Wanneer Christene die Hemelvaart van Jesus Christus vier, dink ons aan die triomfantelike oorwinning van die Seun van God wat na die hemel gegaan het om vir ons plek te berei. Hierdie gebeure, soos opgeteken in Handelinge 1, is ’n sleutelgebeurtenis wat die hele Christelike lewe, ons hoop op die toekoms en ons verstaan van sending vorm.
Die Hemelvaart openbaar die verheerliking van Christus. Die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 49 vat dit mooi saam:
Vraag 49: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is (a). Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as ‘n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem (b). Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur (c) deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie (d).
(a)1 Joh 2:1; Rom 8:34. (b) Joh 14:2; 17:24; 20:17 2:6. (c) Joh 14:16; 16:7; Hand 2:33; 2 Kor 1:22; 5:5 (d) Kol 3:1.
Hy wat voorheen verwerp is, verneder is, gekruisig is, het opgestaan as oorwinnaar en neem sy plek in aan die regterhand van die Vader. Hierdie simboliek, om te sit aan die regterhand van die Vader, is ‘n uitdrukking om Christus se koninklikheid te beklemtoon. Hy is nie beperk tot tyd en plek nie; Hy heers oor alle dinge (Efesiërs 1:20–23).
Teenoor die moderne neiging om die hemel te sien as ’n vae, geestelike toestand, herinner die Hemelvaart ons daaraan dat Christus in liggaam opgevaar het. Dit bevestig die werklikheid van die vleeswording – dat God mens geword het – en dat Hy werklik vir ons sondes betaal het. Hieruit spruit ’n kragtige hoop: die opstanding en verheerliking van die liggaam is nie ’n allegorie nie, maar ’n belofte van ’n toekomstige werklikheid vir elke gelowige. Christus se teenwoordigheid in die hemel is die waarborg dat ons ook daar sal wees – in ’n herstelde skepping, met verheerlikte liggame, in die teenwoordigheid van God.
Jesus se vertrek beteken nie dat Hy afwesig is nie, maar teenwoordig is op ’n nuwe wyse deur sy Gees. Soos Hy self verklaar: “Ek gaan om vir julle plek te berei” (Johannes 14:2). Sy Hemelvaart is ’n daad van liefde: Hy tree in vir ons voor die Vader (Romeine 8:34), en Hy werk steeds aan ons heiliging deur die bediening van die Heilige Gees. Die Hemelvaart verseker ons dat Christus besig is om ons, sy liggaam – die kerk – voor te berei vir die koms van die koninkryk. Dit gee sin aan ons aardse lewe: ons word heilig gemaak vir ’n hemelse bestemming.
Direk voor sy Hemelvaart gee Christus sy laaste opdrag: “…julle sal my getuies wees… tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8). Die Hemelvaart is dus nie die afsluiting van Christus se werk en bediening nie, maar die oordrag van daardie bediening aan sy kerk. Die Heilige Gees, wat na die Hemelvaart uitgestort is met Pinkster, is die Krag vir hierdie sending. En só word sy kerk oor die hele wêreld uitgestuur. Die Hemelvaart beklemtoon dat die kerk nou die instrument is waardeur Christus in hierdie wêreld teenwoordig en aktief werk deur die krag van die Heilige Gees.
In ’n post-Christelike wêreld waar geloof vir baie mense vervaag tot geskiedenislesse of mites, of verklein word tot die aanstuur van Bybelverse oor WhatsApp, roep die Hemelvaart die kerk terug na ons oorspronklike roeping: om Christus te verkondig as Heer van alle mense. Die feit dat Christus nou aan die regterhand van God sit, beteken dat geen kultuur, geen ideologie, geen mag of regering Hom kan weerhou nie. Die kerk verkondig dus nie ’n geloof wat vreemd is aan die wêreld nie, maar ’n geloof wat elke deel van die werklikheid wil deurdring met die heerskappy van Christus.
Die engele se woorde in Handelinge 1:11 is betekenisvol: “Waarom staan julle en kyk na die hemel?” Dié vraag wys die kerk daarop dat ons nie passief mag wees en verbaas rondkyk op soek na antwoorde nie, maar tot ‘n lewenswandel geroep is wat gerig is op die wederkoms. Ons leef in die tussentyd – tussen Hemelvaart en wederkoms, en in hierdie tyd word ons geroep om met hoop, verwagting en ywer te leef. Hy is weg in liggaam, maar teenwoordig in Gees. Dit dryf ons tot getrouheid in die hede terwyl ons op sy wederkoms wag.
Die Hemelvaart is nie ’n onbelangrike gebeurtenis in die Christelike kalender nie – dit is sentraal tot ons verstaan van Christus se heerskappy, ons sending in die wêreld, en ons hoop op die toekoms. Dit herinner ons dat Christus vir ons intree by die Vader, besig is om plek voor te berei, en om ons te roep tot diens. Daarom maak die Hemelvaart saak – want dit verander nie net hoe ons na die hemel kyk nie, maar ook hoe ons op aarde leef.
Christene moenie so met hulle koppe in die hemel leef, dat hulle nie met hulle voete op die aarde is nie.
Discover more from Tuis by gdssmit.com
Subscribe to get the latest posts sent to your email.