Inentings: is dit wetenskap of die Bybel wat bepaal?

 

Na aanleiding van die artikel: Om jou in te ent, is ‘n liefdesdaad, het daar op verskillende platforms reaksie gekom. Ek wil graag van die kommentaar verwerk soos onderneem en reageer hier op een van die vrae wat gestel is.

Maar eers: wat ek met my artikel beoog het, was om aan te toon dat alle gelowiges nie teen die inenting is nie, van wie ek een is. Ek het die artikel doelbewus nie dogmaties of hoogs teologies geskryf nie, omdat ek wou skryf vir die tannie en oom wat wonder of hulle ingeënt moet word en ek poog om vanuit ‘n teologiese perspektief leiding te gee. Ek het veral die artikel geskryf omdat van ons lidmate gevra het vir leiding omdat hulle onseker is wat om te doen.

Dit is belangrik dat ons as leraars ons lidmate ook in hierdie verband leiding gee aangesien die kerk ‘n groot rol te speel het in die houding wat mense teenoor die vraagstuk inneem, en hierdie was my bydrae en sal DV aangevul word.

Ek het die volgende opmerking op die vorige artikel gekry en ek antwoord graag kortliks hieronder:

“My vraag: wat van wetenskappe wat geaborteerde fetus weefsel gebruik in die vervaardiging en/of toetsing van mRNA. Waar word die streep getrek by die gebruik van goed wat teen God se Wil is vir die “voordeel”? Dan moet ons aborsies goedkeur, want dit help met die vervaardiging van entstowwe en in die stryd teen kanker en ander siektes?”

In die eerste plek wil ek geensins voorgee om uit mediese oogpunt te skryf of enige opinies op dié gronde te waag nie. Selfs medici is nie eenstemmig oor die vraagstuk nie, soos wat onlangs in die Vosloo-debakel weer na vore gekom het, maar daar is ten minste konsensus onder die meerderheid mediese wetenskaplikes (ook Christen wetenskaplikes) dat inentings wel voorkom dat mense ernstig siek word. Daar is eerder genoeg hoogs-begaafde mediese personeel in ons gemeentes wat die vraag vanuit mediese kant baie beter as ek sal kan antwoord. Daar bestaan egter dié leemte dat daar baie artikels oor die mediese aspekte van die inentings bestaan en baie min oor die bio-etiese en Bybels-teologiese aspekte, waarvan daar veral min in Afrikaans is. Die vraag wat hierbo gevra is, is ‘n etiese kwessie en ek reken dit is belangrik dat ons ook ‘n Christelik-teologiese perspektief op hierdie soort vraagstukke vir lidmate gee. Daarom my antwoord hieronder…

Die inentings bevat nie fetus weefsel nie
Die Coronavirus inentings bevat nie geaborteerde fetus weefsel nie [1]. Dit is wel waar dat daar tydens die ontwikkeling van sekere entstowwe toetse gedoen is op fetus sellyne wat afgelei is van selle van twee aborsies wat in die 1960’s uitgevoer was [2]. Die feit is egter dat talle entstowwe wat meeste van ons reeds ontvang het as kinders, ook gebaseer is op navorsing wat gedoen is op fetus sellyne, byvoorbeeld die waterpokkies entstof, MMR-entstof, hepatitis A- en hondsdolheid-inentings [3]. Die gemelde entstowwe is almal ontwikkel deur die virus te groei op menslike selle. Die alternatief vir Christene sou wees om dierselle te gebruik, hoewel dit minder effektief is. Maar fetus selle leef nie so lank nie en daarom is daar nie ‘n manier dat daar fetus selle in die entstof kan wees nie. Behalwe vir die toetsing en groei van virusse op die selle, is daar geen bewyse dat fetus selle gebruik word in die vervaardiging van die entstof nie.

Dit is natuurlik vir ons as Christene nie die ideale toestand nie, maar dit het dekades gelede gebeur en ons het geen beheer daaroor nie. Die feit dat ons as Christene pro-lewe is en geensins aborsies mag goedkeur nie, maak ons nie aandadig aan die moord wat dekades gelede plaasgevind het nie en dit het ook niks te doen met navorsing vir die entstof nie. Die navorsing vir entstof was bloot ‘n terloopse gevolg van die beskikbaarheid van die selle. Dieselfde beginsel geld hier as wanneer iemand byvoorbeeld op ‘n gruwelike manier gesterf het weens ‘n moord en sy/haar organe vir orgaanskenking oorweeg word. Die feit dat die moord plaasgevind het, is onaanvaarbaar en onversoenbaar met die Christelike Skrifbeskouing. Die onreg is egter nie gepleeg deur die een wat die ontvanger van die organe tydens orgaanoorplanting is nie. Die lewe van die een wat gesterf het, kan geëer word in die lewe van die een wat die organe ontvang het en die ontvanger vervolgens uit dankbaarheid vir ‘n tweede kans kan leef. Ek beskou die kwessie oor die toetsing van die inentings in dieselfde lig. Dit is jammer en betreurenswaardig dat fetus sellyne gebruik is in die toetsing van die entstowwe. Die enstof was egter nie die oorsaak van die dood nie. Uit die dood het kennis ontwikkel en die kennis word gebruik om miljoene mense se lewens te red. Ons sou dit eerder anders wou hê, en dit bevestig net weer die behoefte aan meer Christenwetenskaplikes wat met ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing mediese-etiek bedryf.

