Byna alle geleerdes stem saam dat Jesus Christus nie op 25 Desember gebore is nie. Herders op die oop veld wat in die nag by hulle vee wag hou (Lukas 2:8) sou nie in die koue nagte van die noordelike halfrond se Winter buite met hulle vee kon oornag nie. Lukas suggereer eerder ‘n Lente-aand vir die geboorte van die Koningskind.
Waarom vier ons dan Kerfees op 25 Desember? Daar is uiteenlopende verklarings hiervoor. Een van die verklarings is dié van ‘n heidense feesdag wat deur die vroeë Christene gekersten (“verchristelik”) is.
Die antieke Romeine het in die middel van die Winter, rondom die Wintersonstilstand (21 Desember), wanneer die noordelike halfrond die langste nag en die kortste dag van die jaar beleef, ‘n groot fees gehou ter ere van die afgod Saturnalia. In 274 na Christus het die Romeinse keiser Aurelianus die fees verander na 25 Desember as die fees van die “Sol Invictus” (die onoorwinbare Son). Die fees het die oorwinning van die Son se lig oor die duisternis herdenk wat die heidene herinner het aan die naderende Lente.
Iewers in die 3e-4e eeu na Christus toe die Christendom die heidense godsdienste as staatsgodsdiens vervang het, is dié bekende heidense fees verander in ‘n Christelike fees wat nie meer die geboorte van die Son gevier het nie, maar die geboorte van die Lig van God, naamlik Jesus Christus. Sommige skryf hierdie verandering toe aan die keiser Konstantyn, hoewel dit baie waarskynlik eerder een van sy opvolgers, moontlik Theodosius, was. Op hierdie dag het die Christene veral gefokus daarop om die heidene wat nog die Sol Invictus-fees gevier het, te nooi om deel te neem aan die viering van Kersfees en die geboorte van die Verlosser, Jesus Christus. Met verloop van tyd het die invloed van die Christendom in die Westerse wêreld al die Romeinse feeste vervang.
Die verklaring hierbo word tans deur sommige Bybelgeleerdes bevraagteken. Hulle gee ‘n ander verklaring vir die viering van Kersfees op 25 Desember soos volg:
Jesus se kruisiging het tydens die pasga (paasfees) van die Jode plaasgevind. Die pasga het altyd op 14 Nisan geval (Maart-April).
Rondom 200 n.C. het die kerkvader Tertullianus van Karthago die datum van die kruisiging bereken op 25 Maart. Die vroeë kerk het volgens die aanvanklike kalender van Julius Ceasar die vaste datum 25 Maart as die kruisigingsdatum van Christus gevier en derhalwe was Paasfees in die vroeë kerk altyd op 25 Maart herdenk.
Onder sommige vroeë kerkvaders (onder andere in die Anonieme geskrif: Oor die Wintersonstilstand van die 4-5de eeu n.C. uit Noord-Afrika) was aanvaar dat Jesus gekruisig is op die herdenking van sy dag van ontvangenis deur die Heilige Gees. Hierdie vroeg-Christelike beskouing is nie vergesog nie, aangesien Augustinus in sy geskrif met die titel: Oor die Drie-Eenheid (399-419 n.C.), die volgende meld: “… Hy (Jesus) is ontvang (deur die Heilige Gees) op 25 Maart, op dieselfde dag het Hy gely en gesterf”. Sy geboorte sou dus 9 maande na 25 Maart wees, naamlik 25 Desember.
Ons hoef nie die heidense oorsprong van die viering van Kersfees as die finale woord oor die viering van die dag te aanvaar nie. Die vroeg-Christelike kerk het vir ons genoeg leidrade gelaat om 25 Desember as die geboortedag van Christus te kon aanvaar.
Wat egter meer belangrik is as die presiese datum van Kersfees, is dat die Lig na die wêreld gekom het (Joh. 8:12) en dat ons tydens Kersfees die wonderlike genade van God in die koms van sy Seun kan vier. Kersfees herinner ons dat God die wêreld so liefgehad het dat Hy sy Seun gegee het: gebore in ‘n krip, maar uiteindelik vasgespyker aan die houtkruis vir jou en my. Dit is uiteindelik waaroor Kersfees behoort te gaan.
Mag u elkeen ‘n geseënde Christusfees hê!