Iemand sê onlangs in ‘n gesprek hy kom uit die dae toe “gay” beteken het jy is bly oor iets (soos Shakespeare en ander bekende skrywers dikwels die woord in Engels gebruik het).
Vandag het dit ‘n gelaaide sosiale term geword vir ‘n saak waaroor kerke eerder na die Bybel as na die samelewing behoort te kyk om antwoorde te soek oor die kwessie. Sou mens ‘n paar jaar gelede kon glo dat selfs Afrikaanse Gereformeerde kerke so bohaai sou maak oor ‘n saak waaroor die Bybel duidelik is en ‘n blinde met ‘n stok kan voel dit gaan meer oor sosiale aanvaarding as oor die beginsels van die Bybel in die debatte oor die saak? Een ding is seker en dit is dat dié kwessie vir kerke toenemend ‘n moeilike strydpunt gaan wees.Die ironie is egter dat daar min mense so onverdraagsaam kan wees as dié wat juis plakkate swaai oor verdraagsaamheid teenoor die “GLBT” gemeenskap soos hulle nou deesdae bekendstaan. Die kerk moet verdraagsaam wees, meen hulle, tot die kerk ‘n standpunt inneem waarmee die voorstanders van dié “eersgeboortereg” nie saamstem nie – dan sien jy die mees onverdaagsame houding teenoor die kerk denkbaar!
“Wees verdraagsaam”, skree hulle, “en ek sal verdraagsaam wees, solank jy alleen my standpunt aanvaar en joune verander!”.
Is daar skielik so baie mense wat gay is, of hoe gebeur dit dat ‘n minderheid soveel aandag en publisiteit eis? Dit is interressant dat ‘n onlangse studie in die VSA aan die lig gebring het dat Amerikaners glo 23% van die bevolking is gay, terwyl die werklike syfer net 3,8% is. Waarom is daar so ‘n wanpersepsie oor hoeveel mense gay is? Mense se opinies word gevorm deur die media en die hoeveelheid aandag wat sosiale kwessies in die media ontvang. Die gemeenskap se persepsies word beïnvloed deur ‘n jarelange poging om die absolute waarheid van die Bybel af te takel en historiese taboe’s te “normaliseer”. Vandag is daar verskeie films en televisie-programme waarin “gay-paartjies” as normaal voorgehou word. Hierdie agenda word openlik verwelkom in die naam van verdraagsaamheid. Daar is sekere lande waar ‘n predikant ‘n boete of selfs tronkstraf kan kry indien hy teen gays preek (bv. Swede). In Kanada is onlangs wetgewing aanvaar waarin iemand strafregtelik vervolg kan word indien hy/sy teen gays in die openbaar praat. Dieselfde land is besig om wetgewing deur te voer wat ‘n anti-gay standpunt as haatspraak klassifiseer en tot twee jaar tronkstraf kan beteken. Dit klink of dit die gedagte is met die haatspraak wetgewing waaroor tans in Suid-Afrika gedebatteer word. Dit is waarskynlik nie vergesog om binnekort so iets in SA te verwag nie.
Wat die vraag laat ontstaan: word mens so gebore? Natuurlik is daar baie invloede wat ‘n rol speel in die idees wat kinders vorm oor hulle plek in die samelewing: die afwesigheid van ‘n pa in die huis, maatskaplike- en sosiale probleme, oorbeskerming van die kind deur die ma, om maar van die redes te noem. Daar was al deur die jare verskillende opinies oor die redes waarom iemand “sou uitkom” as gay op volwasse ouderdom. Sommige skryf dit toe aan die wêreld, ander aan die duiwel, ander aan ‘n vrywillige keuse, ander dat iemand so gebore word. Sommige gaan selfs so ver om te beweer dit is in die drinkwater.
Die Bybel sê dat ons in sonde ontvang en gebore word (lees bv. Rom. 3:10-18). In dié verband leer die Heidelbergse Kategismus Sondag 2 in vraag 5 dat ons van nature geneig is om God en ons naaste te haat. Is die probleem in die drinkwater? Is dit die huis? Is dit die samelewing? Nee, dit is in die hart! Die mens se hart is van nature geneig om aangetrokke te wees tot die sonde. Van nature is ons geneig om God en ons naaste te haat: van nature is ons sondaars, hoereerders, leuenaars, diewe, en afgunstiges. Bekering is nodig om die hart van klip te verander in ‘n hart van vlees, soos die Dordtse Leërreels ons leer. Om sonde in die samelewing te probeer normaliseer, en om mense deur televisieprogramme gewoond te maak aan die “normale gay paartjie” en kerke te kritiseer omdat hulle kwansuis “onverdraagsaam” sou wees as hulle nie die “gay-kwessie omhels” nie, verander nie die Bybelse beskouing oor homoseksualiteit nie. Die Bybel is duidelik dit is sonde en teoloë se hermeneutiese truuks met tekste soos dié in Romeine 1 verander nie sonde in seën nie. Die sonde bly in die hart, en omdat ons van nature geneig is om God en ons naaste te haat, moet ons daagliks die ou mens aflê en ons met die nuwe mens beklee (2 Kor. 5:17 – “…as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel, die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword”). Natuurlik geld dit nie net ten opsigte van die gay-kwessie nie, maar ons totale menswees.