Belasting in die antieke wêreld

Foto: Romeinse reliëf wat ’n sensus en administratiewe registrasie uitbeeld, ’n kernpraktyk waarop Romeinse belasting gehef is (in openbare domein beskikbaar – Wikimedia Commons)

Niemand hou van belasting nie

Mense was nog nooit baie gretig om belasting te betaal nie. Dit was so in die antieke wêreld en dit is steeds so vandag. Sodra ’n owerheid aan iemand se inkomste, grond of besittings raak, ontstaan daar vrae oor die bestuur daarvan, wantroue oor die aanwending en soms openlike weerstand. Belasting raak immers altyd nie net iemand se geld nie, maar is ook ‘n kragtige wapen om gesag af te dwing, regverdigheid te toets en vertroue te bewys, of te verloor.

Soos wat dit ook vandag beskou word, het belasting in die antieke wêreld dikwels gevoel soos iets wat van bo af afgedwing word, sonder dat gewone mense veel teruggekry het. Vir baie was belasting nie beskou as ’n bydrae tot die verbetering van die gemeenskap nie, maar ’n teken van onderwerping aan Romeinse gesag. Dit geld veral vir die onderdane van die antieke Romeinse Ryk, waar belasting deel was van ’n groter stelsel van politieke beheer.

Om die Romeinse belastingstelsel te verstaan, moet dit dus nie net as ’n ekonomiese meganisme gesien word nie, maar as ’n instrument van mag en effektief in die afdwing van gesag. Dit het bepaal wie dra die belastingplig, wie word beskerm, wie hoef nie belastings te betaal nie, en wie het inspraak in die hantering daarvan. Hierdie vrae is nie vreemd aan ons eie konteks nie. Daarom bly die Romeinse voorbeeld van belasting relevant in ons tyd, ook vir Suid-Afrika vandag.

 

Die doel van belasting in Rome

Vir Rome was belasting noodsaaklik om drie dinge te onderhou. Eerstens moes dit die weermag finansier. Die instandhouding van Rome se mag het op sy leër gerus, en soldate moes betaal word en tevrede gehou word sodat hulle die pax Romana (Romeinse vrede) in stand kon hou. Tweedens moes belasting die administrasie van die ryk moontlik maak, met goewerneurs, amptenare en openbare werke wat groot bedrae geld benodig het. Derdens moes dit politieke stabiliteit help handhaaf. Nuwe infrastruktuur is normaalweg nie uit die belastings betaal nie. Daarvoor moes ryk weldoeners skenkings maak en diegene het gewoonlik verwag dat hulle name op die hoeksteen van die gebou moes verskyn om hulle eer te vermeld. 

Belastings was deel van Rome se strategie om ’n enorme en uiteenlopende ryk te beheer. Daarom het die belastingstelsel oor tyd ontwikkel en verander, veral toe Rome van ’n republiek na ’n keiserlike ryk oorgegaan het.

 

Soorte belastings

  • Direkte Belastings

Tributum Capitis (Kopbelasting)

Tributum capitis beteken letterlik “belasting op die kop of persoon”. Dit was ’n belasting wat op individue gehef is, veral in die verskillende Romeinse provinsies. Die bedrag was dikwels gebaseer op ’n sensus, dit wil sê ’n amptelike opname van mense en hul besittings. Ons lees in Lukas 2:1-4 dat Josef en Maria na Betlehem opgegaan het tydens die sensus van keiser Augustus. Belastingpligtigheid is op grond van hierdie sensusse bepaal. 

Hierdie belasting het swaar gerus op gewone mense. Dit was persoonlik en moeilik om te ontduik. Daarom het dit dikwels woede en weerstand ontlok. In baie provinsies is dit ervaar as ’n teken dat die bevolking onder Romeinse gesag staan, sonder volle regte en daarom was daar veral onder nie-Romeine groot weerstand teen die betaal van belasting. 

Tributum Soli (Grondbelasting)

Tributum soli was ’n belasting op die besit van grond. Dit is bereken op grond van die grootte, ligging en produktiwiteit van die grond. Hoe beter die grond, hoe hoër die belasting.

Hierdie belasting het veral boere en grondeienaars geraak. Die antieke samelewing was hoofsaaklik boere. In ’n landbou-ekonomie was dit ’n groot las, veral in jare van droogte of swak oeste. Tog het Rome min ruimte vir uitsonderings gelaat en was hierdie belasting van die swaarste.

’n Belangrike punt is dat Romeinse burgers ná 167 v.C. grootliks van hierdie belastings vrygestel is. Dit het dus beteken dat die meerderheid Romeinse burgers baie ryk geword het, teenoor die nie-Romeinse burgers wat die swaar grondbelastings moes betaal en dikwels daardeur verarm is. Dit het die gevoel van ongelykheid onder nie-burgers versterk en het bygedra tot politieke spanning binne die ryk.

  • Indirekte belastings

Portoria (Doeaneheffings)

Portoria was belastings op goedere wat ingevoer, uitgevoer of oor land en see vervoer is. Dit is gehef by hawens, markte en grensposte, waarvoor tollenaars regoor die ryk aangestel was.

