Die Teologie van gasvryheid

Ons het die afgelope tyd in die Nuwe Testament klas ‘n lewendige gesprek gehad oor die tema: Gasvryheid in die Bybel. Dit het my weer herinner aan ‘n stuk wat ek so paar jaar terug geskryf het. Ek het besluit om die stuk af te stof en verder daaroor te dink. Wat jy hier kry, is verdere gedagtes oor ‘n tema wat ons dikwels in die Bybel raaklees, naamlik “die Teologie van gasvryheid”. Dit is ‘n tema waaroor Christene in ons tyd van individualisme, sosiale media, mense wat wegkruip agter skerms en onttrekking van die samelewing, meer moet dink. Ons leef in ‘n gevaarlike land, waar gasvryheid teenoor ‘n vreemdeling, jou lewe kan kos. Die gevolg daarvan is dat ons nie maklik iets goed doen aan vreemdes nie. Tog gee die Bybel vir ons ‘n opdrag om goed te doen aan ander mense, maar in besonder aan ons medegelowiges (Gal. 6:9-10).

Die Teologie van gasvryheid

Gasvryheid is een van die goue drade wat die Bybelse leefwêreld aanmekaar weef. Die Bybel skets ’n wêreld waarin mense gereeld oor groot afstande moes reis, soms sonder beskerming of voedsel, en waar ’n oop tentdeur of vriendelike glimlag, dikwels die verskil was tussen lewe en dood. Daarom was gasvryheid nie maar net een van die Bybelse gebruike nie. Dit is ’n daad van gehoorsaamheid aan God. Gasvryheid word in die Bybel beskou as ’n erkenning dat die Here sy volk beskut en dat hulle daarom ander moet beskut. In die Bybel word gasvryheid dikwels in dieselfde sin as heiligmaking, navolging van Christus en barmhartigheid gebruik.

Die wortels van gasvryheid 
Die Ou-Testamentiese wêreld was vol van nomadiese gebruike. Mense wat in tente geleef het, was afhanklik van die welwillendheid van ander om te oorleef. Die woestyn was warm en droog, die paaie was gevaarlik, kos was skaars. Om ’n mens weg te wys as hy hulp vra, was om sy lewe in gevaar te stel. Daarom het gasvryheid ’n morele standaard geword wat selfs die mees geharde nomade geken het.

Paulus skryf in Romeine 12:20 dat ons selfs gasvryheid teenoor ons vyande moet toon: “As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop”. Hy haal die wysheid van ’n wêreld aan waar eer en oorlewing direk aan mekaar verbind was. Om ’n vreemdeling in jou huis toe te laat was om hom in te sluit in jou familie se beskerming. Ons lees in Genesis 19:8 dat die besoeker in Lot se huis veilig was, selfs al het die stad se inwoners op sy deur afgestorm. Die eer van gasvryheid was groter as die vrees vir die stad se geweld. Wanneer Dawid bely, “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor” (Ps. 23:5), hoor ’n mens God se gasvryheid. God word die Gasheer wat sy kinders beskerm in ’n bedreigende wêreld.

Gasvryheid as ’n bevel van God
Die Here bou hierdie bevel in sy wet in en gee dit ’n geestelike inhoud. Israel moes hul gasvryheid nie baseer op wat die heersende kultuur daaroor dink nie, maar dit moes hulle herinner aan God se versorging. Israel was self beskut in Egipte ten spyte daarvan dat hulle slawe was, en hulle word deur Hom gelei in die woestyn. Omdat God hulle beskutting was, moes hulle ander beskut. As jy genoeg het en dit nie met ander deel nie, beskou God dit as ‘n oortreding. Jesaja 58:7 beklemtoon dat ware godsdiens die deel van brood met die honger mense insluit. Dit is opvallend dat die Ammoniete en Moabiete juis geoordeel word omdat hulle Israel nie tegemoet gegaan het met brood en water toe God se volk die land binnegetrek het nie (Deut. 23:4).

In die Bybel is ’n mens se gasvryheid nie bloot die uitruil van kos en die gee van ‘n rusplek nie. Dit is ’n daad waarmee ’n mens verklaar: Ek weet dat my lewe deur God onderhou word. Daarom gee ek aan ander wat ek ontvang het.

