Die naweek was sosiale media aan die gons oor Steven Anderson van die VSA wat Suid-Afrika wil besoek oor twee weke. Volgens die beswaardes het hy ‘n omstrede siening oor gays. “Die Bybel praat nie van gays nie, maar van Sodomiete” is sy standpunt. Hieroor was daar sprake dat die Suid-Afrikaanse regering poog om sy visum terug te trek om hom te verhoed om die land te besoek. Intussen het die regering ontken dat hulle so iets beplan. (opdatering: op 13/09 het die departement van Binnelandse Sake aangekondig dat Anderson wel belet gaan word om die land binne te kom).Anderson het heftig gereageer oor die poging om hom te belet om die land binne te kom (Jy kan die video kyk as jy belangstel: http://www.enca.com/south-africa/video-us-anti-gay-pastor-hits-out-at-gigaba).
Die Bybel praat reguit oor etiese kwessies soos hierdie en ons moet God meer gehoorsaam wees as mense. Almal word in sonde ontvang en gebore en almal het die opdrag om teen die sonde te stry. Dat ons as kinders van die Here uitgesproke is oor ons geloof, is reg. Die Woord maan ons in 1 Tim. 4:2-3 dat ons die Woord tydig en ontydig moet verkondig.
Nadat ek die video gesien het, kan ons egter nie Anderson se hantering van die saak goedkeur nie. Die “wat” (inhoud) van ons getuienis is vir ons ‘n ononderhandelbare beginsel. Maar die “hoe” (die manier waarop dit gedoen word) van ons getuienis, spreek uiteindelik tot die heidense hoorder: positief of negatief. Dit is die waarde van die boek wat ons by die laaste Teologiese Werksgemeenskap bespreek het (Os Guiness se Fool’s Talk wat handel oor die “hoe” van apologetiek).
Gee ons genoeg aandag aan die manier hoe ons die boodskap van die Bybel na die wêreld bring? Ek wonder of daar nie meer trefkrag in die getuienis sou wees as die leraar rustig in sy studeerkamer gaan sit het en sy argumente goed geformuleer het, sonder sy kinders se gesiggies in die agtergrond nie? Was dit nou die beste manier? Ek dink dit is ‘n goeie voorbeeld van hoe die wêreld nie sal hoor wat die kerk te sê het nie. Dink bietjie daaroor.
Kom ons as leraars gee meer aandag aan die “hoe” van ons bediening. Dit sal uiteindelik daartoe bydra dat die wêreld die kerk meer ernstig kan opneem.