van Israel het klere ’n belangrike godsdienstige funksie gehad. Die Kanaänitiese kultusse rondom Israel het dikwels rituele gehad waarin geslagsrolle verdwyn het, veral tydens rituele  waar onsedelike gedrag deel was van die heidense godsdiens. Die doel was om grense te bevraagteken en die sogenaamde “goddelike woede” te laat bedaar.

Israel moes presies die teenoorgestelde doen. Hulle moes God se skeppingsorde eerbiedig. Klere moes God se orde sigbaar uitbeeld en nie ondermyn nie. Die verskille tussen mans en vroue se klere was duidelik sigbaar, hoewel almal “rokke” gedra het. ’n Man se kleed was korter en makliker om mee te werk en sy knieë het uitgesteek. ’n Vrou s’n was langer en dikwels blouer van kleur en het tot by haar voete gekom. Die punt was dat klere ‘n aanduiding van geslag was en eer voorgestel het. Geslag was nie ’n vloeibare konsep nie. Deur hulle klere moes Israel bely dat God ’n God van orde is, en dat menslike identiteit nie deur modes bepaal word nie, maar deur die Skepper self.

Die vers is dus nie ’n voorskrif oor mode nie, maar ’n herinnering dat die volk se uiterlike praktyke hulle innerlike oortuigings moet bevestig. Dit was ‘n herinnering dat wat jy aantrek, iets sê van wie jy is en wat jy van God dink.

 

Klere as simbool van leierskap

Josef se veelkleurige mantel in Genesis 37:3

Josef se mantel is een van die bekendste kledingstukke in die Bybel. Die veelkleurige stukke en die lang moue het in die antieke wêreld ’n spesifieke boodskap oorgedra. Dit het gedui op status en roeping. Die feit dat Josef se kleed se moue so lank was, het aangedui dat hy nie nodig gehad het om in die veld saam sy broers te werk nie – een van die redes waarom hulle so jaloers was op hom. ’n Man wat werk in die veld sou kortmouklere dra. Josef se kleed was dus vir die broers ‘n duidelike teken van Jakob se voorkeur vir Josef en die status wat hy Josef reeds as ’n toekomstige leier oor sy broers gegee het.

Hier in die Bybel is klere ’n instrument waardeur God ’n groter verhaal laat ontvou. Josef se broers se jaloesie ontstaan nie omdat hulle nie sy persoonlikheid aanvaar nie, maar op grond van sy klere. Dit leer ons dat God dikwels gewone uiterlike dinge gebruik om sy voorsienige planne te laat ontwikkel. Josef se kleding word ’n teken van sy roeping as leier.

 

Klere as simbool van roeping

Priesterklere in Eksodus 28

Die priesterklere van die Ou Testament is waarskynlik die mees uitgebreide voorbeeld van klere en hulle betekenis in die Skrif. Die tabernakel, en later die tempel, was heilige ruimtes, en die priester het deur sy klere op ‘n sigbare manier die rol van middelaar vervul. Die gewone priester het eenvoudige linneklere gedra, maar die hoëpriester het ’n volledige stel kledingstukke gedra wat elk ’n bepaalde teologiese funksie gehad het.

Die blou onderkleed, die wit mantel, die gekleurde efod, die borstas met twaalf edelstene, en die goue plaatjie op die voorkop waarop “Heilig aan die Here” geskrywe staan, is alles daarop gemik om die hoëpriester se roeping te verduidelik. Hy dra die name van die stamme van Israel oor sy hart. Hy dra die heiligheid van God op sy voorkop. Hy beweeg as verteenwoordiger van die volk in die teenwoordigheid van God in die allerheiligste in. Binne-in die borstas was die Urim en Tummim waarmee God se wil gesoek is. Die klere van die priesters, moes hulle roeping sigbaar maak. Heiligheid, verantwoordelikheid en verteenwoordiging word deur hulle klere gesien.

 

Klere as getuienis van dissipelskap

Die mantel in Matteus 5:40 en Lukas 6:29

Jesus se woorde oor die bo-kleed of mantel word dikwels verkeerd verstaan as ’n pleidooi dat ons maar net passief moet aanvaar en berus as die wêreld ons vervolg. In die antieke regstelsel was die onderkleed die binneste kledingstuk, terwyl die mantel of bo-kleed die warm, beskermende buitedeel was wat as noodsaaklik beskou is. ’n Hof kon wettiglik jou onderkleed opeis, maar nooit jou mantel of bo-kleed nie.

