Huisbesoek?

Wat is huisbesoek?

“Die ouer garde verwag dit. Die jonger garde vermy dit.

Die dominee móét dit doen, anders is daar moeilikheid”.

Die aanhaling hierbo is ‘n opmerking wat ‘n broeder eendag skertsend oor huisbesoek gemaak het.

En ongelukkig verklap hierdie tong-in-die-kies opmerkings meer van die deursnee lidmaat en ampsdraer se persepsie oor wat huisbesoek is.

Huisbesoek en die belang daarvan word voortdurend in die hedendaagse kerke onder die soeklig geplaas. Vrae soos: “Is daar tyd daarvoor?”; “Is dit nodig?”; en opmerkings soos: “Ons kan nie daarsonder nie” en “Die dominee doen nie sy werk nie” is ‘n paar opmerkings van die talle wat ek al die afgelope paar jaar oor die tema van huisbesoek gehoor het. As jy die verf van die oppervlak afkrap, kom jy agter hierdie soort opmerkings verwoord meer van ‘n pragmatisme by lidmate oor huisbesoek as ‘n beginsel wat by gereformeerde denkers pas.‘n Opmerking soos: “…volgens die Bybel…” hoor jy weinig wanneer die saak van huisbesoek bespreek word. Dikwels is dit duidelik dat die meeste lidmate nie regtig ‘n idee het waarom dit belangrik is nie, en óf dit selfs belangrik is nie.

Om dié rede dink ek dit is belangrik dat gesprekke oor huisbesoek eers begin by ‘n prinsipiële besinning oor die “wat, waar en waarom?” van huisbesoek. Talle boeke handel oor die “hoe?”, maar gaan soek ‘n bietjie na die “waarom?” en die “van waar?” oor huisbesoek, en jy sal verstom staan oor hoe min inligting oor hierdie saak in die teologie beskikbaar is.

Juis dit waaroor ek hierbo kla, was die uitdaging wat ek aanvaar het om die “waarom” en die “van waar” vrae oor huisbesoek te probeer beantwoord. En op die einde het ek besluit om dit in ‘n publikasie saam te vat, sodat iemand ná my nie die spreekwoordelike wiel van voor af hoef uit te vind nie. Die resultaat van die worsteling met hierdie belangrike en tog vae vraag, word weergegee in: Hoe doen ‘n mens huisbesoek? ‘n Praktiese Handleiding. Dit kan veral nuttig wees vir ampsdraers wat nuut in die amp verkies is. Die eerste deel oor die historiese besinning van huisbesoek, behoort vir enige lidmaat of leraar insiggewend te wees. My idee met die publikasie is dat leraars wat dit wil gebruik, hierdie handleiding aan kerkraadslede kan gee, wat minstens die ys breek vir broeders wat nie vertroud is met die “waarom, van waar, en hoe?” van huisbesoek nie.

Indien jy belangstel, kan jy die publikasie: Hoe doen ‘n mens huisbesoek? ‘n Praktiese handleiding hier aflaai:

Click to access hoe-doen-n-mens-huisbesoek-gds-smit.pdf