Teen die einde van November 2020 word die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling na verwagting vrygestel. Daar was vir lank ‘n proefvertaling hiervan beskikbaar, maar dit is nie die amptelike finale vertaling nie. Die finale produk word eersdaags vrygestel.
Dit is om dié rede te verwagte dat daar teen hierdie tyd weer talle gerugte die rondte sal doen op sosiale media om dié Bybelvertaling te bevraagteken en verwarring onder kerklidmate én kerklose Afrikaners te skep.
Een van hierdie boodskappe wat tans weer die rondte doen, is die volgende:
Die 2020 Bybelvertaling word in November 2020 vrygestel. Van die vertalings is glo al beskikbaar. Die vraag ontstaan hoekom daar twee vertalings uitgegee gaan word? Die een vertaling sal die “normale” vertaling wees terwyl daar ‘n vertaling gaan wees bekend as die “hoofletter” vertaling. Hier gaan dit oor die weglating van hoofletters in die Ou Testament met spesifieke verwysing na Jesus Christus.
In Jesaja 53 word daar verwys na “Hy”. Hy wat verag is. Hy het ons krankhede op Hom geneem. Hy het ons smarte gedra. Hy is ter wille van ons deurboor .
Dertig keer plus word die woord Hy of Hom gebruik. ‘n Duidelike verwysing na Jesus Christus se koms, Sy kruisiging , Sy lyde , Sy sterwe. Nou word alles met ‘n klein letter gespel aangesien dit nie klink klaar deur die skrywer verwys na Christus nie.
Die “hoofletter” Bybel is op aandrang van die Afrikaanse Protestantse Kerk as kompromie daargestel.
Mag daar dus nêrens in die Ou Testament na Christus se koms verwys word nie? Loop die Evangelie in die Ou en Nuwe Testament nie saam soos ‘n goue draad tot en met Christus se koms nie. ? Is dit ‘n afwatering van die Skrif? Is dit weereens ‘n aanslag op die kernwaarhede van die Bybel, die geïnspireerde Woord van God?
Is hierdie mense, die geleerdes wat die Bybel vertaal het, besig om dit wat ons glo te ondermyn.?
Qua Vadis Afrikaner Christenvolk.
Ek wil graag kortliks hierop reageer. Ek het al dikwels op akademiese vlak met hierdie saak omgegaan, maar ek dink hier sal dit beter wees om die saak eenvoudig te benader.
Jesus haal uit ‘n vertaling van die Ou Testament aan
Die vertaling van die Bybel het ‘n lang geskiedenis. Selfs in die tyd van Jesus was daar verskillende vertalings van die Ou Testament beskikbaar en hoewel daar ‘n Joodse vertaling van die Ou Testament in Aramees (op sy beurt ‘n vertaling van die Hebreeuse Ou Testament) beskikbaar was, het Jesus self uit die Griekse vertaling van die Ou Testament aangehaal wanneer Hy na die tekste in die Ou Testament verwys het.
Paulus en die kerkvaders doen dit ook
Die apostel Paulus volg hierdie voorbeeld van Jesus na wanneer hy ook uit die Griekse vertaling aanhaal wanneer hy tekste uit die Ou Testament gebruik. Net so het die kerkvaders van die eerste eeue uit die Griekse vertaling aangehaal wanneer hulle die Ou Testament aanhaal. Teen die einde van die vierde eeu na Christus het Latyn as algemene spreektaal die Griekse taal al sodanig begin vervang dat meeste mense nie meer Griekse vertalings van die Bybel kon lees nie en die Latynse vertaling van die Bybel, wat bekend gestaan het as die Vulgaat, verwelkom het. Dit was die vertaling van die Bybel wat algemeen deur die kerk gebruik was tot-en-met die veertiende eeu toe Wycliffe se middel-Engelse vertaling die lig gesien het en die Latynse Vulgaat later deur die kerkhervormers van die sestiende- en sewentiende eeu vervang is met verskillende vertalings in die taal van die kerkvolk. Dit is in hierdie tyd ook in Nederlands vertaal en derhalwe het die Statevertaling die lig gesien. Dit is die vertaling wat sedert die koms van die Europeërs na Suid-Afrika onder die Afrikanervolk in gebruik was en tydens die Groot Trek op die wa saam met die trekkers getrek het die binneland van Suid-Afrika in.
