Ester: Gebore vir ‘n tyd soos hierdie

Ek is dankbaar om aan te kondig:

Die volgende publikasie – Gebore vir ‘n tyd soos hierdie. ‘n Kommentaar op die boek Ester is op 26 Januarie 2026 vrygestel deur Lig in Duisternis-uitgewers.

Die publikasie verskyn onder outeurskap en redaksie van myself en ds. Schalk Strauss, met verskeie teoloë as medewerkers. Die publikasie gee ‘n gereformeerde perspektief op die boek Ester en fokus onder andere op die verklaring, apokaliptiek, etiek, praktiese toepassings en navorsingsgeskiedenis van dié Ou-Testamentiese boek. Daar word ook in diepte lig gewerp op die verskillende weergawes van Ester in die Masoretiese teks in vergelyking met die Septugaint se Griekse weergawe en apokriewe byvoegings.

Een van die uitnemende kenmerke van die publikasie, is dat daar nie met ‘n histories-kritiese vertrekpunt wat so algemeen in moderne teologiese werke voorkom, gewerk word nie, maar die hele boek werk vanuit die teologiese vertrekpunt van Ester as kanonieke boek wat deur die Heilige Gees geïnspireer is, en derhalwe deel is van die hele Bybelse heilsgeskiedenis en die uiteindelike vervulling in Christus.

Die publikasie is in sagteband te koop by hierdie skakel en sal ook binnekort beskikbaar wees in e-boek formaat by Amazon Kindle.

“Gebore vir ‘n tyd soos hierdie” word aanbeveel vir leraars en lidmate wat die boek Ester wil bestudeer vanuit ‘n behoudende, reformatoriese perspektief.

A Protestant engagement with the Martyrdom of Perpetua and Felicity

Indien iemand belangstel, hier is my nuutste akademiese stuk oor die Martelaarskap van Perpetua en Felicitas op Academia.edu (Neem kennis: dit is in Engels). Ek plaas dit hier indien daar leraars of studente is wat dit wil lees.

Kies hier om dit te lees…

Perpetua en Felicitas in die arena in Kartago.

Opsomming:

Die Passio Perpetuae et Felicitatis (die Martelaarskap van Perpetua en Felicitas) is ’n belangrike teks binne die vroeg-Christelike martelaarsliteratuur. Akademici het dit reeds uitgelig as ’n werk wat historiese konteks, literêre vorm, geslagsdinamiek, teologiese simboliek en ekklesiologiese betekenis het. Dit speel af binne die sosio-politieke milieu van Kartago in die tweede-derde eeu na Christus.

Hierdie studie ondersoek hoe die martelaarskap van Perpetua en Felicitas die Romeinse gesag uitgedaag het en terselfdertyd die Christelike identiteit bevestig het. Perpetua se visioene, tesame met die teks se simboliek, metafore en sakramentele motiewe, toon dat die Passio beide ’n getuienis van geloof te midde van vervolging was en ’n vroeg-Christelike teologiese werk met eskatologiese en ekklesiologiese diepte.

Moderne patristiese navorsing beklemtoon dikwels kwessies oor geslag, status en die rol van vroulike stemme in die kerk. Perpetua se outobiografiese bydrae tot die teks self en haar visioene word daarom dikwels geïnterpreteer deur die bril van feministiese, Montanistiese en martelaarsteologiese raamwerke, hoewel nie altyd vanuit ’n Protestantse hoek nie.

Hierdie studie oorweeg hierdie benaderings vanuit ’n Protestantse perspektief, wat die betekenis van die teks bevestig maar terselfdertyd waarsku teen interpretasies wat dit losmaak van sy leerstellige en buite-Bybelse grondslag.

Mag die Christen hom of haar verset teen die staat?

Vir die wat navraag gedoen het, hier is die skakel na my aanbieding van die tema “Verskillende Bybelse modelle vir Christelike verset” by die APA Teologiese konferensie op 27 Januarie 2020. By dieselfde geleentheid het adv. Nadene Badenhorst van Freedom of Religion SA saam met my opgetree met die tema “Die kerk en die regstelsel: Verset teen polities-korrektheid”. Nadene se aanbieding sal binne die volgende week of wat beskikbaar wees. Ek hou julle op hoogte.

 

Maak die wonder weer wakker!

So nou-en-dan sien ‘n publikasie die lig wat jou aangryp, ja wakker maak en opnuut weer laat belangstel in die wonder van die wonderwerke wat elke dag se bestaan opnuut bewonderenswaardig maak.

Een so ‘n publikasie het onlangs verskyn en is die moeite werd om te lees. Die naam is:  Awakening Wonder: A Classical Guide to Truth, Goodness & Beauty deur dr. Steve Turley. Turley het geen bekendstelling nodig in konserwatiewe teologiese kringe nie en hierdie boek bied werklik ‘n nuwe kyk op hoe die rasionalisme ons wêreld en ons denkraamwerk so kom verander het, dat baie mense in die greep van liberalisme eintlik niks anders is as post-Christene nie, al sou hulle hulself met die Christelike geloof vereenselwig. Continue reading