Hierdie vorm van belasting was minder sigbaar vir die gewone mense, maar het bygedra daartoe dat stede wat aan die kus geleë was en hawens bedryf het, normaalweg baie ryker was as die stede in die binneland. Die effek van die belastings is in goedere se pryse ingewerk, sodat mense nie altyd besef het hoeveel hulle werklik betaal nie. Juis daarom was dit polities veiliger vir die owerheid om hierdie belastings so hoog as moontlik te maak.

Vectigalia (heffings)

Vectigalia was ’n versamelterm vir verskeie indirekte belastings. Dit het onder andere ingesluit belastings op mynbou, soutproduksie, handel en die vissersbedryf. Hierdie stelsel het aan Rome ’n konstante inkomste verskaf sonder dat daar voortdurende direkte konfrontasie met die bevolking was. Dit wys hoe slim belastingbeleid as politieke instrument gebruik word.

 

Die publicani in die Republiek

In die republikeinse tydperk (509 v.C. tot 27 v.C.) het Rome dikwels privaat kontrakteurs gebruik om belasting in te vorder. Hierdie mense is publicani genoem. Hulle het vooraf ’n vaste bedrag aan die staat betaal en moes dan soveel moontlik belasting invorder om hulle kostes te dek. Wat hulle ookal meer kon insamel, was hulle persoonlike wins. Hoewel daar in teorie ‘n perk was aan wat hulle wettiglik mag insamel, was die toepassing van die wet baie moeilik.  Hierdie stelsel het tot ernstige misbruik gelei. Die publicani het dikwels meer ingevorder as wat wettig was. Nie-burgers is veral uitgebuit omdat hulle nie toegang gehad het tot die Romeinse regstelsel om klagtes aanhangig te maak nie, en korrupsie was algemeen. Sodanig het die publicani gewoonlik baie ryk geword maar was gehaat deur die nie-burgers van die Romeinse ryk. Op grond hiervan was Rome se gesag ondermyn en onrus dikwels aangewakker.

Met die koms van die keiserlike ryk (27 v.C. tot 476 n.C. in die Weste, en tot 1453 n.C. in die Ooste) is hierdie belastingstelsel geleidelik hervorm. In die tydperk het die keisers meer direkte beheer oor belastinginvordering geneem. Staatsamptenare is oral aangestel om namens die keiser die bestuur van die ryk te behartig en daar is ten minste ‘n poging aangewend om uitbuiting te beperk, hoewel dit nie altyd baie suksesvol was nie. Die keisers het hierdie hervormings beskou as noodsaaklik om die ryk stabiel te hou. Rome het besef dat onregverdige belastingstelsels uiteindelik tot rebellie lei.

In 6 n.C. het keiser Augustus ’n nuwe belasting ingestel, bekend as die vicesima hereditatium (twintigste van die erfporsie). Dit was ’n 5 persent (een-twintigste)  belasting op erflatings. Hierdie belasting was vir ‘n verandering op Romeinse burgers van toepassing gewees, en nie op nie-Romeinse inwoners nie. Die inkomste is gebruik vir die militêre skatkis wat soldate se pensioene gefinansier het. Hierdie belasting was polities ‘n slim skuif gewees. Dit het ’n stabiele inkomste vir die leër verseker, Augustus se beheer oor die weermag versterk, en tog die elite tevrede gehou deur naby familielede dikwels vry te stel van die belasting.

 

Vergelyking met Suid-Afrika

Wanneer ’n mens na Suid-Afrika kyk, is die ooreenkomste opvallend. Baie mense ervaar dat hulle baie betaal, maar min terugkry in terme van dienslewering, veiligheid en infrastruktuur. Daar is egter ook ‘n belangrike verskil: in Rome het die meerderheid bygedra om die minderheid te onderhou; in Suid-Afrika dra ’n relatief klein groep belastingbetalers die grootste deel van die belastinglas.

Soos in Rome, ontstaan wantroue wanneer belastinginvordering nie gepaard gaan met aanspreeklikheid nie. Korrupsie, wanbestuur en gebrek aan sigbare resultate ondermyn die morele grondslag van belasting.

Die geskiedenis van Rome het geleer dat geen ryk op dwang alleen kan voortbestaan nie. Vertroue is noodsaaklik. Waar dit ontbreek, begin mense onttrek, ontduik of selfs weerstand bied.

Die Romeinse belastingstelsel wys dat belasting altyd oor meer gaan as net oor geld. Dit weerspieël magsverhoudings, waardes en prioriteite. Rome se geskiedenis leer dat regverdigheid, deursigtigheid en doelgerigte besteding noodsaaklik is vir sosiale stabiliteit.

Vir Suid-Afrika lê hier ’n belangrike les. Belasting kan nie net summier ingevorder word nie, dit moet verdien word deur verantwoordelike bestuur en diens aan die gemeenskap. Waar dit gebeur, kan belasting ’n instrument van nasionale opbou wees. Waar dit nie gebeur nie, word dit ’n bron van vervreemding, verontregting en weerstand.

Rome se uiteindelike val het baie oorsake gehad, maar hulle hantering van belastings het wantroue en strukturele onreg veroorsaak. Dit was beslis een van die oorsake van die uiteindelike val van Rome. Geen samelewing, hoe sterk ook al, is immuun teen hierdie werklikheid nie.


Discover more from Tuis by gdssmit.com

Subscribe to get the latest posts sent to your email.