Sondag was Vadersdag. Hoe ironies dat die 21ste eeu se mense graag ‘n spesiale dag vir vaders hou, maar dat die rol van vaders in hulle gesinne as outyds afgemaak word.
Ons leef in ‘n wêreld wat verwar is oor die rol van mans en vroue. Hierdie samelewing het alles wat deur die eeue heen verstaan is oor manlikheid en vroulikheid op sy kop kom keer en vandag is sommige mans soos vroue en sommige vroue soos mans en daar is vroue wat wil wees soos mans en mans wat wil wees soos vroue. En in die proses het ons te make met kinders wat nie meer weet wat die rolle behels en hoe hulle eendag as mans en vroue veronderstel is op te tree nie. Ons lees in tydskrifte van die deurmekaar rolle, en ons sien dit op televisieprogramme en dikwels beleef ons dit in ons eie families. Ongelukkig word die verkeerd-om rolle wat vir ons as voorbeeld gewys word dikwels as normaal beskou en die rol wat die Bybel aan elke mens gee afgemaak of selfs glad nie eens van kennis geneem nie.
Terwyl die 21ste eeu geldmaak uit ‘n sogenaamde dag vir vaders, is dit ironies dat dit juis die 21ste eeu is wat maar baie min weet oor wat vaders veronderstel is om te wees.
As daar ‘n tekort aan kos is, word daar gepraat van ‘n hongersnood – ons sou dus kon praat van die 21ste eeu as ‘n tyd van vadersnood. Ons leef in ‘n vaderlose tyd. En die simptome is oral duidelik. Soms pas ons aan, maar ons raak dit nooit gewoond nie en dit word nooit normaal nie.
‘n Afwesige pa kan wees as gevolg van ‘n pa wat deur die Here weggeneem is (‘n pa wat gesterf het) en ma moet alleen voortgaan met die kinders. In ‘n mate is dit makliker om te verwerk want as kinders van die Here kan ons ons troos vind in die belydenis dat die Here se wil in ons lewens geskied, hoe onverstaanbaar ookal.
Maar die ergste vorm van ‘n afwesige pa is die een wat sy familie in die steek laat en weghardloop, of wat nog fisies teenwoordig is, maar emosioneel het hy die familie reeds in die steek gelaat. Dit is baie swaarder vir die familie om te verwerk want behalwe dat die pa nie teenwoordig is nie, moet die gesin nog die hartseer van verwerping ook verwerk. Vir sulkes bring die Woord van die Here die troos in Deuteronomium 31:6 – “…dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie”. Daarmee sê die Here Hy is soos ‘n Vader, maar anders as aardse vaders wat soms in die steek laat, sal Hy jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Hy is dus die volmaakte Vader.
Maar die Here praat nie in die Bybel net met vaders wat onverantwoordelik is nie. Ons as Christelike vaders wil tog die beste vir ons gesinne hê en daarom is ons saam met ons gesinne gereeld in die kerk. Lees Deuteronomium 31:1-8 en ontdek wat die Here vir manne in hierdie deurmekaar eeu deur Moses kom leer.
Moses is 120 jaar (vers 2) en gaan binnekort sterf. Voordat Moses vir Josua as opvolger aanstel, roep hy al die manne (die vaders) van Israel bymekaar. Die pa’s van Israel kom staan voor Moses en soos ‘n pa praat Moses met die manne, wat op hulle beurt weer hulle huise as vaders moet gaan lei en bemoedig. Hulle moes hiervandaan uitgaan en op twee terreine hulle gesinne lei: in ‘n oorlogsveld in en op geestelike gebied. Hulle sou as’t ware soos priesters die voorbeeld van Moses aan hulle gesinne moes gaan bedien sodat ook hulle gesinne nie bevrees sou wees nie en weet dat die Here hulle nooit sal verlaat nie.
Moses gee die vaders wat versamel het namens hulle gesinne om na die Woord van die Here te luister bemoediging dat God met hulle is (vers 3). En die wat bereid is om God te volg, het die belofte dat Hy hulle leier is, en Hy sal hulle nooit verlaat of in die steek laat nie.
Dit moes vir hulle ‘n groot troos gewees het om te weet dat hulle nie op generaals en leiers hoef staat te maak nie, want God is hulle generaal wat voor hulle uittrek die beloofde land binne.
In plaas van om aan die volk allerhande wapens en tegnieke na te laat, laat Moses aan hulle die Koninkryk van God as belofte. Die sterkste leier en die beste generaal gaan altyd in enige oorlog in met ‘n mate van onsekerheid: gaan ons suksesvol wees? Selfs ‘n lafaard sal veg as hy vooraf weet die oorlog gaan gewen word. Hulle moenie staat maak op hulle sterk manne en hoeveelheid soldate nie. As die vyand kom, sal dit nie ‘n volk laat staan nie.
As jy die Koninkryk van God soek, en dit vir jou alles is, sal al die ander dinge, ook die vrede en voorspoed en liefde van jou gesin bygevoeg word, het Christus in die bergprediking beloof. Dus as jy jou lewe leef sonder die Koninkryk as prioriteit, maak nie saak hoe konserwatief jy is nie, maak nie saak hoe mooi jou kinders opgevoed is nie, dan het jy die stryd verloor, want dan trek God nie met jou nie, en sal die stryd in jou eie krag gestry word. En jy sal faal.
In die deurmekaar wêreld hoef ons nie te vrees nie, want God, ook ons aardse vaders se Vader sal ons nooit begewe en ons nooit verlaat nie. Christus het as priester sy lewe gegee sodat vaders in navolging van Christus nie hoef te twyfel in hulle roeping nie. Hy gaan voor. Vertrou op Hom. Wees sterk en vol moed. God weet dat die stryd reeds volbring is en die uitkoms van die oorlog reeds bepaal is.