Webblad nuus

Vriende,

die afgelope tyd het verskeie van die lesers van hierdie blad gevra of ek nie van my preke onder die “Preke”-skakel wil plaas wat as hulpmiddel kan dien in voorbereiding nie?Hoewel ek nie onwillig is om te help nie, weet ons mos dat die Prediker ons gewaarsku het: “…aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees” (Pred. 12:12). Aangesien die studie van die Skrif in besonder vermoeiing van die vlees vra om te verstaan, wil ek nie ‘n struikelblok voor iemand plaas terwyl ek goed bedoel het nie. Dit gebeur ongelukkig dat, omdat ons maar gebarste erdekruike is, iemand dalk in ‘n gewoonte kan verval om sy preek met aanhalingstekens te begin en eindig.

Om die rede het ek gedink om nie die preke afdeling verder op die blad te hou nie, aangesien daar tot dusver net teksgedeeltes was en ek gepeins het oor die kwessie of ek meer moet waag (of nie moet nie). Maar, ek dink dat daar tog ruimte is waar ek van hulp kan wees. Ek is deeglik bewus van die behoefte daarbuite en die druk waaronder daar in gemeentes gewerk word, en daarom wil ek graag ‘n bydrae lewer, selfs al kan ek net help om ‘n gedagte te stimuleer, koers te gee of dalk ietsie ekstra by ‘n reeds-bestaande tema te voeg.

Ek het besluit om in die plek van die “Preke-afdeling” ‘n nuwe afdeling te skep naamlik “Eksegese en preekhulp”. Soos die tyd toelaat, sal ek begin om van my gedagtes, eie eksegetiese aantekeninge, voorgestelde preeksketse en ander moontlike hulpmiddels in daardie afdeling te plaas wat ek glo vir u van waarde en nut kan wees. Selfs al is jy nie ‘n leraar nie, maar net ‘n goeie gelowige wat die “blog” volg om ander redes, meen ek kan dit vir jou ook bruikbaar wees. Ek sal julle op hoogte bring sodra daar iets nuttig is.

Neem asb. die vrymoedigheid en moedig ander kollegas ook aan om op die blad in te teken dan maak dit die ekstra werk net soveel meer die tyd werd!

U kan solank gaan kyk by die skakel: https://gdssmit.com/artikels/ het ek ‘n hele aantal nuwe artikels geplaas. Snuffel gerus daar rond.

Groete tot later.

GS