Omdat gasvryheid deel van God se opdrag was, is daar ‘n oortuiging dat God mense se gasvryheid toets. Abraham het drie vreemdelinge ontvang, en eers later verstaan wie hulle was. Gideon het ook sonder dat hy weet, die engel van die Here in sy huis ontvang. Hebreërs herinner die kerk daaraan: “Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg” (Heb. 13:2).

Gasvryheid is nie ’n taktiek om God se seën te ontvang nie. Dit is ’n erkenning dat God in die alledaagse dinge deur mense werk. Die mens wat gasvry is, sê daarmee: ek behandel elke vreemdeling met respek omdat God Homself vir my gegee het.

Daarom het gasvryheid ook ’n eskatologiese motief. Dit herinner aan die groot feesmaal van God waarby ons eendag sal aansit. Jesus gebruik hierdie beeld wanneer Hy die koninkryk met ’n bruilofsmaal vergelyk (Matt. 22:2–14). So word gasvryheid ’n venster op die nuwe hemel en die nuwe aarde wat op ons wag. Om aan iemand ’n plek aan jou tafel te gee, is om te leef in die verwagting van die bruilofsmaal van die Lam.

Gasvryheid in die Nuwe Testament: φιλοξενία (philoxenia)
Met die koms van Christus kry gasvryheid ‘n nuwe betekenis. Jesus was self dikwels die gas van sondaars en tollenaars. Hy sit by hulle tafels, Hy laat sy voete was deur ’n sondige vrou, Hy raak aan die wat honger en dors en siek is.

Die Nuwe Testament gebruik die woord φιλοξενία (philoxenia) om gasvryheid as Christelike roeping te beskryf. Die woord beteken letterlik “liefde vir die vreemdeling”. Dit is ’n daad van liefde vir die onbekende persoon wat nie in jou binnekring is nie.

Die vroeë kerk het geleef in ‘n samelewing wat gevaarlik was. Die heidense bymekaarkomplekke en feeste was bekend vir onsedelikheid, bedrog en geweld. Om ’n reisende prediker by jou huis in te neem, was om jou lewe in gevaar te stel as jy uitgevang word. Johannes skryf in 3 Johannes vers 5–8 dat gasvryheid teenoor ‘n leraar deel van die kerk se sendingwerk is. Die prediker moes ontvang word vir ’n paar dae, gehelp word met voedsel en ondersteuning, en dan na ’n volgende plek gestuur word. Op die manier word gasvryheid ‘n sendingdaad.

Om iemand te groet is deel van gasvryheid
Groete in die Bybel was ingebed in die wêreld van eer en skaamte. Die algemene vorm van groet was ’n eenvoudige handgebaar of ’n woord soos “vrede” (shalom) of “genade” (charis). Jesus begroet sy dissipels ná die opstanding met hierdie vredesgroet (Joh. 20:21).

Die tweede vorm was die broederlike kus, ’n teken van respek en verwelkoming. Die broederlike kus was gewoonlik ‘n soen op die wang of voorkop.

Die derde vorm, naamlik om iemand op die mond te soen, dui diepe vriendskap aan en is waarskynlik die tipe groet wat Judas vir Jesus gegee het. Ironies genoeg, was dit nie uit vriendskap nie, ten spyte van die voorgee.

Om voor iemand te buig of te kniel, was ’n daad van eerbetoon aan ’n besondere gas of persoon. Wanneer Abraham voor sy gaste buig, erken hy hulle status, selfs voordat hy weet wie hulle is (Gen. 18:2–3). Hierdie groetvorme wys hoe gasvryheid gebare van eer omsluit wat die besoeker se waarde bevestig.

’n Vreemdeling het gewoonlik by die stadspoort of by ’n put gewag totdat iemand hom huis toe nooi. Om iemand te laat wag sonder ’n uitnodiging was onvriendelik en selfs onregverdig.

