Ek is dankbaar om aan te kondig:
Die volgende publikasie – Gebore vir ‘n tyd soos hierdie. ‘n Kommentaar op die boek Ester – is op 26 Januarie 2026 vrygestel deur Lig in Duisternis-uitgewers.
Die publikasie verskyn onder outeurskap en redaksie van myself en ds. Schalk Strauss, met verskeie teoloë as medewerkers. Die publikasie gee ‘n gereformeerde perspektief op die boek Ester en fokus onder andere op die verklaring, apokaliptiek, etiek, praktiese toepassings en navorsingsgeskiedenis van dié Ou-Testamentiese boek. Daar word ook in diepte lig gewerp op die verskillende weergawes van Ester in die Masoretiese teks in vergelyking met die Septugaint se Griekse weergawe en apokriewe byvoegings.
Een van die uitnemende kenmerke van die publikasie, is dat daar nie met ‘n histories-kritiese vertrekpunt wat so algemeen in moderne teologiese werke voorkom, gewerk word nie, maar die hele boek werk vanuit die teologiese vertrekpunt van Ester as kanonieke boek wat deur die Heilige Gees geïnspireer is, en derhalwe deel is van die hele Bybelse heilsgeskiedenis en die uiteindelike vervulling in Christus.
Die publikasie is in sagteband te koop by hierdie skakel en sal ook binnekort beskikbaar wees in e-boek formaat by Amazon Kindle.
“Gebore vir ‘n tyd soos hierdie” word aanbeveel vir leraars en lidmate wat die boek Ester wil bestudeer vanuit ‘n behoudende, reformatoriese perspektief.