Daar bestaan al jare behoefte aan ‘n nuwe vertaling
Met die ontwikkeling van Afrikaans as moedertaal, het die behoefte aan ‘n vertaling in Afrikaans onder die kerkvolk gegroei totdat die eerste proefvertalings van die Bybel in Afrikaans uitgeloop het op die vertaling van die Bybel in Afrikaans in 1933 en die hersiene uitgawe daarvan in 1953. Ons moet onthou dat hierdie vertaling grootliks gebaseer was op die Nederlandse Statevertaling en nie uitsluitlik op die Hebreeuse en Griekse manuskripte van die Ou- en Nuwe Testament nie (redigering 29/10/2020 – dit beklemtoon dat daar reeds vir baie jare ‘n behoefte aan ‘n vertaling bestaan wat minder Nederlandse woorde bevat).
Die 1983 vertaling was nie vir almal aanvaarbaar nie
Met die verskyning van die 1983-vertaling van die Bybel was daar by baie mense groot teleurstelling oor veral twee sake: die gebruik van die dinamies-ekwivalente-vertalingsmetode (wat die Bybel nie woord-vir-woord vertaal nie, maar die boodskap van die teks probeer weergee), en tweedens die verandering van die hoofletters in die persoonlike voorname, “Hy” en “Hom”, waar dit in die Ou Testament op Christus slaan, in kleinletters. Gevolglik was daar met die verskyning van die 1983-vertaling van die Bybel in Afrikaans nie konsensus onder Afrikaanssprekende gelowiges dat dit ‘n goeie vertaling van die Bybel was nie. Dit het daartoe gelei dat talle kerke, onder andere die Afrikaanse Protestantse Kerk, nie die 1983 Bybelvertaling as amptelike vertaling van die kerk aanvaar het nie.
Daar was egter al vir baie dekades die behoefte onder Afrikaanssprekende gelowiges om ‘n vertaling van die Bybel te hê wat die grondtekste van die Bybel letterlik vertaal, of ten minste so na as moontlik aan die letterlike, maar ook in ‘n taal wat vandag algemeen gepraat word. Die behoefte is ook reeds lankal uitgespreek dat dié vertaling óók die tekste in die Ou Testament wat na Christus verwys, met hoofletters moet vertaal.
Dit is daarom te verstane dat baie gelowiges wat uitgesien het na ‘n direkte vertaling van die Bybel in Afrikaans, met groot teleurstelling kennis geneem het dat in die vertaling waaraan sedert 2005 gewerk word, weer kleinletters vir tekste in die Ou Testament wat na Christus verwys, gebruik gaan word. Ons argument toe ons beswaar gemaak het in Oktober 2009 teen die beplande Afrikaanse vertaling waarin die tekste wat na Christus verwys in die Ou Testament met kleinletters vertaal sal word, was dat ‘n Christen mos nie kan aanvaar dat daar geen profesie oor die Here Jesus Christus in die Ou Testament is nie. Dit is die aandrang oor eeue heen in die Gereformeerde kerkfamilie dat Christus (ook vanuit die Ou Testament) verkondig moet word. Op grond hiervan is besluit dat die AP Kerk die eerste konsep sou voorlê en dat ander kerke wat betrokke wil wees, kan saamwerk aan ‘n “hoofletter-uitgawe” van die vertaling waarin die Messiaanse tekste wat in die Ou Testament na Christus verwys, met hoofletters vertaal sal word.
Talle pogings om die projek te ontspoor, misluk
Sedert die begin van die vertalingsprojek was daar pogings om die Afrikaanse Bybelvertaling verdag te maak (lees byvoorbeeld hier). Vir die afgelope 15 jaar word boodskappe op sosiale media rondgestuur om die vertaling te probeer ontspoor en gelowiges aan te moedig om die boodskappe te versprei. In die meerderheid gevalle was die boodskappe gemik op die feit dat Christus sogenaamd “uit die Bybel uitvertaal word”. Nou dat daar op aandrang van behoudende Christene ‘n vertaling die lig sien waarin Christus in die Ou Testament erken word en tekste met hoofletters vertaal word, word dit as ‘n “kompromie” beskryf. Die soort opmerkings bereik na my mening niks anders as om onkunde oor die hele proses en die werk wat gedoen is om dit te verwesenlik, te verraai nie.
Weerstand is te verwagte
Een van die kenmerke van ‘n nuwe vertaling van die Bybel, is dat dit aanvanklik heelwat weerstand ontlok. Dit is te verstane, aangesien mense geneig is om te wil vashou aan wat bekend is, en nie graag die onbekende verwelkom nie. Ongelukkig veroorsaak onkunde oor die proses van vertaling en die doel van Bybelvertaling deesdae heelwat verwarring onder gelowige Afrikaners, wat wonder waarom nog ‘n vertaling van die Bybel in Afrikaans nodig is en of die negatiewe gerugte oor die vertaling waar is?
