Kinders by die Nagmaal
Kinders by die nagmaal
prof. Gerrit Smit
Deur die eeue was die Gereformeerde kerke dit eens dat kinders nie toegelaat kan word om die nagmaal te gebruik nie. ‘n Kind kan eenvoudig nie aan die vereistes soos hierbo gestel, voldoen nie. Opvoedkundiges het deur navorsing vasgestel dat ‘n kind eers rondom sy tiende lewensjaar werklik ‘n sondebesef begin ontwikkel. Hoe kan hy homself dan mishaag oor sy sonde? Of werklik die verskriklikheid van sy vervloeking verstaan? Godsdienstige handelinge het vir hom nog geen diepere betekenis nie. Wat verstaan hy dan van die tekens van brood en wyn? En sy saligheid hang kragtens die denke van hierdie ouderdomsgroep nog hoofsaaklik van sy eie verdienste af. Hoe kan hy dan verstaan dat Christus se lyde en strewe sy sonde bedek?
Selfs in die daaropvolgende lewensjare is daar nog die egosentriese neiging om te soek na eie voordeel en is daar nog nie werklik sprake van ‘n standvastige geloofslewe wat gebou is op die sekerhede in die Skrif nie.
Om te beweer dat die kind, net soos volwassenes, bewustelike geloofsversterking deur die nagmaal ontvang, is dus ook nie waar nie.
Hoe kan daar diep selfondersoek, wat die nagmaal voorafgaan, van die kind verwag word?
Calvyn vra: As slegs diegene, wat besef waaroor die nagmaal handel en wat op ‘n waardige wyse kan eet en drink, die nagmaal kan gebruik, “waarom sou ons dan vir ons teer kindertjies gif aanbied as lewendmakende voedsel?” Eers teen skoolverlatingsouderdom (rondom graad 11) kies die kind met verantwoordelikheid sy eie godsdienstige staanplek. Dan eers het hy die volwassenheid om finaal te sê wat sy godsdienstige oortuiginge is.
‘n Vae begrip van dit waaroor die nagmaal handel of ‘n blote verklaring dat ek in die Here glo of Hom liefhet, is nie genoeg om die eis van 1 Kor. 11 na te kom nie.
Om hierdie rede moet elke verbondskind eers sy/haar onderrigjare in die Verbondsonderrig deurloop en dan belydenis van geloof aflê voordat hy/sy toegelaat word om die nagmaal te gebruik. Die res van die gemeente wat saam met hom/haar aansit, weet dan ook, kragtens die openbare belydenis van geloof, dat hy/sy dieselfde glo.