Foto: Geneem by die Kerk van die aankondiging, Bethlehem, Israel, 2019
Kyk na die volgende verse…
In Genesis 1:26 lees ons dat die mens na die beeld van God geskape is.
”En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis… “(1953 vertaling).
Maar lees hoe het die 1983-vertaling die vers vertaal:
”Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld… “(1983-vertaling)
Is die mens God se verteenwoordiger?
Die gedagte van die mens as ‘n verteenwoordiger van God kom reeds ‘n paar jaar vóór die 1983-vertaling voor by onder andere Gerhard von Rad se teologie, waar hy byvoorbeeld in sy kommentaar op Genesis (Old Testament Library: Revised, p.60) skryf: ”Just as powerful earthly kings, to indicate their claim to dominion, erect an image of themselves in the provinces of their empire where they do not personally appear, so man is placed upon earth in God’s image as God’s sovereign emblem. He is really only God’s representative, summoned to maintain and enforce God’s claim to dominion over the earth.”
Von Rad het in navolging van Hermann Gunkel, wat op sy beurt dele van die Ou Testament as legendes beskou het, die idee ontwikkel dat die Bybelskrywers nie outeurs van die onderskeie Bybelboeke was nie (bv. Moses het nie Génesis geskryf nie, meen hy), maar dat die Bybelskrywers net redakteurs was, wat verskillende tradisies van die tyd bymekaar gevoeg het in ‘n literêre werk. Von Rad se teologie het ‘n groot invloed gehad op die teologiese skole in die daaropvolgende jare en dié teologie is by meeste teologiese fakulteite sedert die 1970’s gevolg, ook in Suid-Afrika. Dié standpunt oor die outeurskap van Bybelboeke word vandag deur baie teoloë nagevolg. Omdat von Rad nie erg gehad het aan die manier hoe die kerk ‘n teks deur die eeue heen verstaan het nie, is dit te verstane dat hy ‘n vreemde vertaling van die bekende woord ”beeld” na ”verteenwoordiger” kon duld.
Ongelukkig kan die woord ”verteenwoordiger” (was dit von Rad se invloed?) in die 1983-vertaling met reg baie kritiek uitlok. Waarom? In die woord “verteenwoordiger” of “ambassadeur” kan ‘n deïsme verstaan word, waarin God die skepping aan sy lot oorgelaat het, en net by tye “ingryp” om die lot te verander. So ‘n soort teologie is vreemd vir die kerk. Ons glo mos dat God altyd, oral teenwoordig is: waarom sou dit nodig wees om ‘n verteenwoordiger aan te stel? Want ‘n verteenwoordiger of diplomaat word mos iewers heen gestuur wanneer iemand anders (die koning of president) nie in persoon daar kan wees nie, nie waar nie?
Is die mens dan God se verteenwoordiger op aarde? Nee, nooit in dié verband soos hier bo nie! God is nie weg nie, Hy is hier en ons het nie nodig om Hom te verteenwoordig nie.
Ons is na God se beeld geskape
Sonder om in te veel besonderhede in te gaan, verstaan ons dat die mens na die beeld van God geskape is, en dat dit beteken dat die mens voor die sondeval van Adam en Eva volmaakte kennis, geregtigheid en heiligheid gehad het (vgl. Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 6; Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 14). Calvyn skryf in sy kommentaar op Genesis dat die beeld van God nie vernietig is na die sondeval nie, maar dat daar steeds ‘n oorblyfsel daarvan in die mens agtergebly het. Die beeld van God is ook nie net in gelowiges nie, maar in alle mense (Calvyn, Institusie 3.7.6). In kort kom dit daarop neer dat ons verstaan onder “beeld” van God dat God ons gemaak het – ons is dus sy eiendom; ons ”lyk” soos God, met ander woorde ons dra sy karaktertrekke; ons kan met Hom kommunikeer en Hy kommunikeer met ons; die mens kan in ‘n volmaakte verhouding met God staan, as Christus die verhouding herstel het en ons sal weer ten volle heilig wees in die lewe hierna.
Lees bietjie hoe die Septuagint (Griekse vertaling van die Ou Testament) wat die “Bybel van die vroeg-Christelike kerk” was, die vers stel:
Ποιήσωμεν ἄνθρωπον κατʼ εἰκόνα ἡμετέραν καὶ καθʼ ὁμοίωσιν
Vertaling: ”Laat Ons ‘n mens maak, volgens ons beeld en soortgelyk aan ons” .
En die 2020-vertaling?
”God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding…” (2020 vertaling Hooflettervertaling). Die woord afbeelding wil beklemtoon dat die mens nie God is nie, maar hoogstens ‘n skynsel van Hom.
Die 2020 vertaling het dus weer teruggekeer na die vertaling van die mens wat geskape is na die beeld van God, in ooreenstemming met die kerklike tradisie, die grondteks en die belydenisskrifte!