Christene moet altyd die volle waarheid hoor, voor ons besluit
Dit is met die oog op hierdie soort vrae en verwarring wat bestaan, dat dit nodig is dat Afrikaanssprekende gelowiges die volle prentjie kry en nie op sleeptou geneem moet word deur halwe waarhede nie.
Die boodskap waarna ek hier bo verwys het, maak egter die aanname dat dit die posisie is wat onder die meeste gelowiges aanvaar word: dat Christus uit die 2020 vertaling uitvertaal word.
Ek twyfel sterk of die deursnee Afrikaanssprekende gelowige al diep oor die saak gedink het. Aanvaar hulle dit nie maar net omdat hulle daaraan gewoond is omdat dit so in die vertaling wat hulle sedert 1983 gebruik, gedoen is nie? Daar is egter ‘n definitiewe alternatief. Die boodskap hier bo verwys ook tereg daarna, maar ongelukkig binne ‘n konteks wat die “hoofletter”-vertaling baie verdag laat voorkom. Lees byvoorbeeld die woordjie “kompromie” raak in die volgende sin: “Die “hoofletter” Bybel is op aandrang van die Afrikaanse Protestantse Kerk as kompromie daargestel”.
Dit is wel jammer dat daar ‘n Bybelvertaling verskyn waarin die tekste wat Messiaanse toepassing het, nie met hoofletters vertaal word nie. Die argumente daaragter wissel, maar kom hoofsaaklik daarop neer dat dié wat dit voorstaan meen dat die verwysings in die Ou Testament na die Messias binne Joodse verwagting verstaan moet word wat ‘n aardse messias verwag het wat die Joodse volk van hulle oorheersers sou bevry en sy koninkryk in Jerusalem vestig, en nie binne die eerste konteks na Jesus Christus verwys nie, hoewel hulle erken dat dit in die lig van die Nuwe Testament op Christus van toepassing gemaak kan word – vandaar die voetnotas in die vertaling wat die Nuwe-Testamentiese toepassing meld. Ek stem persoonlik nie met hierdie argumente saam nie en dit is een van die hoofredes waarom ek my volle gewig ingegooi het om die “hooflettervertaling” die lig te laat sien en enduit ‘n groot bydrae gelewer het om dit te verwesenlik. Ek dink egter nie dit is billik om die bona fides van die ander kant onverhoord te oordeel nie.
Die ”hooflettervertaling” is geen ‘kompromie’ nie
Dit was op aandrang van die AP Kerk dat die Bybelgenootskap besluit het om ‘n komitee saam te stel uit kerke wat die Messiaanse tekste in die Ou Testament met hoofletters wil vertaal. Dit was ook die leeue-aandeel van die AP Kerk wat die eerste tekste op die tafel geplaas het vir bespreking. Ek was sedert die begin van hierdie vertaling by die proses betrokke en kan getuig van baie jare se worsteling en oorweging wat geskenk is aan elke iedere teks in die Ou Testament: of dit met ‘n hoofletter vertaal kan of moet word. Teen die einde van die projek, is daar meer tekste in die 2020 vertaling met hoofletters as in die 1933/1953 vertaling van die Bybel. Aangesien ek een van die vertalers van die 2020 Bybelvertaling was en ook een van die medewerkers aan die “hooflettervertaling” sedert die AP Kerk die versoek aan die Bybelgenootskap gerig het vir ‘n hoofletter-uitgawe van die Bybel, kan ek getuig dat die Bybelgenootskap met erns en opregtheid geluister het na ons besware en nooit voorgeskryf het watter tekste as heenwysings na Christus verstaan moet word en watter nie, maar ons die ruimte gegee het om ons oortuiging dat Christus in die Ou Testament teenwoordig is, te handhaaf in die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling met hoofletters. Daar is dus geen sprake daarvan dat die hoofletter-uitgawe van die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling as ‘n “kompromie” beskou kan word nie, maar as Woord van God met volle erkenning aan Christus se besondere plek in die Messiaanse verwagtinge van die Ou Testament.
Die boodskap wat die rondte doen dat die 2020 “hooflettervertaling” ‘n kompromie is, en dat Christus uit die Ou Testament “uitvertaal” word, wil dus gevolglik die spreekwoordelike kind met die badwater uitgooi en gaan nie eerlik met die ooglopende feite om nie.
As Christene moet ons ons nie met halwe waarhede ophou nie, want ‘n halwe waarheid, is ook ‘n leuen.