Jesus gebruik hierdie regsverskil om ’n beginsel van dissipelskap te illustreer. Indien iemand jou onderkleed wettig opeis, gee die bo-kleed ook. Indien iemand jou bo-kleed onwettig neem, bied die onderkleed ook aan. In beide gevalle word die dissipelskap voorop gestel: die gelowige word nie gedefinieer deur selfbeskerming nie, maar deur ’n ingesteldheid wat vrede en integriteit weerspieël. Die doel is nie om jouself regverdigheid te ontneem nie, maar om aan te toon dat jou identiteit nie by jou regte begin nie, maar by jou roeping in Christus.

Jesus leer dat klere ’n toets van die hart word. Die vraag is of jy vasstaan in jou eie reg of in God se vrede? Die bereidheid om meer te gee as wat van jou verwag word, wys dat die gelowige se lewe nie deur materialisme beheer word nie, maar deur Christus se Koninkryk.

 

Klere as teken van eer

Hoofbedekking in 1 Korintiërs 11:10

Die gebruik van die hoofbedekking vir vroue in die antieke wêreld was ’n aanduiding van eerbaarheid, respek en waardigheid. Die openbare verwydering van ’n sluier het ’n belangrike sosiale betekenis gehad. ’n Vrou met ’n ontblote kop in die openbare ruimte sou maklik geassosieer word met losbandige praktyke of selfs prostitusie.

Wanneer Paulus vroue oproep om hul hoofde te bedek, wil hy nie leer dat vroue onderdruk moet word nie. Sy argument is teologies. Die gemeente moes ’n getuienis van orde en eerbaarheid wees in ’n stad soos Korinte waar seksuele losbandigheid algemeen was en sosiale norme rondom die huwelik en liggaamlikheid vaag en onbelangrik was.

Paulus fokus nie op soseer op die hoofbedekking nie, maar op die beginsel daarvan: die kerk moet nie die getuienis van Christus in die samelewing verduister nie. Geestelike vryheid mag nooit aanleiding gee tot praktyke wat ander op ’n verkeerde spoor kan plaas nie. Deur hul klere moes gelowiges wys dat hulle aan ’n nuwe orde behoort, een waarin Christus se eer voorop staan.

 

Klere as teken van geestelike toerusting

Die wapenrusting van God in Efesiërs 6:10–11

In Efesiërs 6 gebruik Paulus die beeld van ’n Romeinse soldaat se wapenrusting om die gelowige se geestelike lewe te beskryf. Elke deel van die wapenrusting word ’n metafoor vir ’n aspek van ons Christelike karakter: die gordel vir waarheid, die borsplaat vir geregtigheid, die sandale vir stabiliteit, die skild vir geloof, die helm vir redding en die swaard vir die Woord van God.

Hier word klere verstaan as geestelike toerusting en gebruik as ’n beeld van heiligmaking. Paulus kies bewustelik items wat almal in die Romeinse wêreld goed sou ken. ’n Soldaat kon nie effektief veg sonder stewige sandale nie. Hy sou gly. Net so kan ’n gelowige nie volhard sonder die standvastigheid van die evangelie van vrede nie. Die helm beskerm die kop soos redding die denke beskerm. Die borsplaat beskerm die hart soos geregtigheid die geestelike lewe beskerm. Soos ’n soldaat sy wapenrusting aantrek voor hy die veld betree, moet die gelowige hom geestelik toerus vir die geloofslewe. Klere word ’n manier om te verduidelik dat dissipelskap ’n doelbewuste, daaglikse handeling is.

 

Christus as die ware kleed

Die vervulling van die simboliek

Die Nuwe Testament toon dat die Ou Testament uiteindelik na Christus wys. Die gelowiges word opgeroep om “Christus aan te trek”, wat simbolies verwys na die omhelsing van sy geregtigheid, sy genade en sy heiligheid. In Openbaring dra die gelowiges wit klere wat reinheid, verlossing en identiteit in Christus aandui. Waar die mens in Genesis met vyeblare toegemaak word na die sondeval, eindig dit in Openbaring met feesklere wat deur Christus self voorsien word.

