In Genesis 1:2 word תהום soos volg vertaal in die verskillende vertalings:
1953 vertaling:
En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.
1983-vertaling:
Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.
2020-vertaling:
Die aarde was woes en leeg, en donkerte was oor die oerwater.
Waarom het die 2020-vertaling ”oerwater” in die vertaling?
Een van die vrae wat ek onlangs gekry het oor die vertaling van die woord “wêreldvloed” (soos in die 1953 vertaling) in die 2020 vertaling, was of die woord “oerwater” die beste keuse was en nie moontlik verkeerdelik verstaan kan word in terme van die evolusieteorie nie?
Die Hebreeuse woord wat hier ter sprake is, is die woord תְּהוֹם (uitgespreek as těhôm). Dit is nogal ‘n baie moeilike woord om te vertaal: ‘n mens kan dit ook sien in die manier hoe verskillende vertalings rondval met moontlikhede oor die woord se vertaling (vergelyk bv. ook verskillende Engelse vertalings se groot verskille in dié verband).
Wanneer ons enige gedeelte van die Bybel vertaal, is dit nodig om nie die huidige konteks waarin die woord verstaan word, te vertaal nie, maar eerstens die primêre konteks waarin die woord verstaan sou word, te erken. Dit is met die oog hierop dat daar soveel verskille tussen vertalings bestaan oor die moontlike vertaling van die woord těhôm.
Verskillende moontlikhede vir die vertaling van die woord, is:
- Oneindigende diepte
- Waters onder die aarde
- Oeroseaan
- Wêreldvloed
Kyk ook na die figuur hier onder:
Uit: Die Bybel, 2020 vertaling met hoofletters, p. 384. Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
In die tyd van die Ou Testament was die wêreldbeeld van die mense, in die figuur hier bo uitgedruk, dat die aarde gegrondves is op pilare, met water onder die dieptes van die aarde (onpeilbare diepte in die figuur). Wat die 2020-vertaling dus in gedagte het, is dat die oerwater verwys na hierdie ”onpeilbare diepte” van die wêreldbeeld van die tyd. Dit impliseer vir my nie dat ons vanuit ‘n moderne konteks na die antieke wêreldbeskouing moet kyk in ‘n hovaardige houding, en hulle (die antieke mens) jammer kry oor hulle nie ”ons wêreldbeeld” gehad het nie. Dit wil juis onderstreep dat dit vir my belangrik is om na die konteks van die Skrif te kyk voordat dogmatiese aannames gemaak word wat gebaseer is op ons moderne wêreld en ons moderne vraagstukke en waarin die konteks van die tyd alleen deur die bril van ‘n spesifieke tyd (ons tyd) bekyk word. Ons kan maklik vergeet dat die kerk begin het by Adam en Eva. Ek sien heeltemal te veel skrywers wat voorgee om ”behoudend” te wees, en hulle hele redenasie waarom ”die res” dan verkeerd sou wees, hoofsaaklik baseer op bronne sedert die reformasie, asof die kerk toe eers ontstaan het.
Wat word met ”oeroseaan” of ”oerwater” bedoel?
Uit Skrifkritiese kringe word beweer dat Genesis 1:2 verstaan moet word vanuit die invloed wat die ou Babiloniese wêreldbeeld op die skrywers van die Ou Testament gehad het en dat die skrywer van Genesis téénoor die Babiloniese wêreldbeeld wil verduidelik dat dit God is wat geskep het. Ons sien hierdie aanname ook in die inleiding van die 2020-vertaling op Genesis waar gemeld word dat die boek in die tyd van die Babiloniese baliingskap sou ontstaan het. Dit is egter hoogs te betwyfel of die Skrifkritiese aanname dat Moses nie die outeur van Genesis was nie, en of die boek in die tyd van die Ballingskap ontstaan het, korrek is, aangesien die Rabbynse verklaarders asook die vroeë kerk geen twyfel gehad het oor die herkoms en outeurskap van die boek nie.
Sonder om in ‘n lang debat daaroor te gaan, kan ons nie aanvaar dat Genesis uit die ballingskap-tyd dateer nie.
Die gevaar in die gebruik van die woord ”oerwater” bestaan daarin, dat die afleiding gemaak kan word dat God nie alles, ook die materie waaruit die aarde bestaan, geskep het nie, maar dat Hy met reeds bestaande stof/materie gewerk het. Indien die woord těhôm dan verstaan word in so ‘n konteks en ook nog vanuit die ballingskap en die Babiloniese mites, sou ‘n mens tereg kon meen dat die vertaling ”oerwater” verdag voorkom, en selfs die creatio ex nihilo (skepping uit niks) kanselleer. Ek is egter van mening dat, hoewel die outeurskap en tyd van ontstaan in die 2020-vertaling se inleiding op die tradisiekritiek berus en ons nie daarmee kan saamstem nie omdat dit nie die tradisionele kerklike standpunt verteenwoordig nie, dit steeds nie die konteks van die woord in die Hebreeuse teks verander nie. Ek is dus, ongeag my verskil met die inleiding op die Genesis-boek in die 2020-vertaling, van mening dat die woord těhôm wel vertaal kan word met verwysing na ‘n ”watermassa onder die aarde wat nog nie gevorm en georden was nie” in aansluiting met die vorige vers wat meld dat die skepping ”woes en leeg” was.
Dit is duidelik dat selfs Calvyn nie die woord těhôm altyd dieselfde vertaal het nie.
In sy kommentaar op Genesis, vertaal hy die woord met ”kloof” en in ander gevalle volg hy die Latynse Vulgaat met ”abyssi” – dit is ”oneindigende diepte”, en merk in sy kommentaar op Genesis op dat niks voor die skepping stabiel of te onderskeie was nie. ‘n Mens sou dit dus na my mening ook kon vertaal met ‘n deurmekaar watermassa voor daar orde gekom het(GDS). Ons moet in gedagte hou dat Calvyn in sy tyd, en natuurlik ook die gelowiges in die tyd van die Ou Testament, nie bekend was met die evolusieteorie nie. Dié inligting was eers bekend sedert die middel-1800’s. Ons moet ook in gedagte hou dat těhôm in werklikheid die gedagte van iets onheilspellends en vreesaanjaend wil weergee, en nie ligtelik met sinonieme vertaal moet word nie.
Die vraag of ”wêreldvloed” nie ‘n beter vertaling sou wees nie, hang af van die leser? Sommige lesers is bekend met die woord vanuit die 1953-vertaling. Maar selfs die woord ”wêreldvloed” is ‘n woord wat omskryf moet word aangesien dit nie duidelik is waarna die woord verwys sonder om die antieke wêreldbeeld in gedagte te hou nie.
Die vertaling van die woord ”těhôm” moet dus na my mening nie verstaan word binne die moderne konteks nie, en kan tereg vertaal word met ”wêreldvloed” of ”oneindigende diepte”, of selfs ”oerwater”, in ag geneem dat dit dan verstaan moet word binne antieke konteks wat die onheilspellende en vreesaanjaende toestand voor die skepping wil beklemtoon.