Is die opstanding wetenskap of wetenskap-fiksie?

deur Prof. Gerrit Smit

Is die opstanding wetenskap of wetenskap-fiksie?

Paassondag konfronteer elke reg-denkende mens met ‘n historiese aanspraak wat moeilik is om te verduidelik: Jesus van Nasaret, wat op die Vrydag gekruisig is onder Pontius Pilatus, en werklik gesterf het, het op die derde dag liggaamlik uit die dood opgestaan. Deur al die eeue het die kerk dit verkondig en mense het nie gesukkel om dit te glo nie, omdat daar ‘n natuurlike aanvoeling was dat daar naas die sigbare dinge, ook ‘n onsigbare werklikheid bestaan.

Die skuif in denke oor die onsigbare werklikheid het nie oornag gebeur nie. Dit het stadig gegroei deur die tydperk van die Verligting (17de-18de eeu) en toe dramaties sigbaar geword in die Franse Revolusie (laat 18de eeu). Wat voorheen as ’n gegewe aanvaar is, naamlik dat God, engele en die geestelike wêreld werklik bestaan, was toenemend bevraagteken en uiteindelik vervang, sodat “wetenskap” mettertyd beskou was as “die dinge wat mens kan meet en sien”. Sedertdien word van die geesteswetenskappe as “sagte wetenskappe” gepraat en die natuurwetenskappe as “harde wetenskap”. Die probleem is egter dat sulke definisies ‘n fundamentele vertrekpunt neem dat slegs die tydelike dinge werklik is en die onsigbare dinge nie bestaan nie.

Die Verligting (Aufklärung)

Die Aufklärung het die hele samelewing se grondslae verskuif. Waar vroeër gemeen is kennis kom uit openbaring, word rede nou die finale maatstaf. Denkers soos Immanuel Kant het nie noodwendig God ontken nie, maar God geplaas buite die terrein van kennis. Met ander woorde “ons weet nie of God bestaan nie”. Die gevolg is dat die onsigbare werklikheid nie noodwendig ontken word nie, maar dit word ontoeganklik of as onmeetbaar verklaar. Wat nie “wetenskaplik” of rasioneel bewys kan word nie, word sedertdien bevraagteken.

Die Franse Revolusie

Wat die Aufklärung uitgedink het, het die Franse Revolusie probeer uitvoer. Die kerk en die Bybel se gesag is doelbewus afgebreek en bevraagteken. ‘n Persoon soos Maximilien Robespierre het selfs ’n alternatiewe “godsdiens” voorgestel, naamlik die Kultus van die Opperwese, wat hy as die menslike rede beskou. Die mens se verstand word dus sy eie god. Die gevolg hiervan was dat die kerklike kalender bevraagteken word, die kerk se viering van Kersfees en Paasfees verdag gemaak word, en die betroubaarheid van die opskrifstelling van die Bybel bevraagteken word.  Die moderne wêreld ná hierdie tydperk word nie meer beskou as gevul met God se teenwoordigheid nie, maar word ’n meganiese stelsel van oorsaak en gevolg. Indien God bestaan, word Hy net beskou as ‘n idee van die menslike rede.

Die Christelike belydenis van die opstanding

Die vroegste getuienis vir die opstanding vind ons in Paulus se eerste brief aan die Korinthiërs, geskryf omstreeks 54-55 n.C., ongeveer twintig jaar ná die kruisiging. Paulus skryf:

“Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf.” (1 Kor. 15:3-5)

Die uitdrukkings “oorgelewer” (Grieks: paredōka) en “ontvang” (Grieks: parelabon) is bekende rabbynse terme wat gebruik word vir die noukeurige oordrag van ‘n tradisie. Paulus het hierdie belydenis waarskynlik tydens sy besoek aan Jerusalem ontvang, omstreeks drie jaar ná sy bekering, dit wil sê teen 35-38 n.C. Dit plaas die kern van die opstandingsbelydenis binne vyf tot agt jaar ná die kruisiging self. Dit is te naby aan die werklike gebeure om ‘n legende te wees, want legendes ontstaan oor dekades of selfs eeue.

Die Duits-Amerikaanse historikus Gerd Lüdemann, wat die opstanding van Christus ontken het, erken self dat die tradisie in 1 Korinthiërs 15 “uitermate vroeg” is en teruggaan na die eerste Christelike gemeenskap in Jerusalem. Dus aanvaar selfs geleerdes wat krities is oor die opstanding, dat Paulus se briewe eg is.

Markus (die vroegste Evangelie), Mattheus, Lukas en Johannes gee vir ons vier onafhanklike getuienisse oor die historiese betroubaarheid van die leë graf.

