Ek lees vanoggend ‘n opmerking van Douglas Wilson wat ek graag wil deel en so bietjie wil uitbrei. Wilson verwys na ‘n aanhaling van Thomas Chalmers oor die deursnee van duisternis. Hierin maak Chalmers ‘n interessante opmerking wat ek dink ons meer moet oordink as dit voel of duisternis ons wil oorweldig. Chalmers gebruik die volgende beeldspraak: Hoe groter die deursnee van lig, hoe groter word die deursnee van duisternis. Dit is: hoe meer die lig in ‘n vertrek versprei word, hoe verder moet die duisternis wyk en gevolglik, hoe verder is die donkerte se reikwydte. Treffende vergelyking!
Hoe meer Christene hulle lig laat skyn, hoe verder wyk die duisternis en hoe wyer word die deursnee van die donker.
Die Woord herinner ons in 1 Johannes 1:5 “God is lig, en geen duisternis is in Hom nie”. Een gevolg van die feit dat God lig is, is dat Hy alleen volkome waarheid is. En daarom volg vers 6 met die woorde: “As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie”.
Omdat God lig is, is Hy ook die Bron van waarheid. ‘n Ander manier om dit te stel is dat niks in waarheid (werklik) verstaan kan word as dit nie in God se lig verstaan word nie. Jy kom nie eens by die buitelyne van die waarheid as jy God uit die som uit laat nie.
As ons die huidige situasie in ons land, en selfs in ons buurlande in gedagte hou, voel ons dikwels daar is geen rede meer om goed te doen nie. “Die res doen dan net wat hulle wil”, sê iemand in die week. Dit is waar dat ons in ‘n gevalle wêreld leef, en daarom sal die duisternis altyd teenwoordig wees, maar die duisternis word teruggedryf deur die lig.
Die lig van Christus wat in ons harte skyn, ontbloot die duisternis in ons lewens, maar terselfdertyd kan die duisternis nie stand hou waar die lig skyn nie. Dit bring vir ons ‘n boodskap van hoop: hoe meer Christene se lig skyn, hoe minder plek het die duisternis om weg te kruip. So word die diepte en wydte van die duisternis aan bande gelê.
Maak dit waar in jou lewe.