Vandag vier kerke oor die wêreld Palmsondag. Palmsondag, die laaste Sondag voor Paasfees, verteenwoordig in die geskiedenis van die kerk die aanvang van die heilige week in die Christelike liturgiese kalender. Hoewel die dag tradisioneel meer in die Rooms-Katolieke kerk herdenk word, word dit wel in Protestantse kerke, onder andere in die Lutherse kerk gevier. Hierdie dag herdenk ’n belangrike laaste deel van Christus se aardse bediening, naamlik Sy intog in Jerusalem. Die gebeure van hierdie dag, wat in al vier die Evangelies (Mattheus 21, Markus 11, Lukas 19 en Johannes 12) beskryf word, het plaasgevind teen die agtergrond van politieke spanning, godsdienstige verwagting en die vervulling van Ou-Testamentiese profesieë, spesifiek dié van Sagaria 9:9.