Hieruit leer ons die volgende:

Die ligging van die graf was bekend:

Die kruisiging en begrafnis het plaasgevind in Jerusalem, die stad waar Petrus reeds met Pinkster gepreek het dat God Christus opgewek het (Hand. 2:24). Indien die graf nie leeg was nie, kon die Joodse owerhede eenvoudig die liggaam aan die skare vertoon het. Hulle het dit nie gedoen nie. In plaas daarvan het hulle die omgekoopte-wagte-verhaal versprei (Matt. 28:11-15), wat juis veronderstel dat die graf inderdaad leeg was. Niemand in Jerusalem in die eerste eeu het die opstanding weerlê deur ‘n liggaam in die graf te wys nie.

Die vroue as eerste getuies:

In al vier Evangelies is dit vroue wat die leë graf eerste ontdek. In die Joodse en Grieks-Romeinse wêreld van die eerste eeue kon vroue nie as geloofwaardige getuies in regsake dien nie. Indien die Evangelies die opstandingsverhaal uitgedink het, sou hulle beslis manlike ooggetuies as eerste getuies aangedui het. Die optekening van vroue as getuies is presies omdat dit so gebeur het, nie omdat dit uitgedink is nie.

Die argeologie van Joodse begrafnis:

Onlangse argeologiese navorsing het ons begrip van die eerste-eeuse Joodse begrafnispraktyke aansienlik uitgebrei. Byvoorbeeld, die ontdekking van die ossuarium (beenderekis) van Kajafas in 1990 in Jerusalem, bevestig nie net die historiese werklikheid van die hoëpriester Kajafas nie, maar bewys ook dat individuele grafte in die tyd van die Nuwe Testament gemerk en bekend was. Dit bevestig dat die dissipels presies sou weet in watter graf Jesus begrawe is, in teenstelling met sommige kritici wat meen dat die dissipels na verkeerde graf gegaan het op Paassondag.

Jesus het aan verskeie mense verskyn:

Paulus noem ‘n reeks verskynings: aan Petrus, aan die Twaalf, aan meer as vyfhonderd mense gelyktydig (“van wie die meeste nog lewe”), aan Jakobus, aan al die apostels, en laastens aan homself (1 Kor. 15:5-8). Paulus skryf met die implikasie dat die lesers hierdie getuies kan ondervra: “waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het”.

Gedurende Christus se aardse bediening was sy broers skepties oor sy aansprake (Joh. 7:5). Jakobus word nie genoem as dissipel voor die kruisiging nie. Ná die opstanding word hy ‘n belangrike leier in die Jerusalemgemeente, so gesaghebbend dat Paulus hom saam met Petrus as apostel beskou (Gal. 1:18-19; 2:9). Wat het Jakobus se wêreldbeskouing so radikaal verander? Die verklaring van ‘n verskynsel van die opgestane Christus, soos Paulus meld (1 Kor. 15:7), is histories die mees aanvaarbare antwoord.

Paulus was ‘n vervolger van die Christene. Hy was nie iemand wat die opstanding wou glo nie, hy was iemand wat dit aktief bestry het. Sy skielike, dramatiese bekering, sy bereidheid om daarna swaarkry en selfs ‘n marteldood te verduur, en die onafhanklike getuienis hieroor in sy eie briewe en in Handelinge, is vir ons belangrike getuies van die opstanding van Christus. Mense sterf soms vir oortuigings wat hulle in goeie trou, maar verkeerdelik, glo. Maar Paulus het nie as kind binne die Christelike tradisie opgegroei nie. Hy het dus iets beleef wat hom verander het.

Historiese betroubaarheid:

Historici toets vroeë getuienisse met behulp van gevestigde kriteria, naamlik hoe vroeg die getuienis opgeteken is, of meer as een persoon daarvan kan getuig, en of die teenstanders dit kon betwis. Die getuienis van Christus se opstanding is binne enkele jare na sy kruisiging opgeteken, wat historiese betroubaarheid bevestig. Paulus, Markus, Mattheus, Lukas, Johannes, en Handelinge getuig onafhanklik van mekaar oor die kern van die leë graf en die verskyninge. Geen eerste-eeuse Joodse of Romeinse bron betwis die leë graf as sodanig nie.

Die geloof in die opstanding van Christus vereis nie ‘n historiese sprong in die donker nie. Dit is geanker in die getuienis van mense wie se lewens daardeur verander is, mense wat dit met hulle eie oë gesien het, en opgeteken het in ‘n historiese konteks wat deur argeologiese bewyse toetsbaar is

Dit is oor- en ooggetuienis van diegene wat gesê het: ons het Hom gesien, ons het Hom aangeraak, ons het saam met Hom geëet. Hulle was bereid om daarvoor  te sterf. Mense is nie bereid om vir ‘n leuen te sterf nie.

Die graf was dus leeg, en Hy het opgestaan. Die opstanding is nie wetenskap-fiksie nie, maar berus op betroubare getuienis.

Dit het die geskiedenis in twee kom breek: voor Christus en na Christus.


Discover more from Tuis by gdssmit.com

Subscribe to get the latest posts sent to your email.