Al die entstowwe is nie getoets op fetus selle nie
Al die entstowwe is nie getoets of fetus selle nie. As dit ‘n verskil maak in die keuse vir- of teen inentings, neem die volgende in ag: die enigste entstof waarin toetse op fetus sellyne gedoen is wat tans in Suid-Afrika gebruik word, is die Johnsson & Johnsson inenting [4]. Ek het reeds hier bo aangetoon waarom die toediening van (selfs) hierdie entstof nie ‘n etiese kwessie hoef te wees nie. Teenoor sekere entstowwe wat op fetus selle getoets is, is die Pfizer entstof teen Covid-19 nie ontwikkel deur gebruik te maak van enige fetus selle nie. Die argument dat die Covid-inenting oneties is, is dus nie in hierdie geval enigsins ‘n kwessie nie. Ons hoop dat die druk wat van Christene se kant gekom het, wetenskaplikes sal oortuig om ook nie in die geval van die ander entstowwe van fetus sellyne gebruik te maak in die toetsing en ontwikkeling van entstof nie.

Christene is pro-lewe 
Die rede waarom baie Christene pro-inenting is, is omdat ons die lewe as ‘n gawe van God beskou en Christene gevolglik pro-lewe is. Die inenting kan ‘n belangrike rol speel in die kwaliteit van lewe van mense wat geteister word deur die virus asook die lewensverwagting van mense wat ingeënt word, wat andersins die kans sou hê om as gevolg van die virus te sterf. Soos reeds in ‘n vorige bydrae gemeld, moet ons ons nogtans aan die Raad van God onderwerp in die beslissing oor lewe en dood. God gee egter aan die mens ‘n verantwoordelikheid om op so wyse oor die skepping te heers dat kultuurprodukte omskep mag word tot voordeel van die mens en tot beskerming van lewe en lewensmiddele. Is dit dan die wetenskap of die Bybel wat bepaal wat om te doen? Die antwoord is: eerstens die Bybel, maar beide speel ‘n rol! Die Bybel wys die koers, die wetenskap gee die middele.

Nie “wat is tot voordeel” nie, maar “wat is verdedigbaar”

Die vraag moet dus nie wees: wat is tot “voordeel” van die mens nie, maar wat is Bybels verdedigbaar. Daar is baie dinge wat tot voordeel van die mens is, byvoorbeeld om ryk te wees, maar dit is nie in alle opsigte Bybels verdedigbaar nie en moet dus getoets word aan die beginsels van die Woord oor rentmeesterskap, besit en spandering van eiendom ensovoorts. In dieselfde lig kan ons nie die spreekwoordelike kind met die badwater uitgooi en soos in die vraag hierbo sê: “dan moet ons aborsies goedkeur” nie. Toe Josef deur sy broers aan die Egiptenaars verkoop is, het God die misdaad gebruik om Jakob se seuns te red van hongersnood en op hierdie wyse sy volk Israel in die lewe gehou (vgl. Genesis 45:5). Let veral op Josef se woorde aan sy broers: “Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur”. Ten spyte van die misdaad, word die beskikking van God bely in die lot van mense en kan selfs sonde deur God gebruik word om sy kerk te dien en tot hulle voordeel te strek. Natuurlik kan ons nie in dieselfde sin beweer dat ons ons broers moet verkoop om te sien of daar iets goed daaruit kom nie, maar kan ons ook nie ontken dat waar die onreg van die verkoop van Josef wel plaasgevind het, God selfs die bose gebruik het in sy diens nie.

Dit maak natuurlik nie die sonde van Jakob se broers reg nie, maar dit maak wel in terugskoue sin dat God se Raadsplan op onverwagse wyses ‘n wending neem wat selfs ruimte laat vir die werklikheid van die sonde.

Ten slotte

Of iemand pro- of anti-vaksinering is, is ‘n ingesteldheid wat nie anders hanteer kan word as dat ons as Christene oor die vraagstukke praat en duidelikheid vanuit die Skrif daaroor kry nie. Die meerderheid se opinie kan nie geld nie, ons moet vra: wat is reg? Daar is nog talle etiese-, teologiese-, sosiale-, biopolitieke-, en filosofiese kwessies rondom die virus waarmee ons worstel en wat ons kan uitklaar deur met mekaar nugter oor die kwessies te praat met die Woord as ons lig op die pad. Kom ons doen dit in die gesindheid van die Woord wat ons in Galasiërs 5:15 soos volg vermaan: “Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie”.

 

Verwysings:

[1] https://www.nebraskamed.com/COVID/you-asked-we-answered-do-the-covid-19-vaccines-contain-aborted-fetal-cells?fbclid=IwAR2Z6uso9c4GUTN1mnlEK4oR5JKkxzfJxkHIPSzYarlwH7sxAz1DJM6sb_E

[2] https://www.christianitytoday.com/ct/2019/april-web-only/why-christians-refuse-measles-vaccinations-moral-grounds.html

[3] https://www.chop.edu/centers-programs/vaccine-education-center/vaccine-ingredients/fetal-tissues

[4] https://www.sciencemag.org/news/2020/06/abortion-opponents-protest-covid-19-vaccines-use-fetal-cells