 

Praktiese toepassing in ons tyd: Maak dit regtig saak wat jy aantrek? 

Die kort antwoord is ja, dit maak saak. Nie omdat klere jou red nie, maar omdat die Bybel konsekwent wys dat uiterlike dinge meestal jou innerlike ingesteldheid openbaar. Klere bepaal nie hoe jou hart lyk nie, maar dit wys iets van wat in die hart aangaan.

  • Eerstens gaan dit oor identiteit. Wat jy aantrek, kommunikeer aan die samelewing wie jy is en waar jy behoort. ’n Christen leef nie identiteitloos nie. Die Bybel se oproep om “Christus aan te trek” beteken dat jou hele lewe, ook jou uiterlike, in lyn moet wees met wat jy oor Christus bely. Prakties beteken dit dat ’n gelowige nie doelbewus sal aantrek op ’n manier wat God se orde of ons eie roeping ontken nie. Kleredrag behoort nie ‘n middel te wees om aandag te trek na jouself nie, maar behoort ’n belydenis te wees dat jy aan Christus behoort. Dit beteken natuurlik nie dat jy net ‘n Voortrekkerrok moet dra of nooit ‘n kortbroek mag aantrek nie. Dit beteken in praktyk dat jy so moet aantrek dat jy in die spieël kyk en eerlik kan vra: Sien die wêreld aan my kleredrag dat ek aan Christus behoort? 
  • Tweedens raak klere eerbaarheid. Die Bybel gebruik hierdie idee konsekwent as ’n uitdrukking van respek vir God en vir ander. Eerbare kleredrag probeer nie verlei of grensverskuiwings normaliseer nie. Dit beteken beslis nie dat ’n mens slordig of sonder styl moet wees nie. Dit beteken nog minder nie dat jy volgens die mode mag aantrek nie. Inteendeel, netheid is deel van eerbaarheid. Die vraag is wel: trek ek aan dat mense my moet raaksien of trek ek aan omdat ek God wil eer? 
  • Derdens is daar die aspek van getuienis. Ten spyte van ons samelewing se idee dat groepe moet verdwyn en dat jy ‘n individu is, leef ons nie geïsoleer nie. Mense lees wie ons is, lank voor hulle jou naam ken. Eerste indrukke maak ‘n blywende indruk op mense. Wat mense van ‘n Christen dink, is dus nie maar hulle opinie nie, maar raak ook ons getuienis. In ’n samelewing waar baie grense vervaag het, word selfs eenvoudige keuses oor kleredrag deel van jou getuienis. Dit geld veral in publieke ruimtes, in die kerk, en selfs op sosiale media. Ons as Christene moenie heeltyd vra “mag ek dit of dat doen nie?” nie, maar eerder “wat sê dit of dat van my getuienis as Christen?” 
  • Vierdens is daar Christelike vryheid. Die Nuwe Testament leer dat ons vry is in Christus, maar nooit los van verantwoordelikheid nie. Jy hoef nie elke mode of tendens te volg om relevant te wees nie. Ware vryheid beteken jy kan kies om nie deur die samelewing gedefinieer te word nie. Selfbeheersing wys juis dat jy jou lewe nie deur modes en groepsdruk laat beheer nie, maar deur innerlike oortuiging.
  • Laastens moet gesê word, klere is nie die kern van die evangelie nie. Die gevaar lê aan beide kante. Aan die een kant kan ’n mens uiterlik aangetrek wees dat jy deur ‘n ring getrek kan word en innerlik boos en liefdeloos wees. Aan die ander kant kan ’n mens Christus bely, maar roekeloos leef. Die Skrif roep ons tot ’n reinheid van binne en buite.

Prakties beteken dit, kies klere wat pas by jou roeping as Christen. Wees netjies, eerbaar en sigbaar in jou identiteit. Vermy oordadigheid en vermy ook doelbewuste uitlokking.

Wat jy aantrek, bepaal nie of God jou liefhet nie. Maar dit wys wel of jy Hom ernstig opneem.

Klere herinner ons daaraan dat die mens ‘n pynlike verlede van skaamte het, en dat ons oppad is na ‘n heerlike lewe van verheerliking.


Discover more from Tuis by gdssmit.com

Subscribe to get the latest posts sent to your email.