Die eenvoudige huise van die eerste eeu het een vertrek gehad waar almal geslaap het. ’n Gas het op die platform saam met die mans geslaap of op die dak wanneer die weer dit toelaat. In ’n tent het die gas gewoonlik by die ingang saam met die mans geslaap. Die vroue was gewoonlik streng afgebaken en het nie by die mans, selfs nie by haar eie man, geslaap nie. Die verhaal van Jael en Sisera (Rigters 4) kry juis nuwe betekenis as mens dit so verstaan, omdat Sisera die verbode ruimte betree. Sy het hom in die vrouetent ingenooi, ’n daad wat normaalweg ontoelaatbaar was.

Die plek van kos in gasvryheid
Kos is die hart van gasvryheid. ’n Eenvoudige maaltyd of ’n groot fees het die verhoudings tussen mense gevorm. Toe Jesus die gelykenis vertel van die vriend wat in die nag aanklop vir brood (Luk. 11:8), verstaan sy hoorders onmiddellik die dringendheid. Dit was ondenkbaar om ’n gas te laat sonder kos. Daarom was selfs die gas se slaap minder belangrik as die eer om ’n ander gas te ontvang.

’n Maaltyd was ’n daad van vredesverklaring. Wanneer mense saam eet, beëindig hulle ‘n stryd of bevestig hulle vriendskap. Genesis 26 wys hoe Abimeleg en Isak saam eet nadat hulle ’n verbond sluit.

Sout op die tafel was ’n simbool van vrede. Sout is simbolies van ‘n middel wat skoon maak, beskerm en smaak gee. Wanneer Jesus sê dat sy dissipels sout moet wees (Mark. 9:50), herinner Hy hulle aan hul roeping om vrede te bring.

Die verbondsetes van die Ou Testament, veral dié ná ’n offer, was ’n sigbare teken van God se teenwoordigheid. Wanneer die familie saam sit en van die offer eet, sien hulle hulself letterlik aan God se tafel (Deut. 12:5–7).

In die antieke wêreld het ’n maaltyd altyd vaste gebruike gehad. Die gaste is twee keer genooi: die eerste uitnodiging was formeel, die tweede het gekom wanneer die kos gereed was. Wanneer die gaste arriveer, neem ’n slaaf die skoene by hulle af, en word die voete gewas. Soms word die hoof met olie gesmeer. Water word gegee as teken dat die gas welkom is. Daarna volg die maaltyd self. Teen die Nuwe Testament se tyd het die sogenaamde triclinium ontstaan: dit is letterlik “drie tafels” wat in ’n U-vorm met rusbanke rondom gepak was. Die tafels was nie soos ons dit vandag ken nie, maar eintlik net verhewe podiums waarby iemand kon aanlê om te eet. Die gaste het op hul linkerarm gelê en met die regterhand geëet. Die hoogste plek van eer was regs van die gasheer. Dit is belangrik om te verstaan dat Christus wat aan die regterhand van God sit, ook hierdie simboliek van die hoogste eer dra.

God is die groot Gasheer
Dwarsdeur die Bybel sien ’n mens hoe God Homself as die uiteindelike Gasheer bekendstel.
• Hy gee sy volk kos in die woestyn.
• Hy dek die tafel in die teenwoordigheid van Dawid se vyande.
• Hy stel die Nagmaal in as ’n teken van sy verbond.
• Hy sê die koninkryk is soos ’n bruilofsmaal.

God bied rus, beskutting, brood en wyn. Hy maak vreemdelinge sy gaste en sy kinders. Daarom word die kerk geroep om gasvry te wees, as ’n weerspieëling van wie die Here is en wat Hy vir ons gedoen het.

Die kerk leef in ’n wêreld waar vreemdelinge soms agterdog wek. Ons vrees vir ons veiligheid en sosiale spanning kan gasvryheid moeilik maak. Tog roep die Here sy kerk om gasvry te wees.  Gasvryheid vra nie luukse etes nie. Dit vra dat ons vriendelik is teenoor mense, en dat ons vreemdelinge nooi na Christus. ’n Gasvrye gemeente is ’n gemeente wat verstaan dat hulle self gaste is aan God se tafel.


Discover more from Tuis by gdssmit.com

Subscribe to get the latest posts sent to your email.