Reeds in 1932 het George P. Hedley[1] verwys na die sogenaamde “fundamentalisme” wat die knie moet buig voor, wat hy genoem het, die “liberale Christendom”.
Volgens Hedley was daar sedert die begin van die negentiende eeu ‘n tendens, dat vir elke kop wat geskuif het van liberale teologie na ortodoksie, ‘n honderd geskuif het van ortodoksie na liberale teologie. Hy meen (opgewonde) dat die kansels op daardie stadium vol predikante is wat nie dink of praat ooreenkomstig die belydenisse of die geloofsartikels van die stigters van die kerk nie. Hedley skryf die tendens toe aan gegradueerde Christene, wat grootgeword het in die kerk, maar in sekulêre universiteite gestudeer het, en so “geloofsvolwasse” geword het en gevolglik pynloos oorbeweeg het van ‘n ortodokse Christendom na ‘n “moderne” Christendom, wat hulle nie veel steur aan belydenisse en geloofsartikels nie. Die uniekheid van Christus beteken vir hulle nie soseer die waarheid van wonderwerke nie, maar bestaan eerder in die waarde van sy preke vir die alledaagse lewe en lewensvrae. Hy meen verder dat die wederkoms van Christus nog net gepreek word in die kerke wat in elk geval niks anders preek nie, en dat versoening vir hierdie “moderne” Christene eerder ‘n versoening met die lewe is as ‘n versoening met die dood. Hedley het egter toe van kerke in die VSA en Europa gepraat.
Wat Hedley se argumente egter tragies maak, is dat nou, byna 100 jaar later, dieselfde tendens waar is van Afrikaanse kerke in Suid-Afrika. Dit laat die vraag ontstaan in hoe ‘n mate Hedley se waarneming, dat sekulêre universiteite een van die grootste invloede gehad het op die Christen-jongmense se “volwasse wording van die kinderagtigheid van die Christelike belydenisse” in Europa en die VSA, in Suid-Afrikaanse konteks ‘n rol gespeel het?
Christen-denkers moet hulleself opnuut die vraag afvra of die ideaal van Christelike hoër onderwys in Suid-Afrika nog enigsins haalbaar is, en indien wel, waarom laat ons ons kinders oor aan die genade van staatsuniversiteite om ons kinders vanuit ‘n humanistiese lewens- en wêreldbeskouing te indoktrineer om as gegradueerde heidene die samelewing te gaan bedien? Of het die Christen nou maar bloot vrede gemaak met die humanistiese invloed van die sekulêre onderwys op ons kinders se lewens- en wêreldbeskouing, in so mate dat die wêreld die pas aangee vir wat in die kerk geleer en geglo word?
Ons hoor meer-en-meer die invloed van Jacques Derrida (1930–2004) en Jean-Francois Lyotard (1924–1998) en die invloed van die dekonstruktivisme op die lewensbeskouing van die kerke vandag. Want as ons luister na die onderwerpe waaroor sommige van die Afrikaanse kerke die afgelope paar jaar debatteer, is dit duidelik dat Hedley die kol 100% getref het, toe hy hom verheug het oor die sekularisering van die kerk in die negentiende eeu. Kyk hoe het die tyd al gestap, dat Christus se opstanding vir baie “gelowiges” vandag niks meer betekenis het as die gevoel van blydskap wat in jou opwel as jou katjie wat in die boom vasgesit het, deur die brandweerman gered word en in jou arms gegee word nie.
Hoewel ek erken dat die post-modernisme se invloed op alle wetenskaplike terreine gesien word, moet die kerk veral bekommerd wees oor die invloed van die dekonstruktivisme op die geesteswetenskappe en die teologie. Ons treur oor lidmate nie belangstel in die kerk nie, maar as lidmate vir dekades geleer word dat die Bybel nie die Woord van God is nie, dat Christus nie uit die dood opgestaan het nie, dat ons nie alles wat in die Bybel staan as waarheid moet aanvaar nie, dan is dit te verstane as lidmate met ‘n humanistiese wêreldbeskouing vra: het die kerk nog enige waarde?
As ons hierdie heidense lewens- en wêreldbeskouing wat tans toenemend in die kerke oorneem, wil omkeer, lyk die enigste oplossing dat Christene ernstiger sal moet besin oor Christelike hoër onderwys. Want die tyd is ryp dat die kerk die vraag eerlik vra: het die kerk nog ‘n toekoms as ons die geesteswetenskappe en teologie in die hande van sekulêre staatsuniversiteite laat om van verbondskinders opgevoede heidene te maak?
[1] Hedley, George P. 1932. “Liberal” Bibliolatry. In: The Journal of Religion, vol. 12, nr. 1, pp. 94-99. University of Chicago Press.