Inleiding
Pinkster, soos dit vandag in die kerk gevier word, is nie ’n losstaande gebeurtenis nie. Dit rus op ou wortels. Wat in Handelinge 2 plaasvind, is die vervulling van iets wat lank reeds gevier was. In die Ou Testament was Pinkster bekend as die Oesfees wat op die vyftigste dag na die Joodse Pasga gevier is. Tussen die Pasga en die Pinkster, was 7 weke wat bekend gestaan het as die Fees van die Weke (of Shave’ot). Dit was in hierdie tyd gebruiklik om die eerste deel van die oes as ‘n gawe aan die Here te offer en ‘n tyd van danksegging vir die oes. Maar soos die heilsgeskiedenis ontvou het, het dit méér as net ’n landboufees geword. Dit word ’n teken van die Heilige Gees wat as eerstelinggawe aan die kerk geskenk word, waar letterlik ‘n omkering plaasvind. In plaas van dat die mens aan God offer, offer God sy Seun aan die kruis en stuur Hy sy Heilige Gees as belofte dat die oes lank nie verby is nie, maar dat die ewige seën nog oppad is. In hierdie artikel volg ons die pad van Pinkster vanaf die Ou Testament, deur Israel se feeste, tot by die vroeë kerk se verstaan van die uitstorting van die Gees as die aanbreek van die nuwe verbond.
Pinkster in die Ou Testament
Die Hebreeuse naam vir Pinkster is Shave’ot (שָׁבוּעוֹת), wat letterlik “weke” beteken. Dit verwys na die sewe volle weke (49 dae) wat ná die Paasfees getel is, waarna die vyftigste dag die feesdag was (vgl. Lev. 23:15–21; Deut. 16:9–12). Hieruit kom die naam “pentakoste” na vore, wat in Grieks “vyftigste” beteken.
Oorspronklik was Shaveot ’n landboufees, waar die eerste vrugte van die koringoes aan die Here geoffer is (Ex. 23:16). Die volk het ’n spysoffer en brandoffer gebring as simbool van afhanklikheid van God se voorsiening. Dit was ‘n simboliese gebaar waarin die volk verklaar het dat hulle solank die eerste deel van die oes bring as ‘n geskenk aan God met die belofte dat die res van die oes geseënd sal wees. Die nadruk was op dankbaarheid en die erkenning dat God die bron van alles is.
Mettertyd, nadat Israel in die beloofde land gevestig het, het die Joodse tradisie Shave’ot begin assosieer met die gee van die Wet op Sinaï. Dit het 50 dae geneem vandat Israel uit Egipte vertrek het tydens die uittog totdat hulle by die Sinaïberg gekom het. Dit het Israel daaraan herinner dat, hoewel hulle nie die oesfees kon vier in die woestyn nie, God hulle geseën het met die gee van die Tien Gebooie. So het Shave’ot dus ook ’n verbondsfees geword waartydens Israel God se verbond met sy volk deur die gee van die Wet herdenk het.
Pinkster in die Nuwe Testament
In Handelinge 2 sien ons hoe die dissipels op die feesdag van Pinkster bymekaar was in Jerusalem, toe daar skielik ’n geluid soos ’n geweldige wind was en tonge soos vuur op hulle gekom het. Die Heilige Gees is oor hulle uitgestort, en hulle het in ander tale begin spreek. Hierdie gebeure is die vervulling van beloftes uit die Ou Testament, soos in Joël 2:28–29: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees…” . Petrus haal hierdie teks aan (Hand. 2:17–21) om te wys dat wat gebeur het, deel is van God se plan van verlossing wat reeds in die Ou Testament verwag is. Anders as by Sinaï, waar God sy wet op kliptafels gegee het, het Hy nou sy Gees in mense se harte uitgestort (vgl. Jer. 31:33; Eseg. 36:26–27).
Die Pinkstergebeurtenis is dus die formele aanvang van die nuwe verbondsgemeenskap. Dit is die dag waarop die kerk, wat hierna bekend staan as liggaam van Christus, begin het. Waar Shave’ot die gee van die Wet in die Ou Testament gevier het, vier die Nuwe-Testamentiese Pinkster die gawe van die Heilige Gees.
In die vroeë kerk
Teen die tweede eeu het die kerk reeds jaarliks Pinkster as ’n spesifieke kerklike fees gevier, 50 dae ná Paasfees. Die kerkvader, Irenaeus van Lyon (ca. 180 n.C.) verwys na die vyftig dae as ‘n feesseisoen, wat uitloop op Pinkster. Teen die vierde eeu was Pinkster oral deel van die Westerse kerke se kerklike kalender, dikwels saam met Hemelvaart as ’n afsluiting van die Paasfeesseisoen.
Vir die vroeë kerk was Pinkster die sigbare bevestiging dat die beloftes van Christus vervul is. Hy het inderdaad opgevaar en aan die regterhand van die Vader gaan sit en die Gees uitgestort (vgl. Hand. 2:33). Die gebeurtenis het ook die universaliteit van die evangelie bevestig: mense uit verskillende tale en volke het die apostels hoor praat in hulle eie tale. Dit dui op ’n herstel van Babel se verwarring (Gen. 11), wat nou tot eenheid in Christus gekom het.
Pinkster het ’n gewilde tyd geword vir die doop van bekeerlinge en hulle gesinne. Dit is nie korrek om te beweer dat slegs volwassenes in die vroeë kerk gedoop is nie. Hele gesinne is gedoop wanneer mense tot bekering gekom het. Dit sluit ook die kinders in. Die doop het simbolies die toetrede of inlywing tot die kerk verteenwoordig. In sommige liturgiese tradisies het die tyd tussen Paasfees en Pinkster bekend gestaan as ‘n tyd van “katkisasie vir die doop”. Origenes, een van die vroegste teoloë wat die doop van kinders spesifiek bespreek, skryf in sy kommentaar op Romeine 5:9 dat die kerk die tradisie om kinders te doop van die apostels ontvang het. Dit bewys dat die apostels reeds in die tyd van die Nuwe Testament kinders gedoop het en dit bevestig verder dat die kinderdoop nie later ingevoer is, soos sommige beweer nie.
Samevatting
Pinkster verbind die ou en nuwe bedeling op besondere wyse. In die Ou Testament was dit ’n fees van dankbaarheid vir die vrug van die aarde; in die Nuwe Testament word dit ’n danksegging vir die vrug van Christus se werk wat deur die Gees aan die kerk geskenk is. Die afwagting van die oes het plek gemaak vir die vreugde van die oes van siele, deur die Gees wat mense tot geloof roep.
Die vroeë kerk het dus nie die viering van Pinkster as iets nuuts beskou nie, maar as die vervulling van wat reeds in die Ou Testament gevier is. Soos die eerste vrugte van die koringoes die belofte van die res van die oes gebring het, so is die uitstorting van die Gees die belofte of voorsmaak van die heerlikheid wat op ons wag en van die finale voltooiing van God se verlossingswerk in sy liggaam, naamlik die kerk (vgl. Ef. 1:13–14).
Discover more from Tuis by gdssmit.com
Subscribe to get the latest posts sent to your email.